Is jou senuweestelsel oorlaai? Die nuwe welwees-neiging waaroor almal praat

Voel dit soms of jy konstant “aan” is? Jou gedagtes is besig, jy sukkel om af te skakel en jy voel uitgeput, al het jy nie noodwendig meer gedoen nie. As dit bekend klink, mag dit beteken dat jou senuweestelsel oorlaai is, en jy is nie alleen nie.

Een van die grootste welweesgesprekke van die oomblik gaan nie oor die nuutste oefenprogram of dieet nie, maar eerder oor senuweestelselregulering, die kuns om jou liggaam uit ‘n konstante gevoel van spanning terug te bring na ’n gevoel van kalmte, rus  en herstel.

In hierdie artikel deel ons tekens dat jou senuweestelsel dalk oorlaai is, en vyf eenvoudige maniere om jou senuweestelsel te kalmeer. Deur Justine Kroes

Wat beteken dit wanneer jou senuweestelsel “oorlaai” is?

Jou outonome senuweestelsel beheer funksies soos asemhaling, hartklop en stresreaksies. Dit bestaan uit twee hoofstelsels: die simpatiese senuweestelsel (“veg of vlug”) en die parasimpatiese senuweestelsel (“rus en herstel”).

Volgens dr. Aditi Nerurkar, ‘n Harvard-geneesheer en streskenner, leef baie mense vandag in ‘n toestand van kroniese mikrostres. Dis nie noodwendig een groot traumatiese gebeurtenis nie, maar eerder honderde klein stresfaktore, konstante kennisgewings, werksdruk, gesinsverantwoordelikhede en die gevoel dat jy altyd beskikbaar moet wees. Wat jou liggaam voortdurend op hoë gereedheid hou.

Wanneer dit oor lang tye gebeur, kry jou liggaam min geleentheid om werklik te herstel.

Tekens dat jou senuweestelsel dalk oorlaai is

  • Jy hoef nie ‘n mediese diagnose te hê om die impak van chroniese stres te ervaar nie. Algemene tekens sluit in:
  • Jy voel voortdurend moeg, selfs ná genoeg slaap.
  • Jy raak maklik geïrriteerd of emosioneel.
  • Jy sukkel om te konsentreer.
  • Jy voel rusteloos wanneer jy probeer ontspan.
  • Jou slaapkwaliteit verswak.
  • Jy ervaar gereeld spanning in jou nek, skouers of kakebeen.
  • Jy voel asof jy altyd iets vergeet of gaan agter raak.

Hierdie simptome beteken nie noodwendig iets is ernstig fout nie, maar dit kan ‘n aanduiding wees dat jou liggaam meer hersteltyd nodig het.

“Herstel is waar groei plaasvind.”

Neurowetenskaplike dr. Andrew Huberman van Stanford Universiteit (en gasheer van die potgooi HubermanLab) verduidelik dat stres nie die vyand is nie. Ons liggame is ontwerp om kort periodes van stres te hanteer, mits dit opgevolg word deur voldoende rus en herstel. Sonder dié balans bly die liggaam langer in ’n vlak van verhoogde waaksaamheid. Die sleutel is om gereeld jou liggaam terug te bring na ‘n vlak van herstel.

Navorsing wys dat chroniese hoë vlakke van die streshormoon kortisol mettertyd slaap, immuniteit, geheue en selfs besluitneming kan beïnvloed. (lees meer oor kortisol hier) Juis hierom fokus moderne welweespraktisyns al hoe meer op herstel eerder as om net harder te werk of meer te oefen.

Vyf eenvoudige maniere om jou senuweestelsel te kalmeer

1. Asemhaling, stadiger as wat jy dink nodig is

Stadige, diep asemhaling aktiveer die parasimpatiese senuweestelsel. Huberman beveel onder meer die sogenaamde physiological sigh aan; dit verwys na twee kort inasemings gevolg deur ‘n lang, stadige uitasam om spanning vinnig te verminder.

Lees: Asemhalingstegnieke en wenke

2. Kry oggendsonlig

Blootstelling aan natuurlike lig binne die eerste uur nadat jy wakker geword het, help om jou interne liggaamsklok te reguleer. Dit ondersteun beter energievlakke gedurende die dag en verbeter dikwels slaapkwaliteit in die aand.

Lees: 7 Redes waarom oggendsonlig goed is vir jou

3. Stap sonder afleidings

‘n Rustige stap sonder jou selfoon of oorfone gee jou brein kans om te “ontlaai”. Studies wys dat tyd in die natuur stres kan verminder, bui verbeter en geestelike uitputting verlig.

Lees: Stap, stap so: die vele voordele van aanhou beweeg

4. Skep klein oomblikke van rus

Jy hoef nie ‘n uur te mediteer nie. Selfs vyf minute waarin jy doelbewus diep asemhaal, ‘n koppie tee geniet of stil sit sonder skerms, gee jou senuweestelsel ‘n geleentheid om te herstel.

Lees: Mikro meditasiewenke vir ‘n besige leefstyl

5. Beskerm jou slaap

Goeie slaap is een van die kragtigste vorme van herstel. Beperk helder skerms voor slaaptyd, hou jou slaapkamer koel en probeer om elke dag ongeveer dieselfde tyd te gaan slaap.

Slaap bly die beste medisyne. Die American Psychological Association (APA) wys daarop dat chroniese stres slaapkwaliteit kan benadeel, terwyl onvoldoende slaap weer stresvlakke verhoog, ‘n kringloop wat moeilik is om te verbreek. Daarom is gesonde slaapgewoontes een van die belangrikste maniere om jou senuweestelsel te ondersteun.

Lees: 15 Beste wenke vir beter slaap

Hier’s Stylvol se wenke vir jou eie 7 dae senuweestelsel herstel en reset

Jy hoef nie jou hele leefstyl oornag te verander nie. Begin met klein gewoontes wat jou liggaam help om van “veg of vlug” na “rus en herstel” oor te skakel.

Maandag: Kry 10–15 minute oggendsonlig voordat jy na jou skerm kyk.

Dinsdag: Gaan stap vir 20 minute sonder jou selfoon of oorfone.

Woensdag: Drink jou middagkoffie vroeër en kies ná 14:00 eerder kruietee of water.

Donderdag: Doen vyf minute stadige asemhaling voor jy gaan slaap.

Vrydag: Skakel alle kennisgewings vir een uur af en gee jou brein ‘n digitale blaaskans.

Saterdag: Bring minstens 30 minute buite deur – in ‘n tuin, park of op die strand.

Sondag: Lees ‘n boek, steek ‘n kers aan of geniet ‘n warm bad.

Hierdie klein mikrogewoontes laat jou liggaam besef dit is veilig om te ontspan. Want wanneer jou liggaam veilig voel, funksioneer alles beter, van jou energie en konsentrasie tot jou slaap, emosies en algemene lewenskwaliteit.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Is slaap ’n nuwe status-simbool?
error: Content is protected !!