slaap
slaap

15 Beste wenke vir beter slaap

Hierdie wenke vir beter slaap sal hopelik help om jou liggaam se slaap-wakkerwees-siklus (sirkadiese ritme) te herstel sodat dat jy beter voel. ’n Slegte slaapritme of gebrek aan slaap is nie net sleg vir ons gesondheid nie, maar kan ook veroorsaak dat ons meer buierig is. Deur Suzanne Kotze

Slegte slaap of gebrek aan slaap is nie net sleg vir jou fisiese gesondheid nie, maar kan ook jou emosionele gesondheid en geestesgesondheid beïnvloed. Volgens ’n studie kan dit selfs veroorsaak dat jy meer buierig is.

So volgende keer wanneer jy kort van draad is of lus voel om te gil, dink ’n bietjie oor jou slaap-wakkerwees-patroon (sirkadiese ritme). “

As jy onderliggende depressie het, kan jy selfs nog erger geraak word hierdeur. Enige onreëlmatigheid aan jou interne horlosie, slaappatrone en lig-donker-patrone (soos wanneer die son opkom en sak) kan veral gemoedsteurnisse veroorsaak by mense met depressie of onderliggende depressie. En na hierdie jaar meen baie sielkudiges dat die meeste van ons aan ’n laegraadse depressie lei. Dus is gesonde slaap veral nou belangrik. 

“Ons samelewing is so gefokus op onmiddellike bevrediging dat ons ook verwag om onmiddellik aan die slaap te raak. Dit is egter nie normaal nie. Ons moet eers ons brein kans gee om af skakel na die besige dag.”

Kaapse psigiater Dr. Laura Comrie.

Beste wenke vir beter slaap

Dr.Comrie deel die volgende

1. Begin rustig raak so twee ure voor slapenstyd

Hou op werk, e-posse stuur of na sosiale media kyk twee uur voor jou slapenstyd.

2. Roetine is belangrik.

Probeer om so veel as moontlik by ’n roetine te hou van wanneer jy gaan slaap en opstaan. Dit laat jou brein toe om ’n voorspelbare sirkadiese ritme (ons interne klok wat ons slaap-wakkerwees-siklus beheer) te onwikkel. 

3. Eet vroeër en ligter

Probeer om nie te laat te eet nie, en vermy swaar maaltye en ook brandrissies of sterk kerrie. 

4. Beperk alkohol, nikotien en kaffiëne

Koffie, alkohol, sjokolade en sigarette is veral sondebokke vir sleg slaap. Moenie vergeet dat baie tee ook kaffiëne bevat nie. Rooibos en kamilletee bevat nie kaffiëne nie. 

5. Kies sagter, warmer(geler) lig vir jou slaapkamer

Sagter lig stuur ’n boodskap na jou brein dat dit aand is en tyd om te rus. Onthou om nooit koue blou gloeilampe in jou slaapkamer te gebruik nie, want daglig bestaan veral uit blou ligstrale. 

6. Hou ’n skryfboekie langs jou bed

As jy wakker word of nie kan slaap nie, skryf dringende gedagtes of werk wat deur jou kop maal, neer. Jy kan in die oggend daaraan aandag gee.

7. Kies ’n vervelige boek of oudio-boek

Vermy dit om enigiets wat stimulerend is, te lees, daarna te kyk of luister voor bedtyd. Kies ’n vervelige boek of luister na ’n oudioboek. Onthou net om ’n wekker vir jou oudioboek te stel, sodat jy nie in die middel van die nag deurmekaar wakker word met ’n gepraat in jou ore nie. 

8. Hou by ’n roetine

Maak jou aandroetine voorspelbaar en hou daarby; soos ’n warm bad, ’n koppie kamilletee of lees. 

9. Jou bed is vir slaap

Moenie in jou bed werk of reekse kyk as jy sukkel om te slaap nie. Jou brein moet die assosiasie maak met bed = slaap. 

10. Staan op as jy wakker lê en rondrol

As jy vir meer as ’n uur nie aan die slaap kan raak nie, staan op en gaan na ’n ander kamer waar jy kan lees. Moenie aanhou rondrol in jou bed nie. 

11. Maak seker jou kamer is rustig en kalm

Hou jou kamer aan die kant en vermy klotter of te veel goed wat rondstaan. Sagte beligting, die geur van laventel of kamille en gemaklike beddegoed (nie te warm of te koud nie) is belangrik. Oorweeg ’n waaier in die warm somer (en muskiet) maande. 

12. Bêre jou skerms

Fone, skootrekenaars en tablette straal blou lig uit, wat die boodskap aan jou brein stuur dat dit dag is. Om te lees op ’n Kindle is wel aanvaarbaar, want dit straal nie helder, blou lig uit nie. 

13. Strekoefeninge

Ligte rek- en strekoefeninge voor slaaptyd kan jou help ontspan. Hou dit rustig, want harde oefening voor jy bed toe gaan kan jou wakker hou.

14. Probeer om nie gespanne te raak oor min slaap nie

Dit sal dit net vererger. Sê vir jou brein dat dit nie die einde van die wêreld is as jy môre moeg is nie, jy kan dit hanteer.

15. Insomnia is nie ’n diagnose nie

Insomnia is ’n simptoon en nie ’n diagnose nie. Vra jou dokter of psigiater om onderliggende depressie, angstigheid, middelverslawing of mediese kwessies, soos slaap apnee, te ondersoek.

As geen van bogenoemde wenke werk nie, gesels met jou dokter of psigiater oor nie-verslawende slaap medikasie.

Ekstra bron. CIRCADIAN RHYTHM DISTURBANCES IN DEPRESSION by Anne Germain, Ph.D. and  David J. Kupfer, M.D.

Lees ook: Kan essensiële olies help vir slaaploosheid en angs?

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ses dinge wat Vanes-Mari du Toit se hoogswemrekord haar oor uithouvermoë geleer het
error: Content is protected !!