Vriendskap is van die mees betekenisvolle dinge in die lewe, maar volwasse vriendskap is nie altyd maklik nie. Hier is wat ons by Mel Robbins, wat self hiermee gesukkel het, geleer het. Deur Suzanne Kotzé.
“Elke persoon wat ek ken, sukkel met volwasse vriendskap, hetsy dit is hoe om vriendskappe te behou of om nuwe vriende te maak,” vertel Mel Robbins in haar boek The Let Them Theory. Hier is wat ons oor vriendskap in die boek geleer het.
Volwasse vriendskap is nie ’n groepsport nie, maar ’n individuele sport
In jou kinderjare is vriendskap ’n groepsport, maar volwasse vriendskap is meer ’n indivuele sport. Kinders spandeer tyd in dieselfde omgewing en skool en doen konstant goed in groepe. En dan kom jou twintigs, wanneer jy klaar studeer het/begin werk en almal spat uitmekaar. En ewe skielik is jy op jou eie. Jy word nie meer saam met die groep uitgenooi nie, jy begin eensaam voel. Vriendskap begin moeilik voel, jy voel asof jou vriende jou verlaat het, want jy verstaan nie die drie pilare van vriendskap, en hoekom jy ewe skielik eensaam voel nie.
Dit is belangrik om die drie pilare van vriendskap te verstaan
Mel deel met ons dat sy ’n rooi vlaggie vriend was omdat sy nie van hierdie drie pilare geweet het nie. En dit is juis omdat sy alleen gevoel het en gesukkel het met vriendskappe dat sy begin navorsing doen het.
1. Nabyheid
Hoe vêr of naby jy van jou vriende woon. Dit is makliker om ’n hegte vriendskap te smee met iemand wat jy gereeld sien. Mel het gekyk na ’n studie van MIT wat bevind het dat die enkele mees belangrike faktor in vriendskap fisiese nabyheid is. Hoe gereeld loop julle mekaar raak?
Hoeveel tyd julle saam deurbring maak saak
“Wishing to be friends is quick work, but friendship is a slow ripening fruit.”
Aristotle
As jy naby iemand bly, is dit makliker om meer tyd saam deur te bring. Mel gebruik ’n studie van die Universiteit van Kansas as voorbeeld. Die studie het bevind dat jy minstens 50 uur met iemand moet spandeer vir hulle om ’n oppervlakkige vriendskap te hê, 90 uur vir ’n ware vrienskap en 200(!) uur vir ’n diep vriendskap.
Min van ons het natuurlik soveel ure om te spandeer aangesien die meeste volwassenes die meeste tyd by die werk spandeer. Dit laat ’n mens natuurlik wonder hoekom jou kollegas dan nie jou naby vriende is nie? Dit het te doen met die tweede pilaar, die fase van jou lewe.
2. Die fase van jou lewe
Jy is dalk ’n nuwe ouer, pasgetroud, pasgeskei of enkellopend en dit beïnvloed jou vriendskap.

Wanneer jou kinders byvoorbeeld jonk is en jy saam met dieselfde ouers by kinderpartytjies en skoolfunksies is, sien julle mekaar gereeld en julle is in dieselfde lewensfase. Dan word die kinders groot, gaan na verskillende skole toe, of sommige vriende skei en bevind hulself in ’n ander lewensfase.
En soos in jou twintigs spat mense weer uitmekaar.
Mel deel dat sy gedurende hierdie lewensfase nie geweet het van die groot uitmekaarspat (soos sy dit noem) of die drie pilare van vriendskap nie. “Ek het gedink dit is persoonlik. Ek het gedink mense hou nie van my nie. Ek het verwag om ingesluit te word as mense saamkuier, en as ek nie genooi is nie, was ek seergemaak. Ek het dit persoonlik opgeneem en probeer vasklou aan die vriendskappe en net ’n vreemde energie begin uitstraal omdat ek wou vasklou.”
“Net omdat julle beste vriende was gedurende een lewensfase beteken dit nie dat julle beste vriende gaan wees gedurende die volgende fase nie.”
3. Energie wat verander
Jy in nie in beheer van fisiese nabyheid, of jou lewensfase nie, maar jy is in beheer van jou energie.
Energie in hierdie konteks is die gevoel tussen twee mense, soms kliek julle dadelik of glad nie. En hierdie gevoel moet jy vertrou. Soms kliek julle en julle is goeie vriende, maar die tipe energie wat jy met vriende gehad het, soos een of beide van julle groei, maak dalk dat julle net nie meer kliek nie.
Vriendskappe verbrokkel
Die verbrokkeling van ’n vriendskap vind gewoonlik plaas waneer een van die drie pilare verbrokkel. Dit is normaal, neem die drie pilare in ag en moet dit nie persoonlik opneem nie. Dit beteken egter nie dat julle nooit weer gaan vriende wees nie.
Alle vriendskappe hoef nie lewenslank te wees nie
Daar is sommige vriende wat in jou lewe is vir ’n rede, ’n seisoen of lewenslank. As ’n vriendskap jou moeg maak of as dit geforseerd voel en jy net bly vasklou aan die idee van die vriende wat julle eens op ’n tyd was, is dit erger as om eerder die vriendskap te laat gaan.
Dit is belangrik om te besef dat vriendskappe kom en gaan en dat dit nie persoonlik is nie. Hoe meer jy groei, hoe meer kom en gaan mense in en uit jou lewe. Moenie verwag om beste vriende met almal te word of om na alles genooi te word nie.
Wees buigsaam as dit by vriendskap kom
Aanvaar dat vriende gaan kom en gaan, en sommige vriendskappe gaan dalk gaan, maar kan ook weer terugkom. Laat hulle kom en gaan.
Vriendskap hou nie boek nie
Jy is dalk die een wat heeltyd boodskappe stuur en nooi en nie ’n reaksie kry nie. Maar doen hierdie omdat jy dit wil doen, en nie omdat jy ’n reaksie verwag nie. Die meeste van die tyd reageer mense nie met opset nie, maar daar is waarskynlik dinge wat in hul lewe aangaan waarvan jy glad nie weet nie.
Mense se dade wys wie hulle is
En ook of jy ’n prioriteit is of nie (en dit het ook waarskynlik met die drie pilare te doen.) Soms moet jy net ’n vriendskap laat gaan, eerder as om vas te klou.
Vriendskap en The Let Them Theory
Laat hulle
Aanbeweeg met hulle lewe, in ’n verskillende fase wees of nie nou met jou kliek nie. Jy kan nie jou vriende, of hulle omstandighede beheer nie.
Laat ek
- Ophou om van ander te verwag om verantwoordelik te wees vir my verhouding met hulle.
- Verantwoordelikheid aanvaar om verhoudings te skep.
- Meer buigsaam wees.
- Besef dat net omdat ek iemand nie sien nie, of die energie af is, dit nie beteken ons is vyande nie.
Fokus op wat jy kan beheer
Moenie vriende se aksie probeer verander nie, fokus op jou aksies en reaksies.
Laat gaan jou verwagtinge
Deur te dink ‘laat hulle’ hulself wees, laat gaan jy van die druk dat hulle op ’n sekere manier moet optree (wat jou dalk net kan teleurstel.)
Identifiseer ongesonde gedrag
As ’n vriend/vriendin se gedrag konsekwent negatief is, wys dit dalk die ware kleure van julle vriendskap en dan moet jy besluit of dit gesond is vir jou. Byvoorbeeld:
Iemand wat gereeld planne kanselleer
Laat hulle kanselleer en fokus om planne te maak met mense wat wel beskikbaar is.
Vriende wat jou nooit kontak nie
Laat hulle hul eie kommunikasiepas handhaaf en moet dit nie persoonlik opneem nie.
Mel maan dat jy hierdie teorie nie moet gebruik om gesonde vriendskappe op te blaas nie.
Lees ook: