oggendsonlig
oggendsonlig

7 Redes waarom oggendsonlig goed is vir jou

Oggendsonlig doen jou liggaam en siel goed, so staan gerus vyf minute vroeër op sodat jy ’n paar ekstra minute in die vroegoggend se sagte sonnetjie kan geniet. Van die voordele sluit in beter fokus en slaap tot selfs moontlike gewigsverlies.  Deur Suzanne Kotzé

Neuro-wetenskaplike Professor Andrew Huberman oor oggendsonlig

Neuro-wetenskaplike Professor Andrew Huberman van die Huberman Lab aan die Stanford Universiteit in die VSA vind oggendsonlig so belangrik dat hy al verskeie praatjies en podgooie hieroor gedoen het. “Om na oggendsonlig te kyk is onder my top vyf aksies om geestes- en fisiese gesondheid sowel as prestasie te ondersteun.

Die top vyf askies sluit in

  1. Slaap
  2. Beweging (oefen)
  3. Voedingstowwe
  4. (Son)lig
  5. Verhoudings

Luister of kyk gerus na Episode 63 Using Light (Sunlight, Blue Light & Red Light) to Optimize Health hier

Bring tyd in die oggendsonlig so deur

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is vyf tot vyftien minute twee tot drie keer per week voldoende. (Hoe ligter jou vel, hoe minder tyd het jy nodig).  Jy kan altyd vyf minute gedurende jou werksweek probeer doen en effens langer gedurende naweke. Moet egter nie te lank in die son deurbring nie, want anders doen jy weer sonskade op.

Geen sonskerm, sonbrille of brille met blouligfilters.

Probeer tyd in die oggendson deurbring so vinnig moontlik nadat jy wakker geword het (voor 10 is ideaal sodat jy nie brand nie).

Drink jou oggendkoffie of tee op jou balkon (in die somer) of eet ontbyt by jou tuintafel (sommer saam as gesin). Kom in die gewoonte om jou oë toe te maak en soos dassies op ’n klip jou gesig na die son te draai (maar moet natuurlik nie direk in die sonlig inkyk nie). 

As dit nie realisties vir jou is om hierdie tuis te doen voordat jy gaan werk nie, probeer om jou eerste koppie koffie/tee in die son te geniet tydens jou eerste werksbreuk (mits dit voor 10 is). Onthou net om jou sonskerm in te pak, en na die tyd sonskerm aan te smeer.

“Om dit deur ’n venster te doen sal ongelukkig nie werk nie, omdat belangrike liggolflengtes deur die venster uitfilter word,” sê prof. Huberman.

Die voordele van oggendsonlig

Oggendsonlig is veral voordelig omdat jy ’n kleiner kans het om te brand in die oggendson. (En hoe vinniger serotonien afgeskei word en melatonien vlakke verminder gedurende die dag, hoe beter.)

1. Dit help met fokus gedurende die dag

Sonlig help dat serotonien (ook bekend as die goedvoel hormoon) afgeskei word en help sodoende om jou kalm en gefokus te laat voel.

2. Dit kan help dat jy beter slaap

Jou liggaam begin melatonien vrystel sodra dit donker word. Dit help dat jy slaperig begin voel. Wanneer dit lig word, word minder melatonien blootgestel en vroeg-oggendsonlig help so om jou sirkadiese ritme (jou interne wakker-slaapklok) te reguleer.

3. Dit verbeter jou imuunsisteem

Ons liggame maak staat op sonlig om vitamien D te vervaardig. Wêreldwyd het ons ’n Vitamien D-tekort ’n groot probleem vir baie volwassenes. Vitamien D is uiters belangrik vir jou immuunstelsel. ’n Gesonde immuunstelsel kan help dat jy minder siek word en makliker herstel na byvoorbeeld ’n operasie.

Algemene tekens van vitamiene D-tekort sluit in

  • Moegheid
  • Slegter slaap
  • Word vinnig siek
  • Haarverlies
  • Swak spiere
  • Voel af of depressief

Let wel, as jy ’n Vitamien D-tekort het, sal jy Vit.D-aanvullings benodig. Praat gerus met jou dokter hieroor.  Meer tyd in die son alleen gaan ongelukkig nie jou vlakke genoegsaam opkry nie.

4. Moontlike gewigsverlies

Tydens ’n studie waar navorsers  van die Universteit van Alberta in Kanada siektes soos diabetes en obesiteit bestudeer het, het die navorsers per toeval uitgevind dat scWAT (subcutaneous white adipose tissue) krimp wanneer dit aan blou lig (wat in sonstrale voorkom) blootgestel word. Eenvoudig gestel, help dit ons selle om minder vet te stoor wanneer dit aan blou lig blootgestel word. Dit beteken ongelukkig nie dat jy jou ‘tjoepie’ gaan kan wegbak in die son nie.

5. Kan help met depressie

Dit is welbekend dat minder sonblootstelling geassosieer word met laer serotonien (wat tydens sonligblootstelling afgeskei word) wat op sy beurt weer kan lei tot depressie (veral winterdepressie. Lees meer hier) Wanneer ons tyd in die sonlig deurbring, stuur jou retina ’n boodskap na jou brein wat die afskeiding van serotonien (die goedvoel-hormoon) aanwakker.  Juis hierom word ligterapie gebruik om seisoenale depressie te behandel. Om depressief te voel, is juis ook een van die tekens dat jy dalk ’n Vitamien D- (wat deur sonlig geaktiveer word) tekort het.

6. Verminder spanning

Soos reeds genoem, help sonligblootstelling met jou sirkadiese ritme en dat meer melatonien saans afgeskei word. Melatonien (en ’n beter nagrus) help om spanning te verminder.

7. Dit is goed om sekere velsiektes te behandel

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan sonlig goed wees om velsiektes soos

  • Psoriase
  • Lupus
  • Vitiligo

te behandel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

error: Content is protected !!