Stap, stap so; die vele voordele van aanhou beweeg

Vroue wat saam stap is gelukkiger. Dit is een van die vele voordele wat navorsing oor stap bewys het. Stap kan jou gesondheid verbeter, kreatiwiteit aanmoedig en spanning verminder. Lees hier hoekom jy gerus jou tekkies moet aantrek en begin stap.. Deur Suzanne Kotzé.

Die vele voordele van stap

1. Vroue wat saamstap is gelukkiger

Hierdie is ’n plasing wat ek so rukkie gelede op Instagram gesien het. Dit het dadelik my aandag getrek, aangesien ek gereeld saam met vriendinne stap en dit een van my weeklikste hoogtepunte is. Dat vroue wat saamstap gelukkig is, is ’n stelling gemaak deur Joyce Shulman, skrywer van die boek Why Walk? Sy sê: “73% van vroue voel eensaam. Die vroue wat saam met hulle vriende stap is 2.5 keer minder geneig om eensaam te voel.” 

2. Stap help om verhoudings te verdiep

Hierdie is iets wat ek self ondervind het. Daar is iets wat gebeur terwyl jy stap, dalk is dit die aanhou beweeg, of die feit dat jy nie oogkontak maak terwyl jy stap nie, maar mens is geneig om goed te deel wat jy nie normaalweg sou deel as wanneer jy byvoorbeeld saam met iemand sou koffie drink nie. En Joyce beaam dit ook: “As ons stap het ons dieper, ryker gesprekke; deels omdat ons brein so wonderlik werk terwyl ons stap.”

3. Dit kan help om nuwe vriendskappe te vorm

In haar boek The Let Them Theory vertel Mel Robbins hoe sy gesukkel het om vriende te maak toe hulle na ’n nuwe dorp getrek het. Toe sy eindelik ’n potensiële vriendin ontmoet,  het hulle ’n afspraak gemaak om elke week op ’n gegewe tyd te gaan stap, en elke week het meer en meer mense by hulle aangesluit.

4. Stap kan spanning, angstigheid en depressie verminder

In  Why Walk deel Joyce Shulman dat stap goed is vir geestesgesondheid aangesien dit spanning, angstigheid en depressie kan verlig. Die stapritme kan help om ’n gevoel van kalmte te skep, helderheid verbeter en jou ook in ’n beter luim plaas. “Dit is ’n natuurlike wyse om jou kop skoon te maak en te herfokus.”

Volgens neurowetenskaplike en Universiteit van Stanford professor, Andrew Huberman, is dit veral natuurstappies wat voordelig is om spannig te verminder aangesien dit kortisolvlakke (die liggaam se spanningshormoon) verlaag. 

5. Dit kan kreatiwiteit aanmoedig

Jy kan jou kreatiwiteit ’n hupstoot van tot 60% gee deur vir 20 minute te stap. Dit is bevind deur ’n studie gedoen deur die Stanford Universiteit. Hulle het mense wat sittend en stappend was se kreatiwiteit vergelyk. Geen wonder die ontslape Apple stigter Steve Jobs was so lief daarvoor om so al stappend vergaderings te hou nie.

7. Dit is eenvoudig en toeganklik.

Jy het geen spesiale toerusting of lidmaatskap nodig om te stap nie. ’n Paar stapskoene en daar gaan jy.

8. Dit kan jou geheue verbeter

Navorsing deur dieNational Institute on Aging  het bevind dat die aanvang van oudersdomsverwante afname in kognitiewe funksie vertraag kan word deur gereeld te stap. So stap meer, vergeet minder. 

9. Dit is goed vir jou hart

Gereelde stap kan jou kanse vir hartsiektes verminder. Navorsing sê dat 30 minute se daaglikse stap, hartgesondheid kan verbeter deur verbeterede sirkulasie, bloeddruk te verlaag en ook kolesterol vlakke verlaag.

In een van sy podgooie van The Huberman Lab deel Andrew Huberman dat dit veral voordelig is vir jou hart as jy na etes stap. Stap val ook in die sogenaamde sone twee fiksheid, wat veral aanbeveel word vir mense wat geneig is tot hartsiektes.

10. Dit kan beroertes help voorkom

Matige fisiese aktiwteit soos stap, kan jou kans tot ’n beroerte aansienlik verminder. Dit is die bevinding van ’n studie deur die Journal of the American Medical Association.

11. Gewigsverlies

Stap verbrand kilojoules wat kan bydra tot gewigsverlies. Dit is veral bulte en heuwels wat help om meer kilojoules te verbrand, so maak seker jy sluit dit by jou roete in. Begin met ’n stadige opwarmingstappie vir so 5 minute, stap dan teen ’n vinniger pas.

Meeste treëmeters of sporthorlosies moedig 10 000 treë per dag aan en dit is ook deur ’n studie bewys dat deur 10 000 per dag te gee dit gewigsverlies kan help.

Stap is ook ’n maklike en dikwels meer volhoubare tipe oefening wat kan help dat jy ook jou gewig kan behou.

12. Sterkter spiere en beter balans

Stap help om spiere (veral in jou bene, heupe en lae rug) te versterk, wat ook help met buigsaamheid en balans. Fisioterapeut Carmen Barnard beveel juis stap (veral in effens ongelyke areas soos die natuur) aan om jou balans te verbeter.

Lees meer oor balans hier.

13. ’n Stappie na ete is goed vir jou spysvertering

Andrew Huberman verduidelik dat deur na ete te stap, jy jou liggaam help om van glukose ontslae te raak. Nadat jy geëet het, gaan jou liggaam ’n ‘gevoerde staat’ (fed state) binne, waar insulienvlakke hoër is en spysvertering aktief is. ’n Ligte 20-30 minute stappie kan help dat jou maag weer leeg word (so jy gaan waarskynlik wil toilet toe gaan na die tyd). Dit help dat jou liggaam van ’n gevoerde tot ’n vastende staat gaan, wat die metaboliese proses aanhelp.

Stapwenke

Maak stap deel van jou roetine

Soos ’n vinnige stappie om die blok na aandete.

Ontmoet vriende

Deur ’n vaste afspraak met vriende te hê, sal help dat jy opdaag en die oefening doen. Ons het ’n WhatsApp groepie waar ons stapuitstappies beplan.

Wees avontuurlustig met jou staproetes

’n Gewone maklike weeklikse roete is doenbaar, maar daag jouself gerus uit om nuwe roetes te verken. Ons bly nie verniet in een van die lande met die mooiste natuurskoon in die wêreld nie.

Daag jouself uit met jou hoeveelheid treë

Vandat ek besluit het ek wil elke dag 10 000 treë gee, stap ek baie meer. Selfs op dae wat ek oefenklasse gedoen het, stap ek sodat ek my treë kan inkry. Dit help met motivering.

Hou op om in jou kar te sit en wag

Hierdie is veral op toepassing van ma’s wat ure by die skool sit en wag. Klim uit jou motor en stap om die rugbyveld of om die skoolblok.

Hoe vinnig moet jy stap?

Andrew Huberman beveel aan dat jy grootliks in ’n sone twee tipe kardio moet bly as jy stap. Jy kan steeds gesels sonder om te uit asem te wees. (Jou hartspoed en asemhaling verhoog, maar nie soveel dat jy glad nie kan praat nie.) Hy beveel 150-200 minute van sone 2 kardio aan per week.

Belê in goeie skoene

As jy van plan is om baie te stap, belê in goeie stapskoene. Ek het ‘trail running’ skoene vir bergstappies en gewone oefentekkies vir padstap. En stapsandale, vir wanneer ek weet ons langs die see gaan stap en waarskynlik skoene wil uittrek om op die strand te stap. Dit is die moeite werd om vir ’n professionele pas te gaan en die gemaklikste en mees ondersteunende skoene te kry.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Hou op jou “snooze” knoppie druk, hier’s hoekom:
error: Content is protected !!