Hier is algemene oefen-irritasies, van ’n bra-band wat skaaf tot branderige oë en blou toonnaels. Kenners gee raad oor wat ons hieraan kan doen. Deur Suzanne Kotzé
Kenners se raad vir algemene oefen-irritasies
1. Skaaf onder jou bra-band

Die skerp brand van skaafplekke as jy in die stort klim na ’n harde lang oefensessie of hardloop is iets waarmee vele van ons maar te bekend is.
Liza Clifford van lizaclifford.com verduidelik dat dit baie belangrik is om nooit in ’n gewone bra te oefen nie, maar om ’n spesifieke sportbra te hê wat jy vir kort periodes dra terwyl jy oefen.
“Skaaf, enige plek op jou lyf is as gevolg van materiaal wat teen jou vel vryf of vel teen vel.
As jy skaafplekke onder jou bra-band het, is dit gewoonlik as gevolg van die twee redes:
Vel teen vel
Jou braband sit te laag en die vou onder jou borste skuur teen die bokant van jou bolyf en veroorsaak die skaafwond. ’n Te groot braband kan laag sit of jy het dalk nie jou bra in posisie getrek nadat jy dit aangetrek het nie.
Maak seker om die nodige verstellings, lig, oplig en trek te doen sodat jou borste mooi in jou bra pas, en jou braband net onder jou borste sit voordat jy begin oefen. Daardie minuut ekstra kan jou pyn spaar.
Materiaal teen vel.
As jou braband nie styf genoeg sit nie en die band oormatig baie beweeg bied dit geen ondersteuning nie.
Kompressiebra’s is veral sondebokke en doen beide van hierdie. Die meeste kompressie bra’s het nie ’n groot verskil in brabande nie en kan dan net ’n bietjie te los wees. Verder word borste saamgedruk met voue tussen jou borsweefsel.
Dit is so belangrik om die regte grootte bra te dra. ’n Professionele bra-pas behoort jou eerste stap te wees. Maar as jy dit nie kan doen nie, meet die deel onder jou borste met ’n maatband, en wat ookal daardie getal in duim is, is jou bra-grootte. Kyk gerus ons bra sakrekenaar hier; https://lizaclifford.com/pages/bra-calculator
Langafstand-atlete wat die regte grootte bra’s dra, sukkel dikwels wel met skaafwonde aangesien jy dehidreer terwyl jy hardloop, veral rondom 10-12km.
Ek beveel altyd aan dat jy jou bra een hakie kleiner maak as gewoonlik en dit weer kleiner maak na 12-15 kilometers aangesien die dehidrasie jou bra losser kan laat pas.
Onthou, net soos drafskoene, kan jou bra ook opgedra word. Dit lyk dalk nog nuut, maar die rek is dalk nie meer so elasties nie. As jy meer as drie keer per week hardloop, sou ek beslis aanbeveel dat jy minstens twee oefenbra’s moet hê.
2. Oë wat brand as gevolg van sweet in jou oë

Kaapse dermatoloog dr. Surentha Kannenberg gee raad
Hou sweet uit jou oë
’n Dik, wasagtige produk (soos Vaseline, of selfs ’n dik ekseem ‘balm’ op die wenkbroue en slape aangesmeer, vorm ‘n fisiese grens wat sweet aflei sodat dit eerder langs jou slape afloop as in jou oë. Wend dit 10-15 minute voor oefening aan.
‘n Ligte, parfuumvrye oogroom (spesifiek vir sensitiewe vel) kan wel help om die vel rondom die oë te beskerm teen die irriterende stowwe in sweet. Wend dit 15-20 minute vooraf aan, sodat dit kan absorbeer en nie in jou oë in spoel nie.
Sweetband vs. keps vs. handdoekie
Sweetband
Ja dit kan ’n ‘retro tennisspeler’ gevoel gee, maar dit vang wel sweet effektief voor dit afloop.
Oefenpet/keps
Dit sal help, maar is minder effektief as ’n eintlike sweetband omdat die materiaal nie die sweet absorbeer nie en die sweet steeds in die oë kan beland. ’n Goeie kombinasie om te oorweeg is om ’n pet saam met ‘n dun sweetband onderaan te dra, indien jy nie ’n volle sigbare sweetband wil dra nie.
Klein handdoekie
Hierdie is ’n baie praktiese opsie. As jy elke 5-10 minute jou gesig liggies afvee , verminder dit sweet-opbou aansienlik wat dan gaan voorkom dat dit afrol tot in jou oë. Kies ’n sagte, handdoek om verdere irritasie op sensitiewe vel te voorkom. Kombineer dit met die barrier produkte genoem, vir beste resultate.
So my aanbeveling: ‘n kombinasie van barrier room/salf, ’n dun, sagte hoofband (nie noodwendig ‘n dik sportband nie – daar is dun, modieuse weergawes) en ’n handdoekie wat jy byderhand kan hou vir liggies klad.
3. Vel sensitiwiteit/ekseem post-oefening
Dr Suretha beveel aan
Onmiddellike stappe na oefening
- Was jou gesig liggies met ’n geurlose, sagte reiniger (nie skrop of warm water nie – dit kan ekseem vererger).
- Druk liggies droog met ’n sagte handdoek (moenie vryf nie).
- Wend direk daarna ‘n voedende, geurvrye (parfuumvrye) vogroom aan terwyl die vel nog effens klam is – dit maak dat die vogroom ingeseël word en dus beter werk.
Probeer om hierdie binne 15-20 minute na oefening te doen om irritasie as gevolg van sweet te voorkom.
(Suzanne se wenk: ek hou geurlose gesigreinigingslappies in my motor, en vee my gesig dadelik na oefening hiermee af en spuit dan Eau Thermale Avéne watersproei aan).
Dit is ook belangrik om die dik barrier produk versigtig af te haal: anders gaan puisies en/of milia daaronder ontwikkel.
Indien ekseem opflikker
Maak seker om jou gesig versigtig te was met ekseem vriendelike was en spoel af met lou warm water. Terwyl jou vel nog klam is, wend jou ekseem vriendelike vogroom aan. Maak seker dat jy jou vogroom twee tot vier keer in die dag aan te wend as opflikker. As jy ‘n voorskrif ekseem room/salf het, mag dit nodig wees daarvoor. Indien nie sou ek aanbeveel dat jy ‘n dokter sien.
4. Blou/onsteekte toonnaels
Voetheelkundige Nelfrie Kemp gee raad
Blou toonnaels word veroorsaak deur trauma aan die naelbed onder die nael. Die verkleuring is die gevolg van bloed onder die nael en/of die nael wat van die naelbed begin loskom
Aanvanklik kan dit baie pynlik wees wanneer dit gebeur, weens druk wat onder die nael opbou. Om die pyn te verlig, moet die druk verlig word. Dit kan gedoen word deur ’n gaatjie in die nael te maak (verkieslik deur jou voetheelkundige) of deur die bloedblasie wat onder die nael gevorm het, onder steriele toestande te dreineer.
As die verkleurde nael nie pynlik is nie, stel ek voor dat jy dit net so laat. Solank die nael heel is, bly die omgewing onder die nael steriel. Groottoonnaels neem ongeveer ses tot nege maande om heeltemal uit te groei.
Los jou nael, wag dat die verkleuring saam met die nael uitgroei. As die nael begin loskom het, probeer om die los gedeelte af te knip. Vermy verdere trauma aan die area.
Oorsake
Blou toonnaels kan deur direkte trauma veroorsaak word, byvoorbeeld wanneer iets op jou nael val, maar ook deur eenmalige intense trauma tydens ’n wedloop of herhaalde trauma aan die area.
Skoene wat te groot, te klein, te smal of te wyd is, kan almal tot verkleuring van die toonnaels bydra. As jy jou skoenveters nie stewig genoeg vasmaak nie, kan jou voet ook binne-in die skoen rondskuif en trauma veroorsaak. Verkeerde sokkies kan ook tot blou toonnaels bydra.
5. Blase

Nelfrie beveel ook die volgende aan om blase te voorkom
Smeer Vaseline aan
Vir langer afstande, wedlope of staptogte sal ek aanbeveel dat jy Vaseline aan jou voete smeer. Dit dien as ’n smeermiddel wat wrywing tussen jou voete en jou sokkies of skoene verminder. Dit verminder ook wrywing tussen die tone en help om water en sweet af te weer. Vaseline kan dus die risiko van blase verminder.
Hou jou toonnaels kort
Dit is belangrik om jou toonnaels kort te hou wanneer jy oefen. Lang toonnaels kan teen aangrensende tone skuur en blase veroorsaak. Dit kan ook meer wrywing binne-in geslote oefenskoene veroorsaak, wat tot ingegroeide naels of skade aan die naelbeddens kan lei. Wees ook versigtig met dik lae jelnaellak op jou toonnaels, aangesien dit die wrywing binne-in jou skoene kan verhoog.
Dra die regte grootte skoen
Hou in gedagte dat jou voete swel tydens oefening. Dra dus altyd skoene wat genoeg ruimte bied om hierdie swelling te akkommodeer. Onthou nie alle skoengroottes is dieselfde nie. Kyk gerus hier https://www.instagram.com/p/DXs4YB2iroA/
6. Voet en hakpyn

As jy voet en of hakpyn kry wanneer jy met ’n nuwe tipe oefening begin, is verkeerde skoene dikwels die sondebok. Jou skoene is dalk te oud of jy dra intree-vlak skoene en begin dan te vinnig te veel met die oefening. Onthou ook, koop oefenskoene spesifiek vir die sport waaraan jy deelneem, hardloopskoene vir hardloop, gim skoene vir gim, padel skoene vir padel ens. Hardloopskoene is byvoorbeeld gemaak vir vorentoe beweeg en nie vir kant bewegings soos padel nie.
7. ’n Loopneus gedurende oefening
Vinnige asemhaling wanneer jy oefen laat droë, koue lug, stof of stuifmeel die neus binnedring, wat die neusslymvlies kan irriteer. Dit is bekend as oefening-geïnduseerde rinitis.
Oormatige slymproduksie vind plaas wanneer jou neus ekstra vloeistof produseer om die ingeasemde lug warm en vogtig te maak en dit te help suiwer.
Koue weer, chloor in swembaddens en lugbesoedeling kan hierdie reaksie uitlok.
Probeer om deur jou neus asem te haal, gebruik ’n soutwater-neussproei voordat jy begin oefen, of kyk wat die plaaslike stuifmeelvlakke is as jy buite oefen en gebruik medikasie (soos anti-histamien) hiervoor.





