Jy kan boks-asemhaal gebruik om jou meer ontspanne en gefokus te laat voel. Die feit dat dit so maklik is om te doen, en jy dit enige plek kan doen, maak dat hierdie diep asemhalingstegniek op die oomblik groot gewildheid geniet. Deur Suzanne Kotzé
17/03/2034
“Die meeste mense weet ons kan nie lewe sonder om asem te haal nie, maar min mense weet hoe belangrik dit is om reg asem te haal vir gesondheid, geestes- en fisiese voordele,” vertel neuro-wetenskaplike Professor Andrew Huberman van die Huberman Lab aan die Stanford Universiteit in die VSA in ’n onlangse podgooi How to Breathe Correctly for Optimal Health, Mood, Learning & Performance
Jou koolstofdioksied-toleransie en boksasemhaal
Om te toets hoe goed of sleg jou koolstofdioksied-toleransie is, beveel Huberman die volgende aan.
Hou ’n stophorlosie (soos op jou foon) byderhand
- Asem so drie keer diep in en uit deur jou neus
- Haal dan diep asem deur jou neus
- As jy gereed is om uit te asem, begin die stophorlosie
- Asem stadig deur jou neus uit tot jou long leeg voel
- Druk die stophorlosie
As dit jou minder as 20 sekondes neem, het jy ’n lae toleransie, 25-45 sekondes, medium en meer as dit ’n hoë toleransie.
En jy dink dalk maar koolstofdioksied is sleg vir my, hoekom wil ek meer koolstofdioksied in my liggaam opneem? Voordele van ’n hoër koolstofdioksied-toleransie sluit in: minder angstigheid (deur vlak asem te haal verhoog jy angstigheid), dit help jou om beter te hardloop en duik, verbeter energie, help met inflammasie en depressie.
“Om jou toleransie te verbeter, kan jy daagliks, of selfs net een of twee keer per week boks-asemhaling doen. Navorsing dui daarop dat selfs een keer per week voordelig is,” vertel Huberman.
Hoe doen jy boks-asemhaal

Stap 1: Asem deur jou neus in vir vier sekondes of tel stadig tot by vier. Voel hoe die lug jou longe binnegaan.
Stap 2: Hou jou asem op vir vier sekonders of vier stadige tellings.
Stap 3: Asem uit vir vier sekondes of stadige tellings.
Stap 4: Hou.
Herhaal
Boks-asemhaal wenke
Jy kan hierdie oefening enige plek doen. In jou kantoorstoel, of selfs in jou kar. As jy in ’n stoel sit, maak seker jou rug is teen die rugleuning en dat jou voete plat op die vloer is.
Begin deur normaal asem te haal vir ’n minuut en let daarop dat jou bors en maag op en af beweeg soos jy in en uit asem haal. As jou bors beweeg, maar jou maag nie, dui dit daarop dat jy te vlak asem haal. Probeer om doelbewus dieper asem te haal sodat jou maag ook beweeg. Jy behoort jou rug teen die rugkant van jou stoel of die oppervlak waarop jy lê te voel as jy uitasem. As vier sekondes vir jou te lank voel, kan jy begin met twee of drie sekondes. Hierdie sal veral geld as jou koolstof-dioksied toleransie laag is.
Die voordele van boks-asemhaal
- Dit kan jou help om minder paniekerig of gespanne te voel. Deur te tel help dit jou om jou fokus te verwyder van die situasie wat paniek veroorsaak.
- Dit kan help om jou weer te laat slaap as jy met insomnia sukkel.
- Dit kan help keer dat jy hiperventileer.
- Dit help om jou weer te laat fokus as jy ’n spanningsvolle dag het.
- Dit verlaag jou bloeddruk en verminder die spanningshormoon, kortisol.