Maak jy jou sosiale media oop, is daar iets oor kortisol en slaap. Dit het ons self laat wonder wat kortisol is en hoe dit nou eintlik ons slaap beïnvloed. Deur Suzanne Kotzé
Wat is kortisol en hoe affekteer dit jou slaap?
Kortisol is ’n steroïedhormoon wat deur die byniere geproduseer word en speel ’n sentrale rol in jou liggaam se stresrespons, metabolisme en immuunfunksie.
Dit is ook ’n sleutelreguleerder van jou sirkadiese ritme (die interne klok wat bepaal wanneer jy wakker en slaperig voel) is.
Daar word dikwels na kortisol as die ‘streshormoon’ verwys, maar dit is veel meer as dit, dit is ook belangrik vir jou gesondheid.
Volgens die bekende Stanford neurowetenskaplike, dr. Andrew Huberman, help kortisol jou om soggens wakker te word en gemotiveerd te voel om die dag te begin. Probleme ontstaan nie as gevolg van kortisol self nie, maar as gevolg van swak tydsberekening van die vrystelling daarvan.
“Jy word soggens wakker as gevolg van ’n styging in kortisol,” verduidelik Huberman. “Jy wil hê jou oggendkortisol moet baie hoër wees as jou nagkortisol.”
Die natuurlike daaglikse ritme van kortisol

Onder gesonde toestande volg kortisol ’n voorspelbare patroon:
• Piek vroeg-oggend (op sy hoogste vlakke 30-40 minute nadat jy wakker geword het), wat jou help om wakker en gefokus te voel
• Daal geleidelik deur die dag
• Bereik sy laagste punt in die nag, wat slaap toelaat om te begin. Melatonien piek weer hier.
Wetenskaplike navorsing toon dat verhoogde kortisolvlakke in die aand geassosieer word met probleme om aan die slaap te raak, korter slaapduur en swakker slaapgehalte.
‘n Studie gepubliseer in Sleep het bevind dat hoër kortisol voor slaaptyd slegter slaap op dieselfde nag voorspel het.
Kortisol en slaap is ’n tweerigtingverhouding wat mekaar beïnvloed.
As jy sleg slap, kan jou kan dit jou kortisolvlakke die volgende dag verhoog, terwyl chroniese stres en onreëlmatige roetines kan verhoed dat kortisol snags daal, wat die brein in ’n toestand van hiperwaaksaamheid hou.
Navorsing wys dat veral diep slaap belangrik is om kortisol te onderdruk, terwyl onderbroke slaap jou hormonale balanse kan versteur.
’n Kortisol-vriendelike slaapskedule
(Gebaseer op sirkadieae ritme-wetenskap en navorsing en aanbevelings deur Dr Andrew Huberman in verskeie van sy potgooie).

Soggens
Binne 30–60 minute na jy wakker word
- Kry 10–30 minute se sonblootstelling in die buitelug (verkieslik met geen sonbril aan nie.)
- Vermy dit om op jou foon te kyk voordat jy aan natuurlike lig blootgestel is.
Waarom dit werk: Oggendlig veroorsaak die natuurlike kortisolstyging wat jou sirkadiese ritme anker.
Kafeïen
- Neem kafeïen 90–120 minute na wakkerword in
- Vermy kafeïen na 14:00
Middae
Beweging
- Oefen vroeër in die dag (soggens) indien moontlik
- Krag- of hoë-intensiteit oefening voor 17:00
Waarom dit werk: Intense oefening later kan aandkortisol verhoog.
Maaltye
• Eet gebalanseerde maaltye met proteïene en komplekse koolhidrate
Waarom dit werk: Stabiele bloedsuiker voorkom kortisolpieke.
Laatmiddag en aand
Na 18:00
- Verdof binnenshuise ligte
- Vermy oorhoofse beligting; gebruik eerder lampe
Waarom dit werk: Helder lig vertraag die aanddaling in kortisol.
Na 20:00
- Vermy emosioneel stimulerende inhoud (e-posse, nuus, intense TV)
- Slegs ligte aktiwiteite: lees, strek, gesprekke
Waarom dit werk: Geestelike stres hou kortisol hoog.
Voor-slaap roetine (dieselfde elke aand)
60–90 minute voor slaaptyd
- Warm stort of bad
- Sagte asemhaling (stadige neusasemhaling of fisiologiese sug)
- Ligte strek-oefeninge
Waarom dit werk: Sein veiligheid aan die senuweestelsel, wat kortisol toelaat om te daal.
Slaaptyd
• Mik vir dieselfde slaaptyd en wakkerwordtyd, selfs oor naweke
Waarom dit werk: Konsekwentheid versterk kortisol se natuurlike ritme.
Ten slotte
Kortisol is nie die sondaar nie, ons leefstyl en gewoontes is. Kortisol is noodsaaklik vir wakkerword, fokus en veerkragtigheid, maar dit moet op die regte tye styg en daal. Wetenskaplike navorsing en kenners soos dr. Andrew Huberman stem saam: hoë kortisol in die oggend en lae kortisol in die nag is die hormonale grondslag van goeie slaap.
Bronne
- Adam, E. K. et al. (2024).
Associations between pre-bedtime cortisol and same-night sleep outcomes.
Sleep, Oxford Academic.
https://academic.oup.com/sleep/article/47/9/zsae087/7642187 - Born, J., & Fehm, H. L. (1992). The neuroendocrine recovery function of sleep.
Psychoneuroendocrinology.
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/1557591/ - Liu, Y. et al. (2022). Cortisol regulation, circadian rhythms and sleep: A systematic review.
Clocks & Sleep.
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/35777076/ - Huberman Lab Podcast. Using light, sleep and behavior to optimize hormones.
https://hubermanlab.com





