Die lewe is besig, tussen propvol skedules, eindelose moet-doen lysies en ’n foon vol WhatsApp-groepie boodskappe met geen einde nie, het niemand nog die tyd vir uur-lange afskakel en mediteer nie. Hier is waar mikro-meditasie inkom, ’n vinnige maar kragtige mindfulness pouse wat soomloos in jou dag inpas. Lees meer oor die nuwe gewilde welwees- gewoonte op almal se lippe, hoekom dit werk en ’n paar wenke om jou eie mikro-meditasie-gewoonte af te skop. Deur Justine Kroes
Wat is mikro-meditasie?
Mikro-meditasie is die gewoonte om ’n bewustelike kort pouse/breek te neem vir ’n paar minute of selfs net ’n paar sekondes deur die loop van jou dag.
Dink daaran as ’n mini herstelknoppie (reset) vir jou brein, sy besige gedagtes en jou liggaam. Eerder as om te wag vir ’n pouse totdat jy heeltemal oorweldig of oormoeg is, sprinkel jy klein oomblikke van bewuste en intensionele stilheid in jou daaglikse roetine.
Jou mikromeditasie-sessies kan wissel van enigiets tussen 30 sekondes tot en met 5 minute. Die einddoel is nie ’n diep meditasie sessie nie, eerder ’n rustige bewustheid, stadige asemhaling en om bewus te wees van jou liggaam en die spasie waarin jy jouself bevind.
Navorsing het bewys dat, deur herhaaldelik mikro-pouses in jou daaglikse roetine in te sluit, kan stres verminder, fokus en konsentrasie verskerp en jou meer gegrond laat voel, sonder om nog ’n reusetaak op jou “moet-doen lysie” by te voeg.

Hier’s hoekom dit werk:
Dink aan mikro-meditasie as geestesgesondheids-versnaperinge (mental snack). Jy sal nie jou lyf heel dag laat hardloop sonder om te eet nie, net so behoort ons nie ons breine heeldag te laat hardloop sonder ’n ruskans nie.
Psigiater, neurowetenskaplike aan Brown Universiteit en Outeur van “Unwinding Anxiety” Dr Judson Brewer sê
“Deur selfs net ’n paar bewuste en intensionele asemhalings te doen kan jou uit ’n eindelose siklus van stres en angs help. Kort oomblikke van intensionele bewustheid wat herhaaldelik uitgevoer word, skep nuwe neurale bane in jou brein.”
Oor tyd met gereelde mikro-meditasie-aksies, beweeg jou brein uit “stress mode” eerder na een van balans en ’n gevoel van beheer.
Studies bewys dat kort mikro-oomblikke van bewustheid jou koritsolvlakke kan verlaag, konsentrasie kan verbeter en jou help om jou emosies beter te reguleer. Oor tyd en met gereelde oefeninge sorg hierdie mikro-aksies vir ’n gesonder en meer veerkragtige jy!

Anders as langer meditasiesessies is mikro-meditasies meer buigsaam, jy het nie ’n spesiale spasie nodig daarvoor nie, ook geen fancy kussings nie, al wat jy nodig het, is jou eie teenwoordigheid.
5 Maklike en praktiese mikro-meditasie idees:
1. Die 60 sekonde asemehaling

Asem deur jou neus diep in vir vier tellings.
Hou vir vier tellings.
Asem stadig uit deur jou mond vir ses tellings.
Herhaal vir een minuut, of waneer jy oorweldig en gestres voel. In jou kar, agter jou lessenaar, in die badkamer tussen vergaderings.
2. Die bewustelike slukkie

Verander jou koffie- of teebreuk in ’n oomblik van kalmte. Wees bewus van hoe warm die koppie in jou hande voel, hoe dit ruik, die geur en hoe dit smaak.
Maak hierdie doodgewone oomblik in jou dag ’n sensoriese ervaring vir jouself, selfs al is dit net vir ’n minuut. Die resultaat, jou brein en gedagtes raak rustiger, kalmer en meer helder.
3. Die liggaamskanderingspouse (body scan pause)

Maak jou oë toe en skandeer bewustelik jou liggaam van kop tot tone, en probeer om spanning in jou kakebeen, skouers of rug los te maak.
Hierdie vinnige inspeksie maak jou meer bewus van waar stres in jou lyf dalk wegkruip. Hierdie mikro-meditasie van liggaamskandering bring aandag na fisiese sensasies wat jy gewoonlik ignoreer. Dit help jou om strespatrone te onderbreek en jou liggaam se natuurlike ontspanningsreaksie weer te aktiveer.
4. Twee minute dankbaarheidstoets

Lys drie goed waarvoor jy dankbaar is, groot of klein. Doen dit sommer terwyl jy in ’n ry staan en wag, of net voor jy by ’n vergadering instap. Dit kan jou oggendkoffie wees, ’n vriend se boodskap, of bloot die son op jou gesig.
’n Dankbaarheidstoets skuif jou fokus weg van stres en lei jou brein om die positiewe raak te sien, wat jou gemoed en emosionele welstand ’n hupstoot gee.
5. Die stap-meditasie (commuter reset)

In plaas daarvaan om af op jou foon te kyk wanneer jy iewers heen loop, raak bewus van die ritme van jou treë wat jy gee, die koue (of warm) lug op jou vel en die klanke rondom jou. Selfs die kortste stap van jou kar tot by ’n gebou kan jy gebruik om jouself meer gegrond en rustig te laat voel.
Net so wanneer jy in verkeer is, by ’n rooi verkeerslig wag of op ’n bus sit, gebruik jou vervoertyd om diep asem te haal, meer bewus te raak van dit rondom jou in plaas daarvan om te stres oor die tyd op die horlosie wat verbygaan. Anker jouself en oefen asemhaling of herhaal saggies woorde soos “kalmte” en “vrede” wat jou dadelik meer rustig laat voel.
Mikro-meditasie gaan nie oor meer tyd vind nie, die fokus verskuif eerder om die tyd wat jy reeds het op ’n meer intensionele en bewuste manier te gebruik. Hierdie klein pouses en mikro-meditasie-oomblikke smelt nie die lewe se “besig” weg nie, maar dit skep oomblikke van helderheid, kalmte en ’n gevoel van balans en beheer.





