Tuinmaak: Goed vir jou tuin én jou siel!

Het jy geweet dat ‘n bietjie tuinwerk ‘n vorm van terapie kan wees? Van stresverligting en tyd in die vars buitelug tot meer beweging en ‘n gevoel van doelgerigtheid: daar is ’n hele klompie redes om jou hande vuil te kry.

Ons het by Gundula Deutschländer, medestigter en meestertuinier van die wêreldbekende Babylonstoren se tuine, gaan aanklop vir raad oor hoe om tuinmaak deel van jou welstandroetine te maak.

Gundula deel ook praktiese tuinmaakwenke en maklike plante om te plant indien jy sukkel om jou groenvingers aan die groei te kry. Deur Justine Kroes

Foto’s met vergunning van Babylonstoren

Hier’s hoekom tuinmaak terapeuties is:

1. Dit help jou om stadiger te leef

Ons is gewoond daaraan om verskeie dinge gelyktydig te doen. Tuinmaak bied die geleentheid om op een taak op ‘n slag te fokus. Of jy nou onkruid uittrek, plante snoei of ‘n nuwe bedding voorberei, dit vra dat jy in die oomblik teenwoordig moet wees.

Die natuur werk immers nie volgens jou besige dagboek nie. Plante groei teen hul eie pas en jy kan nie ‘n blom dwing om vinniger oop te maak nie.

“Die natuur se stadiger ritme gee my altyd die geleentheid om weer in balans te kom.”

2. Tuinmaak help om stres te verminder

Om tyd buite deur te bring, vars lug in te asem en met jou hande te werk, kan ‘n welkome blaaskans weg van daaglikse spanning bied.

Gundula vertel dat sy self ervaar het hoe haar gemoed verbeter het toe sy haar werk aangepas het om meer tyd buite deur te bring. Sy het besef dat selfs al is sy omring met die mooiste blommerangskikings in ‘n kantoor, dit nie dieselfde uitwerking het as om self in die tuin te werk nie.

Sy beskryf tuinmaak as ‘n manier om perspektief te kry en haar energie te fokus op dit waar sy werklik ‘n verskil kan maak.

“Terwyl ek aan struike vorm gee, snoei ek my frustrasies weg. My vrese trek ek soos onkruid uit.”

Gundula Deutschländer

3. Hou jou fiks en skei goedvoel hormone af

Tuinwerk vereis fisiese werk wat ons aktief hou. Spit, hark, snoei, plant en natmaak is alles maniere om meer beweging by jou dag in te werk. Jy buk, strek, stap en gebruik verskillende spiergroepe sonder dat dit noodwendig soos oefening voel.  Jy kan sterkte en soepelheid opbou terwyl jy kilojoules verbrand.  Wanneer ons fisies aktief is, skei ons endorfiene af wat ons laat goed voel

4. Dit gee jou ‘n gevoel van doelgerigtheid

Daar is iets besonders daaraan om verantwoordelik te wees vir iets wat groei. Wanneer jy ‘n plant versorg, leer jy geduld en om aandag te gee aan wat dit nodig het. Nie elke plant gaan groei nie en nie elke poging gaan suksesvol wees nie. Dit is deel van die proses.

Volgens Gundula behoort ‘n tuin ‘n veilige ruimte te wees waar jy foute mag maak en daaruit kan leer, sonder dat die natuur jou oordeel.

Skep so jou eie terapeutiese tuin

Jy het nie ‘n groot tuin, duur toerusting of groen vingers nodig om te begin nie. Selfs ‘n paar potte op jou balkon of patio kan ‘n beginpunt wees. Gundula se raad is om klein te begin en plante te kies wat by jou omgewing en leefstyl pas.

Kies die regte plante:

Let op hoeveel sonlig jou tuin ontvang, hoeveel spasie beskikbaar is en hoeveel tyd jy aan plantversorging kan bestee. Kies plante wat by hierdie omstandighede pas.

Wees waterwys:

Water is ‘n kosbare hulpbron, veral in Suid-Afrika. Hergebruik geskikte gryswater waar moontlik en plaas ‘n laag deklaag (mulch) om jou plante om vog in die grond te behou en verdamping te verminder.

Maak jou eie kompos:

 Versamel jou groente en vrugteskille en ander geskikte kombuisafval vir jou komposhoop. Kompos verbeter die grond se gehalte en voed die klein organismes wat noodsaaklik is vir ‘n gesonde tuin.

“Dit is met kompos wat jy begin toor in jou tuin.” Gundula

Nooi die natuur in:

Plaas vlak waterbakke waar voëls en bye kan drink en kies blomplante wat bestuiwers lok. Só maak jy jou tuin ook ‘n welkome ruimte vir ander lewende dinge, is Gundula se raad

Gundula se gunstelingplante vir beginners

As jy nie weet waar om te begin nie, stel Gundula ‘n paar maklike plante voor wat min aandag verg, maar steeds baie karakter aan jou tuin gee:

Malvas: Groei maklik op sonnige plekke en bring kleur aan jou tuin. Laat nuwe steggies eers op ‘n plek met oggendson wortelskiet voordat jy hulle na die vol son verskuif.

Spoorsalie (Plectranthus): Ideaal vir skaduryke dele van die tuin. Daar is verskeie soorte, van lae grondbedekkers tot groter struike.

Spekboom: Hierdie geharde Suid-Afrikaanse vetplant pas maklik aan en benodig min water. ‘n Goeie keuse vir ‘n watervriendelike tuin en boonop gesond om in jou slaaie in te sluit!

Roosmaryn: Een van Gundula se gunstelinge. Dit is gehard, ruik heerlik, lok bye en kan boonop in die kombuis gebruik word. Plant dit op ‘n sonnige plek in goed gedreineerde grond.

‘n Boom: Plant ‘n boom. Dit bied skaduwee, lok voëls en gee jou tuin ‘n gevoel van standvastigheid. Gundula se gunsteling is ‘n ou olienhoutboom onder wie se takke sy graag die voëls dophou.

Skep vir jouself klein tuin rituele

Tuinmaak hoef nie altyd oor spit, snoei en onkruid uittrek te gaan nie. Dit gaan ook daaroor om jou tuin te geniet.

Gundula se gunstelingtyd is vroegoggend, voor sonop. Sy beweeg graag tussen die rotse in haar tuin, doen ‘n paar strekbewegings en pluk vars kruie vir haar oggendtee.

“Dit is die doepa wat my dag seën.”

Gundula

Sy moedig jou ook aan om jou vingers in die grond te druk. Voel aan die tekstuur, let op hoe klam of droog dit is en ruik daaraan. Deur gereeld aandag aan jou grond te gee, leer jy om beter te verstaan wat jou plante nodig het.

As daar genoeg water beskikbaar is, stel sy voor dat jy jou tuin saans met die hand natmaak. Gebruik die geleentheid om rustig deur jou tuin te beweeg en te kyk wat aangaan.

En dalk is haar belangrikste raad ook die eenvoudigste:

 “Geniet jou tuin en deel in die geselskap van jou tuin.” Gundula

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Hidrasie informasie: 8 waterdrink wenke
error: Content is protected !!