Daar is soveel ‘bio-hacks’ (van saunas tot ysbaddens, wanneer jy wat moet eet en meer) wat almal beloftes van jonger voel, gesonder en langer leef inhou. Dit is egter die eenvoudige, volhoubare gewoontes wat ’n groter verskil kan maak. Deur Suzanne Kotzé
Die fokus: leef beter vir langer
Vir dekades was daar ’n groot fokus op teenveroudering, waar ons as’t ware alles probeer het om teen die ouderdom te baklei. Vandag is daar ’n groter fokus daarop om langer en beter te leef eerder as om jonger te lyk en alles moontlik (van kitskure tot uiterste oefeninge) te doen om die ouderdom te beveg.
En wetenskap en navorsing wys ook dat ons nie noodwendig groot, radikale ingrypings (wat ’n mens dalk ’n paar keer doen en dan opgee nie) nodig het nie. Kleiner, volhoubare gewoontes waarby jy gaan hou, is beter. Veral as dit kom by slaap, beweging en voorkomende sorg.
1. Prioritiseer slaap

As daar een gewoonte is wat konsekwent in langlewendheidsnavorsing voorkom, is dit slaap.
’n Onlangse studie in BMC Geriatrics het ’n duidelike verband gevind tussen slaapduur en gesonde veroudering. Hulle definieer gesonder veroudering as ’n lewe vry van chroniese siektes met goeie kognitiewe en fisiese funksie.
Goeie gehalte, matige slaap word ook geassosieer met beter fisiese, geestelike en kognitiewe gesondheid in latere lewe. (So het ’n oorsig in PubMed Central gewys.)
Slaap is wanneer jou liggaam herstel, hormone herstel en gifstowwe uit die brein verwyder word.
Die ideale tyd? Ongeveer sewe tot agt uur per nag, elke (of meeste) aande. Te min (of selfs te veel) is gekoppel aan swakker veroudering.
Maak goeie en gereelde slaap ononderhandelbaar.
Sukkel jy om te slaap? Ons het al vele artikels oor slaap geskryf. Lees gerus hier:
2. Beweeg meer

Jy het nie noodwendig strawwe oefensessies nodig nie. Lae impak oefeninge soos joga, pilates, stap en kragoefening is almal goeie opsies.
Navorsing wys al hoe meer dat gereelde fisiese aktiwiteit een van die grootste voorspellers van gesonde veroudering is.
Veral slaap en oefening saam. Navorsing wys verder ook dat fisiese aktiwiteit ’n sleutelrol speel om kognitiewe funksie te behou en om jou risiko vir demensie te verminder.
Op die oomblik word daar baie navorsing oor veral kragoefening gedoen. Dit help met die volgende:
- Om spiermassa te behou
- Om beendightheid te ondersteun en
- Om balans te verbeter (en valle te keer).
Lees meer hier:
3. Fokus op voorkomende gesondheidsorg

Daar is ’n groot fokus as dit by gesondheidsorg en langlewendheidswetenskap kom om eerder siektes te probeer voorkom as om dit te genees. In plaas daarvan om vir simptome te wag, probeer gesondheidsorg risikos identifiseer voordat siektes ontwikkel. (As jy op Discovery Vitality is, sien jy waarskynlik gereeld al die toetse wat hulle jou aanmoedig om te kry).
Dit sluit in
- Gereelde gesondheidsondersoeke
- Monitering van bloeddruk, cholesterol en glukose
- Ondersteuning van dermgesondheid en immuniteit
- Bestuur van stres en inflammasie
Navorsing wys dat selfs klein verbeteringe in jou daaglikse gewoontes, van beter slaap tot ’n stappie na ete, ’n beduidende verskil kan maak om ’n langer, gesonder lewe te lei.





