Om ’n ystergebrek te hê is deesdae taamlik algemeen. Hier is tekens dat jy dit dalk het en wat jy daaraan kan doen. Deur Suzanne Kotzé
22/04/2022
Tekens dat jy ’n ystergebrek het
Kaapse hematoloog, Dr Danie Kotzé van Constantiaberg Haemotology gee raad. “Onthou, gewoonlik is dit ’n kombinasie van simptome wat daarop dui dat jy ’n ystergebrek het, en nie net een nie. Om moeg te voel is iets wat ons almal nou en dan ervaar en is op sy eie nie ’n teken van ystergebrek nie.
1. Chroniese moegheid
Chroniese moegheid (as jy vir ’n maand of langer daagliks moeg voel) is een van die mees algmene tekens van ystergebrek. Moegheid kan veroorsaak word omdat jou mitochondria yster nodig het om energie te vervaardig. Chroniese moegheid kan egter ook ’n teken van anemie wees.
2. Duiseligheid
As jy gereeld duiselig voel kan dit ’n teken wees dat jou ystergebrek anemie kon veroorsaak het.
3. Bleekheid
Vel wat op sekere areas van jou lyf, soos jou gesig, binne jou onderste ooglede, handpalms of by jou naels bleker lyk, kan ’n teken van ystergebrek wees. Die maklikste is om jou handpalm teen iemand anders van dieselfde velkleur se handpalm te sit en die kleur te vergelyk. Die bleekheid word veroorsaak deur lae vlakke hemoglobien, wat aan bloed ’n rooi kleur gee.
4. Koue hande en voete
Swak bloedsirkulasie weens ’n gebrek aan yster kan veroorsaak dat jou hande en voete koud voel.
5. Spierpyn nadat jy geoefen het
Gereelde spierpyn, nie net na een strawwe oefensessie nie. Die yster is nodig vir energie in spiere.
6. Rustelose bene in die aand
As jy ’n ystergebrek het, kan dit veroorsaak dat minder dopamien afgeskei word. Daar is onsekerheid oor die oorsaak hiervan, maar een van die teorieë is dat dopamien werk as ’n boodskapper tussen ons brein en senustelsels om beweging te reguleer en koördineer.
7. Hare wat uitval
As jy ’n ystergebrek het, kan jou liggaam nie genoeg hemoglobien produseer nie. Hemoglobien is suurstofdraers vir die groei en herstel van selle in jou liggaam, insluitende selle wat haargroei stimuleer. Die haarverlies lyk gewoonlik soos tipiese manlike verdunning alopesie waar ’n ‘m’ vorm rondom die slape of by vroue waar verdunning rondom die kopvel sigbaar is.
8. Bros naels
Bros breekbare naels of lepelvormige naels (genoem koilonychia) kan ook ’n teken van ystergebrek wees. Yster is nodig vir die versterking van kollageen (waarvan jou nael gemaak is). Met lepelvormige naels krul die nael gewoonlik uitwaarts (soos ’n lepel) en kan gewoonlik ’n druppel vloeistof hou. So lyk dit.
9. Jy wil vreemde goed eet
As jy ’n hunkering het om vreemde goed (nie kos nie) te eet, soos ys of grond, noem ’n mens dit pica hunkering. “Een van my pasiënte het vertel dat sy stof op vensterbanke eet,” sê dr. Kotzé.
10. Konsentrasieverlies
Studies dui aan dat ’n ystergebrek jou kognitiewe funksies kan beïnvloed. Ma’s wat byvoorbeeld tydens swangerskap en geboorte ystergebrekkig is, se baba’s kan ook ystergebrekkig wees, wat later konsentrasieverlies kan veroorsaak. Juis hierom is dit so belangrik vir swanger vroue om ysteraanvullings te neem.
Die verskil tussen ystergebrek en anemie
Mense gebruik dikwels ‘ystergebrek’ en ‘anemie’ as sinonieme, maar dit is nie dieselfde nie. “As jy anemies is, is jou ystergebrek van so ’n aard dat daar nie genoeg rooibloedselle vervaardig word nie. Die vermoë van jou bloed om suurstof te dra word aansienlik verminder en jy kan kortasem voel. Ystergebrek is maar net een van die oorsake van anemie. Vit B12 tekort en outo-immuunsiektes kan ook oorsake van anemie wees.
’n Bloedtoets wat jou volbloedtelling en feretienstoor toets moet deur jou dokter aangevra word as jy vermoed dat jy anemies is.
Wat kan jy doen as jy ystergebrekkig is?
1. Yster of vit B12 aanvullings
Hierdie is veral baie belangrik vir vegetariërs of veganiste. Lees gerus hier: https://stylvol.co.za/plantgebaseerde-dieet-moet-hierdie-insluit/
Kyk vir yster aanvulings wat 15-30mg yster bevat afhangend van jou graad van gebrek. Om te voorkom dat jy ystergebrekkig is, kan jy ’n goeie multi-vitamien (wat ook yster bevat) daagliks drink.
2. Aanvullings tydens swangerskap
Swanger vroue kan dikwels ’n ystergebrek hê en dit is is noodsaaklik dat dit aangevul word.
3. Yster-oortapping
As die ystergebrek van so ’n aard is dat dit nie vinnig genoeg herstel kan word met orale aanvulings nie, of as daar newe-effekte is van orale yster, of absorpsie probleme is, is ’n yster-oortapping nodig.
Goeie bronne van yster in jou dieet
Rooivleis bly die beste bron van yster in jou dieët. Groente en vrugte bevat nie baie yster nie. Om genoeg yster in te kry as jy nie vleis eet nie, moet jy 2kg spinasie per dag eet. Daarom is aanvullings nodig as jy nie rooi vleis eet nie.
Lees ook: