Vitamien B12-tekort
Vitamien B12-tekort

9 tekens dat jy ’n vitamien B12-tekort het

Vitamien B12 kom in baie kossoorte voor, tog is  vitamien B12-tekort algemeen. Ons liggame maak nie self vitamien B12 nie, en soos ons ouer word, word ons liggaam se vermoë om dit op te neem ook minder.  Deur Suzanne Kotzé

17/02/2023

Kaapse hematoloog dr. Danie Kotzé gee raad

Waarvoor het ons vitamiene B12 nodig?

Vitamiene B12 is ’n belangrike voedingstof wat benodig word vir DNA-sintese, energie-produksie en in ons sentrale senustels om glukose na ons brein te vervoer. (Glukose is die hoof-energiebron van ons brein).

Tekens dat jy ’n vitamien B12-tekort het

1. Jy voel moeg

Vitamien B12-tekort

Hierdie is van die mees algemene klagtes. As jou vitamiene B12 vlakke laag is, word minder rooibloedselle vervaardig, wat veroorsaak dat minder suurstof deur die bloed gedra word. (Ook bekend as anemie).  Nog ’n rede vir jou moegheid is dat minder glukose by jou brein uitkom.

2. Jy voel stadig en sukkel om te konsentreer

Omdat ’n vitamien B12-tekortjou sentrale senustelsel negatief affekteer, voel baie mense dof en sukkel om te konsentreer en take af te handel. ’n Studie wys dat vitamien B12 vlakke afneem soos ons ouer word, en dat daar ’n korrelasie tussen swak geheue en lae vitamien B12 vlakke is.

3. Jy lyk bleek

As jy anemies is as gevolg van ’n vitamien B12-tekort, sal jy bleek lyk omdat daar minder rooibloedselle in jou liggaam teenwoordig is.

4. Hoofpyn

Hoofpyn is volgens studies veral algemeen onder kinders met ’n vitamien B12 tekort.  Studies wys ook dat migraine-lyers gereeld ’n vitamien B12-tekort het.

5. Jy voel depressief

As jou brein nie behoorlik kan werk nie (omdat dit nie genoeg glukose kry nie), is dit net logies dat jou geestesgesondheid ook beïnvloed sal word. Daar is veral ’n skakel tussen depressie en ’n vitamien B12-tekort.

6. Jou mond en tong is seer en/of opgeswel

Glossitis (daar word algemeen hierna verwys as red, beefy tongue) is die mediese term wat verwys na ’n rooi en seer tong met inflammasie en word deur ’n vitamien B12-tekortveroorsaak. Stomatitis (seertjies en inflammasie in jou mond) word ook hiermee geassosieer.

7. Die gevoel van naalde-en-spelde in jou hande en voete

Parestesie, wat verwys na die branderige of naalde-en-spelde gevoel in sekere dele van jou liggaam, soos jou hande en voete, is nog ’n teken.

Vitamien B12 help om miëlien te vervaardig. Miëlien is ’n beskermende lagie rondom ons senuwees en help senuwees om seine te gelei. ’n Tekort aan miëlien veroorsaak dat jou senuwees beskadig word en vandaar die branderige gevoel.

Parestesie kan egter ook ’n newe-effek van diabetes wees en juis daarom is dit so belangrik vir diabete om gereeld hulle B12 vlakke te laat toets.

8. ’n Verhoogde hartspoed

Omdat jou liggaam minder rooibloedselle het (wat suurstof vervoer), moet jou hart vinniger klop om op te maak daarvoor.

9. Jy voel kortasem

Minder rooibloedselle en ’n verhoogde hartspoed kan ’n oorsaak hiervan wees.

Wie is meer geneig  vir ’n vitamien B12-tekort?

  • Persone wie vegetariese of veganistiese diëte volg
  • Mense bo 60
  • Vroue wat swanger is of borsvoed
  • Persone met ’n mediese toestand (soos gastro-intestinale siektes) waar vitamien B12 nie behoorlik opgeneem kan word nie.
  • As jy medikasie soos metformin of teensuurmiddels neem.

Wat kan gedoen word aan ’n vitamien B12 tekort?

As jy ’n paar van hierdie tekens het, is dit wys om ’n afspraak by jou dokter te maak.

Jou dokter sal waarskynlik ’n volledige bloedtoets en vitamien B12-vlaktoets laat doen.

As jy ’n erge tekort het, benodig jy waarskynlik binnespierse inspuitings. Minder erge gevalle kan orale aanvullings neem. Orale aanvullings help egter baie keer nie, omdat vitamien B12-tekort dikwels die gevolg van gastro-intestinale siektes is (en die aanvullings dalk ook nie geabsorbeer word nie).

Maak ook seker dat jy genoeg  vitamien B12-ryke kosse soos vleis, vis en eiers by jou dieet insluit.

Lees ook: Jou plantgebasseerde dieet moet hierdie insluit: dieetkundige se raad

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vier goeie winterwelwees-gewoontes
error: Content is protected !!