En net só bekruip die jaareinde se dol gejaag ons! Eksamens, onderwysersgeskenke, jaareindfunksies, vriende-kuiers, vakansieplanne finaliseer, en wat van Kersfees? Hier is ’n paar kalmblywenke wat ons probeer volg om minder oorweldig te voel. Deur Suzanne Kotzé.
1. Gesinskalender op ’n sigbare plek
Al moet jy ’n maandkalender uitdruk en teen die yskas plak, skryf alles, van sportafskeide tot eksamendatums hierop neer. So weet die hele gesin wat wanneer gebeur.
2. Reël vroegtydig kinder/troeteldier-oppassers
Hierdie is ’n fout wat ek gereeld maak, ek los dit tot op die einde en voel dan gespanne en oorweldig om planne met die kinders en of diere probeer maak.
3. Sê nee
As jou kalender reeds oorvol is, sê (betyds) nee. Prioritiseer dit wat die belangrikste is, en ruim genoeg tyd in vir net by die huis wees ook.
4. Moenie tot op die laaste minuut wag om die kanselleer nie.
Jou gasheer/vrou het waarskynlik moeite en tyd spandeer. Deur op die laaste minuut te kanselleer, kan beslis ’n wrang smaak laat, en dan vermy julle mekaar dalk omdat dit ongemaklik word. As jy nie kans sien nie, sien eerder betyds nee. Onthou ook om jou jou gasheer/vrou te laat weet as julle minder of meer gaste gaan wees.
5. Eer jou (en jou familie) se sosiale battery
Urban Dictionary beskryf die term sosiale batterye as: “’n Metafoor vir ’n persoon se kapasiteit om met groepe mense te meng in een omgewing. Dit word dikwels deur introverte gebruik om hul gevoel van angstigheid te beskryf wanneer hulle met groot groepe mense moet meng. Dit is belangrik om nie net jou sosiale battery in ag te neem nie, maar ook die res van jou gesin s’n. Ekstroverte se kapasitieit vir sosiaal verkeer is natuurlik baie hoër, terwyl introverte meer alleen/tuistyd benodig. Neem dit in ag as jy planne maak. Dit verg natuurlik soms ’n kompromie of twee.
Lees meer wenke hier: 5 Wenke oor hoe om jou sosiale batterye te herlaai
6. Probeer boks-asemhaal as jy oorwedlig voel
Gebruik gerus hierdie tegniek (en leer dit sommer vir jou kinders ook!) wanneer jy oorweldig voel en moet kalm word. Hetsy dit voor ’n sosiale byeekoms, eksamen of vergadering is.

Lees meer hier: Wat is boks-asemhaal, hoekom is dit so goed vir jou en hoe doen jy dit?
7. Maak jou skoonheidsafsprake nou
Almal wil vars kleur en naels hê net voor die vakansie en dan moet jy skarrel om ’n afspraak te kry, maak dit vandag nog! Hierdie klein takies kan bydra tot baie ekstra spanning.
8. Geskenklysies
Besluit nou al hoe julle geskenke doen die jaar, en wat op almal se wenslysies is en probeer een keer ’n week een geskenk koop, en merk dit dan af. So hoef jy nie net voordat julle met vakansie gaan/net voor Kersfees die besige winkels in te vaar of bekommerd te wees of die geskenke betyds afgelewer gaan word nie.