Alopecia
Alopecia

Wat is alopesie?

Gewoonlik is min mense bewus van alopesie, of daar word min oor gepraat. Al is ons moeg van die  Oscars klap-sage, het dit minstens gehelp dat daar nou ’n groter bewustheid van alopesie is. Maar wat is alopecia en wat kan jy daaraan doen? Dermatoloog, dr. Surethe Kannenberg en trigoloog, Elma Titus help ons om meer uit te vind oor haarverlies.  Deur Suzanne Kotzé

01/04/2022

Wat is alopesie?

“Alopecia is ’n sinoniem vir haarverlies.”

Verskillende tipes alopesie

Alopesie areata

Dr. Suretha Kannenberg verduidelik:

“As die meeste mense na alopesie verwys,  verwys hulle (in die volksmond) na die outoimmuun variant genaamd Alopesie areata. Dit is ook die tipe wat Jada Pinkett Smith het.

Dit is ’n toestand waar jou eie immuunselle jou haarwortels aanval. Ek sien dit as ‘n kortsluiting in die baie komplekse immuunsisteem. Dit val slegs hare aan met pigment – dus nie grys hare nie!

Gewoonlik is dit geisoleer tot kolle op die kopvel, maar dit kan op enige behaarde area op die liggaam gebeur. Dit kan selfs wenkbroue en ooghare affekteer. Soms kan dit die hele kopvel aantas en ander kere selfs die hele liggaam.”


Die tipiese ouderdom waarop jy Alopesie areata ontwikkel

’n Mens kan dit enige tyd ontwikkel – selfs kinders. Maar jong vroue is oor die algemeen meer geneig tot outoimmuuntoestande. 

Eerste tekens

As jy skielik kaal kolle iewers op jou liggaam sien. Oor die algemeen sal daardie area ook vooraf jeuk of sensitief wees. Sien jou algemene praktisyn of dermatoloog wanneer dit ontwikkel sodat met behandeling begin kan word.  


Is dit geneties?

Dit gebeur wel in mense wat geneties geneig is tot outoimmuun toestande,  maar ’n mens is nie noodwendig bewus van familielede se toestande nie. Mens kry gevalle waar eerste graadse verwante (familie) wel beide Alopesie areata het. Meer algemeen sal ’n mens in een familielid vitiligo of skildklierprobleme kry en dan ’n ander alopecia areata. Die eersgenoemde twee toestande is ook outoimmuun toestande. 

Behandeling vir Alopecia areata

Vir baie jare het ons net kortisoon as behandeling gehad – rome, inspuitings en soms selfs pille vir aggressiewe gevalle. Dit is steeds die eerste linie behandeling daarvoor. Ons gebruik in sommige gevalle ook ligterapie (foto-terapie). Soms as dit baie weerstandig is, gebruik ons ander immuunonderdrukkende behandelings soos metotreksaat. Die nuwer behandelings is deel van die groep van JAK blokkers. Daar is egter steeds nie ’n wonderkuur daarvoor nie. Dis ’n kwessie van onderdrukking van die immuun- reaksie en hoop dat dit uitwoed, stop en dat die immuunsisteem ‘reset’. 

Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za

Androgenetiese alopesie (ANA)

Kaapse trigoloog Elma Titus verduidelik

In mans

In mans is androgenetiese alopecia bekend as manlike patroon verdunning (of male pattern thinning). Dit is gewoonlik oorerflik en ’n persoon word met die geneigdheid hiervoor gebore.

Tipiese ouderdom wanneer dit ontwikkel

MPT begin gewoonlik gedurende jou vroeë 20’s en een of beide van jou ouers sal dit ook hê.

Eerste tekens

Die hare begin gewoonlik rondom die slape verdun en vorm dan ’n tipiese m-vorm rondom die voorkop.

In vroue

In vroue veroorsaak androgenetiese alopesie nie daarin dat die kopvel kaal word nie, maar verdunning rondom die kopvel is sigbaar.

Tipiese ouderdom wanneer dit ontwikkel

Dit affekteer vroue in die ouderdomsgroep van menopouse of wanneer hulle hormoonvervangingsterapie kry of ’n histerektomie gehad het. Dit word egter al hoe meer algemeen onder jonger vroue ook gesien as gevolg van sekere voorbehoedmiddels, spanning, dieët of medikasie.

Behandeling vir androgenetiese alopesie

My raad sal beslis wees om bloedtoetse te doen om te identifiseer dat jy wel genetiese alopecia het.

Vir mans – Tiroïed, Feritien, Testosteroon, Vitamiene B12 en D

Vir vroue – Tiroïed, Feritien, Estrogeen, FSH, Vitamiene B12 en D

Nog redes vir haarverlies

  • Medikasie
  • Verandering in dieët
  • Spanning wat kortisolvlakke opstoot
  • Na geboorte tot borsvoeding
  • ’n Operasie
  • Vinnige gewigsverlies
  • As jy medisyne ophou gebruik

Enige haarverlies kan onstellend wees; selfvertroue en persoonlikheid kan aangetas word.

Wat om te doen as jy haarverlies ondervind?

As jy hare op die vloer in jou stort kry, mag jou probleem intern wees en nie geneties nie. Doen die bloedtoetse.

As jy ANA of MPT het, sal jy nie hare op die vloer kry nie, maar jy sal jou kopvel sien in die spieël of iemand sal dalk opmerk dat jou hare dun word.

Onthou hou hare is die barometer van jou lyf. As jy groot hoeveelhede hare verloor kan dit ’n teken wees dat iets intern fout is.

Behandeling vir haarverlies

Minoxidil 5 of 7%   

Propecia of Finpecia medikasie vir MPT

Om gereeld stimulasie van produkte deur gerekende maatskappye te gebruik.

Mesoterapie

PRP

Haaroorplantings

Nog vorms van alopesie

Telogen Effluvium

Oormatige haarverlies oor die hele kopvel. Die oorsprong van die haarverlies moet geïdentifiseer en reggestel word voordat die haarverlies sal stop. Dit sluit in om hare te verloor na Covid, anemie ens.

Alopesie Totalis

Die totale haarverlies op jou hele kopvel

AlopesieUniversalis

Die totale haarverlis van hare op die lyf

Traksie alopesie

Haarverlies wat veroorsaak word deur oormatige traksie; soos stywe poniesterte, vlegsels en en haarstukke.

Besoek trichology.co.zastst

Lees ook: Haarverlies: hoekom val my hare uit?

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
7 Wenke vir ’n jonger nek en decolleté
error: Content is protected !!