Met Moedersdag wat om die draai is, en ma’s wat geneig is om hulself laaste te stel, is hierdie jou teken om jou eie batterye te herlaai. Deur Nicola Pretorius, Vroue-lewensafrigter van Stellenbosch
Die eerste kwartaal was vir my besonders uitdagend en ek het ’n wegbreek gedurende die skoolvakansie in die mooie Pringlebaai met ope arms verwelkom. Na ’n dag of twee van swem in die see, lees, bordspeletjies, stap op nat sand, lekker eet, en tyd saam met mense wat vir my kosbaar is, het ek sommer weer gekalibreer en herlaai gevoel. Dit het my laat nadink oor energie: wat dit verg om werklik te herstel, en hoe ek hierdie gevoel meer in my dag-tot-dag lewe kan inweef.
Vir my is rus nie ’n luukse nie; dit is ’n noodsaaklikheid vir ’n volronde en produktiewe lewe. Dit het ’n reuse-impak op jou fisiese en geestelike welstand, maar met al die baie eise van die moderne lewe is dit beslis nie maklik nie. Een van my kliënte met wie ek pas begin werk het, is so oorwerk en moeg dat sy nie eers meer kan dink hoe sy haar vrye tyd wil gebruik nie.
Die kuns van herlaai
Om te rus en herlaai beteken nie net om “niks” te doen nie; dit gaan oor wat jy in daardie oomblikke doen. Jy kan ’n week verlof neem en steeds uitgebrand voel. Sommige aktiwiteite, soos sosiale media, laat jou dalk voel asof jy rus, maar dit tap eintlik jou energie. Lees ook bietjie oor die idee van energiebestuur.

’n Pragtige geskenk aan jouself hierdie Moedersdag is om bloot bewus te raak van jou energievlakke. Dink aan jou foon se battery: sodra die ikoon rooi word, weet jy dit is tyd vir die laaier. Net so kan jy leer om die rooi ligte in jou eie lyf en gemoed te herken voordat jy heeltemal leegloop. ’n Praktiese manier om dit te doen, is ’n energie-oudit:
Die 5-Stap Energie-oudit

Neem ’n halfuur en reflekteer oor die afgelope paar dae:
- Reflekteer: Maak ’n lys van jou daaglikse take en aktiwiteite. Gaan deur jou dag, uur vir uur, as jy sukkel om te onthou.
- Verdeel: Verdeel hierdie lys in drie groepe: (1) Gee my energie, (2) Neutraal, en (3) Dreineer my. Vra jouself: Laat hierdie aksie my “ligter” of “swaarder” voel?
- Identifiseer die “lekkasies“: Watter drie dinge dreineer jou die meeste? Kan jy dit verminder, of is daar dalk grense nodig in hierdie areas?
- Fokus op energiebronne: Watter drie dinge laat jou lewendiger voel?
- Integreer: Hoe kan jy meer hiervan in jou lewe inweef? Dalk is dit ’n kort stappie na werk, koffie saam met ’n vriendin, of om weer te begin joernaal hou.
Selfs ’n kort herstel-oomblik van vyf of tien minute kan ’n reuseverskil maak. Probeer klein gewoontes skep wat keer dat die gejaag van die dag jou heeltemal insuig. Jy kan selfs alledaagse takies omskep in bronne van energie deur byvoorbeeld na ’n inspirerende podsending, of musiek te luister of tee uit `n spesiale koppie te drink terwyl jy werk.
My Top 5 idees vir `n Energie-hupstoot
Wat jou battery laai is uniek aan jou persoonlikheid, maar hier is van my gunstelinge wat altyd vir my werk:
1. Beweeg jou lyf
Oefening voel dikwels na die eerste ding wat moet waai as ons moeg is, maar beweging skep eintlik energie. Ligte oefening in die son—soos stap, swem, strek of dans—is balsem vir die gemoed. Kies iets wat vir jóú lekker is, dan is die kans goed dat jy dit sal volhou. Lees meer oor die voordele van stap.
2. Hê ’n bietjie pret
Gedurende ons vakansie het ek en ’n vriendin een oggend met die kinders se bodyboards in die see gespeel. Ek was nie waffers nie, maar ek het lanklaas so lekker gelag terwyl ek verbete aan my baaibroek vasgeklou het! In The Power of Fun verduidelik Catherine Price dat pret nie iets is wat jy doen wanneer jy energie het nie, maar iets is wat juis energie skep. Volgens Price kort drie bestanddele om waarlik pret te hê: speelsheid, konneksie en “vloei”.
3. Kom buite

Vir my is die natuur is die vinnigste manier om my senuweestelsel weer te kalibreer. My sintuie word geprikkel en die buitelewe anker my in die “hier en nou”. Oggend-sonlig ook is veral belangrik vir jou liggaam se sirkadiese ritme, wat jou slaapaktiwiteit reguleer. Vir my voel `n stappie in die son of ek my interne battery sommer by die bron inprop.
4. Koester konneksie

Tyd saam met mense wat jou siel voed, is ’n kragtige bron van energie. Navorsing wys dat sosiale konneksie stres verlaag en oksitosien (die “liefdeshormoon”) verhoog. Sterk vriendskappe hou ons letterlik gesonder en help ons om vinniger van uitdagings te herstel. Lees meer oor die belangrikheid van vriendskappe.
5. Neem ’n blaaskans van skerms
Skermvrye tyd is nie verniet ’n groot welstand-tendens nie. Konstante digitale stimulasie verhoog spanning en steel tyd wat jy aan iets meer betekenisvol kon spandeer. As my vakansie-of-naweek bestemming nie sein het nie, is dit vir my soveel te beter! Lees meer oor skermvrye Sondae en probeer dit gerus.
Mag jou geskenk hierdie Moedersdag die begin van ’n meer energieke hoofstuk wees!
Bronne:
- Harvard Health Publishing
- Dr. Susan Pinker (The Village Effect)
- Catherine Price, the power of having fun
- Psychology Today
- Healthline





