Vriendinne-tyd gaan oor meer as net jou wynglas hervul, maar dit hervul ook jou siel, herbedraad jou brein, laat jou kalmer voel en help jou om gesonder te leef. Om tyd te maak om saam met ander vroue te spandeer, is een van die eenvoudigste en lekkerste maniere om beide geestelike en fisiese welstand te bevorder. Hier is wat die wetenskap sê en hoekom jy dadelik meer gereelde tyd saam met jou vriendinne moet reël. Deur Suzanne Kotzé
Dit is so amper tyd vir my jaarlikse vriendinne-naweek saam met my skoolvriendinne. (Iets wat ons al vanaf hoërskooljare doen). En elke jaar kom ons terug, op ’n ‘high’ vol energie, na ’n naweek van opregte deel en lekker lag (en soms huil ook). In ons wese voel ’n mens hoe goed dit vir jou is, en selfs die wetenskap bewys dit ook. Hierdie is jou teken om dadelik ’n afspraak met jou vriendinne te maak. Of dit nou vir ’n kuier-aand, ’n stap of sommer net ’n koppie tee is.
Vriendskappe is nie net lekker om te hê nie, maar nodig om gesond te leef.
Dit is wat professor Robin Dunbar van Oxford Universiteit bevind het. (Professor Dunbar het al verskeie boeke en navorsingstukke gepubliseer wat fokus op menslike gedrag).
Wat sê die wetenskap oor vriendinne-tyd?
1. Sterkter sosiale bande voorspel ’n langer lewe
Kan vriende jou langer laat leef? Grootskaalse navorsing wys dat sosiale verhoudinge ’n groot voorspeller is vir langlewendheid. Mense met sterker sosiale bande het ’n aansienlike laer risiko om vroeg te sterf as meer geïsoleerde mense.
Navorsing wys ook dat sosiale verhoudinge net so belangrik vir oorlewing is as om nie te rook of oorgewig is nie. (Maar jy moet waarskynlik nie saam met vriendinne rook nie)
In ’n 2010 meta analise in PloS Medicine is bevind dat persone met gesonde sosiale konneksie ’n 50% beter kans op oorlewing het, as die met swakker verhoudings.
2. Tyd saam met vriende verminder biologiese spanning
Om gereeld bymekaar te kom, verander hoe ons liggame op spanning reageer.
Holt-Lunstad, J., et al. wys dat as jy met ’n ondersteunende vriend/vriendin gesels is jou bloeddruk laer versus iemand teenoor wie jy ambivalent voel.
Nog ’n studie wys dat mense selfs ’n heuwel minder steil ondervind het as hulle saam met ’n vriend gestap het.
Navorsing wys dat ondersteunende sosiale kontak kortisol (die liggaam se hoof streshormoon) se respons op akute stressors kan verminder. Dink bietjie aan daai woedegloed wat jy kry as ’n taxi skielik voor jou indraai. As jy in ’n goeie luim is na tyd saam met vriende, is jou reaksie dalk net minder erg.
In ’n studie in Biological Psychiatry word bevind dat beide sosiale ondersteuning en die hormoon oksitosien saamwerk om
- ons reaksie op spanning te verlaag,
- die gevoel van kalmte vermeerder en
- om gevoelens van vertroue en veiligheid vermeerder.
’n Gerusstellende gesprek of saamlag as jy saam met vriende is, is nie net lekker nie; dit is fisiologies strelend.
3. Emosionele deel verbeter jou luim en geestesgesondheid

Vir baie vroue is vriendskap ’n primêre plek om emosies te verwerk, perspektief te kry en erkenning te ontvang. Navorsing toon dat vroulike vriendskappe dikwels hoër vlakke van selfopenbaarmaking en emosionele ondersteuning behels, wat ’n buffer teen angs en depressie is.
Dink maar net hoe goed jy na ’n hartoopmaaksessie saam met naby vriendinne voel.
’n 2022-oorsig oor vroue se sosiale bande en welstand wys dat vroue wat sterk vriendskappe koester, geneig is om hoër veerkragtigheid, beter bui-regulering en algehele lewenstevredenheid te hê.
Om probleme met vriende te bespreek is nie kerm nie; dis emosionele selfsorg.
4. Vriendskap kan help met depressie
Volgens ’n studie oor depressie-voorkoming is mense wat vriende en bondgenote het meer tevrede met hul lewens en minder geneig om met depressie te sukkel.
5. Om dinge saam te doen versterk die voordele
Dis nie net gesprekke nie: gedeelde aktiwiteite (van kook tot dans) versterk die voordele deur endorfiene en oksitosien, die liggaam se natuurlike bindings- en gelukchemikalieë, vry te stel. ’n 2015-studie oor groepsang wys dat deelnemers verminderde stres en ’n verhoogde gevoel van verbondenheid ervaar het na groepmusiekmaak. (Dalk is ’n karoake-aand ’n goeie idee vir ’n volgende kuier).
Dieselfde “sosiale vloei” gebeur wanneer vroue bymekaarkom vir lag, speletjies of selfs ’n spontane dans-sessie! Die brein beloon ons met goedvoel-chemikalië wat verhoudings versterk en bui bevorder lank nadat die aand verby is.
6. Verbeterde immuunfunksie, herstel en daaglikse gesondheid
Verskeie studies verbind gereelde sosiale kontak met meetbare fisiese gesondheidsvoordele bo en behalwe stresvermindering. Navorsing toon dat mense met beter sosiale ondersteuning vinniger van siekte herstel, sterker immuunresponse het en laer inflammasiemerkers toon.
Byvoorbeeld, ’n meta-analise wat in Health Psychology gepubliseer is, het bevind dat sosiale integrasie verbeterde immuunfunksie en veerkragtigheid teen infeksie voorspel.
Sosialisering sal nie ’n gebalanseerde dieet of oefening vervang nie, maar dit komplementeer ’n gesonde leefstyl.
Waarom vroue in die besonder baat vind by vriendinne-tyd

Gedragswetenskaplikes merk op dat vroue dikwels staatmaak op “sorg-en-bevriend”-strategieë – die koestering van sosiale verbindings om stres te hanteer. Meer as die stereotipiese “veg-of-vlug”-reaksie.
Navorsing van UCLA verduidelik dat hierdie vroulik-tipiese reaksie, gekoppel aan oksitosien en estrogeen, ontwikkel het as ’n manier om beide die individu en haar sosiale groep onder druk te beskerm.
Omdat vroulike vriendskappe emosionele deelname en wedersydse sorg beklemtoon, kan vroue veral sterk sielkundige en fisiologiese voordele kry deur tyd saam deur te bring.
Vriendskappe: kwaliteit bo kwantiteit
Meer vriende is nie noodwendig beter nie.
As dit by vriende (soos die meeste ander dinge in die lewe) kom, is kwaliteit beter as kwantiteit. ’n Kleiner sirkel (vyf is glo die ideale getal) sterk vriendskappe op wie jy kan vertrou en ook dieselfde oor jou voel, is beter as klomp vriende sonder dieper konneksie.
Koester en werk aan die vriendskappe wat jy het.
Praktiese wenke om vriendinne-tyd in te ruim.
Vaste datums
Ons jaarliks naweek werk omdat ons ’n vaste datum het, wat elke jaar dieselfde bly. So weet almal lank vooruit om die datum opsy te sit. Ons skuif nie die datum rond, as sommige mense nie kan kom nie.
Prioritiseer gereeldheid
Selfs beskeie, gereelde ontmoetings (’n koffie, ’n stap, ’n geselsie) handhaaf die sosiale bande wat langtermynvoordele inhou.
Meng lae-inspanning en spesiale byeenkomste
’n Vinnige geselsie en opvang en ’n af en toe aandjie uit tel albei.
Fokus op konneksie
Dit is verseker lekker om Insta-mooi oomblikke saam met vriendinne vas te vang, maar julle tyd saam moet fokus op egtheid en konneksie, nie op hoe mooi alles of almal is/lyk nie en hoe dit op jou Insta‘feed’ of Tik Tok gaan lyk nie.
Voeg beweging of musiek by
Gedeelde aktiwitite wat lag, sang of beweging behels, bevorder van nature jou bui en laat julle nader aan mekaar voel.
Ten slotte
Tyd saam met vriendinne is alles behalwe ligsinnig. Dis ’n bewysgesteunde strategie om stres te verlaag, bui te verbeter, ondersteunende netwerke te versterk, en dra oor die lang termyn by tot beter gesondheid en langer lewensduur.
So volgende keer as jy skuldig voel omdat jy tyd neem om saam met vriendinne deur te bring, onthou: jy belê in jou geestelike, emosionele en fisiese welstand.
Bronne
- Choi, K. W., et al., The American Journal of Psychiatry, Vol. 177, No. 10, 2020
- Dunbar, R. I. M. (2025). Why friendship and loneliness affect our health. Annals of the New York Academy of Sciences, 1545(1), 52-65.
- Holt-Lunstad J., et al. (2010). Social Relationships and Mortality Risk: A Meta-analytic Review. PLoS Medicine
- Holt-Lunstad, J., et al., Annals of Behavioral Medicine, Vol. 33, No. 3, 2007
- Keeler J.R., et al. (2015). The Neurochemistry and Social Flow of Singing: Bonding and Oxytocin. Frontiers in Human Neuroscience
- Heinrich et al. (2003). Social Support and Oxytocin Interact to Suppress Cortisol and Subjective Responses to Psychosocial Stress. Biological Psychiatry
- Schnall, S., et al., Journal of Experimental Social Psychology, Vol. 44, No. 5, 2008).
- Ozbay F., et al. (2007). Social Support and Resilience to Stress. Psychiatry (Edgmont) / NIH
- “Thriving Together: The Benefits of Women’s Social Ties.” Frontiers in Psychology, 2022





