Hoeveel van ons voel nie konstant uitgeput, oorweldig en doodmoeg nie! Werk, familie, vriende, kinders; die druk en verantwoordelikhede is nimmereindigend. Die geheim lê glo in energiebestuur. Wees wys waarop (en soms ook op wie) jy energie spandeer en hoe jy energie kan bespaar. Deur Suzanne Kotzé
Wat is energiebestuur?
“Gedurende die tagtigs het ons almal gespog oor hoeveel koffie ons gedrink het, hoe min ons geslaap het en hoe hard ons gewerk het,” vertel Dermalogica-stigter Jane Wurward onlangs tydens ’n besoek in Kaapstad. En hierdie is die teenoorgestelde van energiebestuur. Gelukkig is die tagtigs se strewe na sukses vervang deur ’n strewe na geluk en welstand. Tog wil die meeste van ons ook darem ’n tikkie sukses hê, dit is net nie meer ons eerste prioriteit nie.
Die afgelope ruk het ek die ‘energiebestuur’ frase al hoe meer begin raaklees en dit het ook gereeld in gesprek met vriende voorgekom. Hoe meer ek daaroor gelees en geluister het, hoe meer resoneer dit met my.
“Energiebestuur gaan nie net oor tyd- of taakbestuur nie – dit gaan daaroor om jou fisiese, geestelike en emosionele energie te bestuur op ’n manier wat langtermyn-produktiwiteit, -welstand en -vervulling verseker.” Tony Schwartz, uitvoerende hoof van The Energy Project en mede-outeur van The Power of Full Engagement; Managing Energy Not Time Is the Key to High Performance and Personal Renewal.
“Die algehele maatstaf van ons lewens is nie hoeveel tyd ons op die planeet spandeer nie, maar hoeveel energie ons in die tyd sit wat ons wel het.”
Tony Schwartz en Jim Loehr, outeurs van The Power of Full Engagement
Dink aan jouself as ’n battery
Jy voel dalk of jy altyd 100% gee en baie hard werk en soveel ure insit, maar sonder dat jy dit besef is jou energie dalk op slegs 60%, want jy is dalk moeg of gespanne. Dan is jou 100% einlik 60%. En dan moet jy soveel meer tyd spandeer om op 100% te kom. En hoe meer tyd jy insit, hoe meer en meer gespanne word jy. Op die ou end gaan dit nie oor tydbestuur of produktiwiteits ‘hacks’ nie, maar om bewus te wees van jou energievlakke en te weet wat gee jou energie en ook wat neem energie. Sodat jy behoorlik kan herlaai.
“Net soos jy jou elektroniese toebehore moet herlaai, so ook moet jy jou energie herlaai, want mense het nie ’n onuitputbare bron van energie nie,” skryf Tony Schwartz en Jim Loehr.

(Ek het hierdie oulike grafieka op ’n blog gesien en dit aangepas). Maak gerus jou eie een.
Die belangrikheid van energiebestuur
Beter fokus en produktiwiteit
Deur jou energie te bestuur, kan jy uitbranding voorkom en vir langer periodes op jou piek presteer. Dit doen jy deur energie te spaar wanneer jy nie so besig is nie, sodat jy dit (jou gespaarde energie) kan uitgee wanneer dit nodig is.
Minder spanning en uitbranding
As jy jou eie energievlakke en -patrone verstaan, kan jy ’n beter pas (soms vinniger en soms stadiger) handhaaf om uitbranding en spanning te voorkom.
Beter emosionele veerkragtigheid
As jy jou energie goed bestuur, kan jy die lewe se emosionele wipplanke beter hanteer.
Beter verhoudings
Deur mense en die hoeveelheid energie wat hulle van jou vra en/of teruggee te verstaan, kan help dat jy oor die langer termyn beter verhoudings het.
Meer empatie
Deur nie net jou eie energievlakke te verstaan nie, maar ook die van mense na aan jou, kan jou help verstaan hoekom jou lewensmaat dalk traag is om jou te ‘help’ wanneer sy/haar battery laag is.
Beter slaap en herstel
As jy jou energie goed bestuur, kan dit jou help om slegte gewoontes wat bydra tot slegte slaap te identifiseer. Dit kan help dat jy ’n beter roetine handhaaf, en sodoende ook beter slaappatrone volg, wat ook help met fisiese en geestelike herstel.
Energiebestuur gaan daaroor dat jy slimmer en nie harder moet werk nie, terwyl jy ’n balans handhaaf. Om genoeg hersteltyd te neem is belangrik om motviering en fokus te behou en op die langter termyn suksesvol en geestelik gesond te wees.
Wenke vir energiebestuur
1. Prioritiseer slaap
Raak jy met jou skootrekenaar in jou bed aan die slaap terwyl jy nog wou werk? Jy word moeg wakker en gespanne oor die werk wat jy nie klaargemaak het nie? En hoe moeër jy is, hoe minder kan jy doen. Sonder behoorlike slaap kan jy nie jou energievlakke aanvul nie. Prioritiseer jou energievlakke bo die werk wat jy moet klaarmaak of dit wat jy nog moet doen, en dit sal help dat jy dit wel vinniger doen wanneer jy meer energie het.
2. Vermy energievampiere (veral as jou energievlakke laag is)
Eer jou eie energievlakke en vermy eerder die energievampiere (daai mense wat altyd kla en negatief is en jou sielsmoeg laat voel nadat jy met hulle tyd spandeer het) as jou energievlakke laag is.
3. Jou dieët
Ons almal weet alkohol, verfynde suiker en geprosesseerde kos is sleg vir ons. En dit is ook ‘energie-diewe’.
Lees gerus hier: Sewe sakpaswenke vir gesond eet
4. Oefen gereeld
“Elke keer wanneer jy oefen is dit soos om soos ’n klein dosis energie te neem. Dit is die mees effektiewe manier om jou energievlakke aan te vul en jou bui en lewenskrag ’n hupstoot ge gee,” meen Dr. John Ratey, kliniese medeprofessor in psigiatrie by Harvard se mediese skool en outeur van Spark: The Revolutionary New Science of Exercise and the Brain.
Oefening verbeter sirkulasie, verminder spanning en skei endorfiene af wat ons bui verbeter.
Dr. Ratey maan egter dat dit belangrik is om die balans van die regte hoeveelheid oefening te vind wat vir jou werk. “Te veel oefening kan lei tot moegheid en uitbranding.” Laat jou lei deur jou liggaam en jou energievlakke en pas jou oefening daarvolgens aan.
5. Neem gereelde breuke
Werk gereeld energiebreuke deur jou dag is. Hetsy dit ’n vinnig stappie om die blok, asemhalingsoefening by jou lessenaar (of in jou motor) of meditasie is.
6. Weet wat jou batterye herlaai (en doen meer daarvan).
Wat laat jou goed en vol energie voel? Vir my is dit stap in die berg of langs die see saam met vriendinne of swem. Vir ander mense is dit ’n stil oomblik in die tuin met ’n koppie tee of joga. Leer jouself ken en maak meer tyd vir dit wat jou energie gee.
7. Ken jou energie-siklus en gebruik jou hoë energie tyd ten volle
Volgens dr. Beus is dit belangrik om bewus te wees van jou liggaam se sirkadiese ritme (slaap-wakker siklus) en jou werksiklus hiervolgens aan te pas.
Gebruik daardie tye wat jy ’n opvlamming van energie voel. As jy byvoorbeeld weet jou hoë energietyd is soggens, probeer om so min as moontlik vergaderings/sosiale verpligtinge te reël en gebruik dit vir produktiewe werkstyd.
8. Ken jou maat se energievlakke
’n Vriendin het onlangs vertel hoe sy en haar man gereeld vir mekaar vra hoe lyk jou energievlakke vandag. As sy bevoorbeeld op 30% is en haar man op 80% is, deel hulle take daarvolgens op. As altwee natuurlik laag is, moet altwee maar swaarkry en alles saamdoen.
Energiebestuur gaan meer daaroor as om net nog ’n dag te oorleef. Dit gaan daaroor om ’n lewe te skep wat vervullend en volhoubaar voel.
“Wanneer ons, ons energie bestuur, ontsluit ons die vermoë om in alle aspekte van die lewe te floreer.”
Outeur dr. Libby Weaver in Exhausted to Energized: Dr Libby’s Guide to Living Your Life with More Energy