Skermvrye Sondae: hierdie welwees trend is dalk die probeerslag werd

Het jy al gewonder wat sal gebeur as jy vir een dag elke week intensioneel jou foon afskakel en verhoudings rondom jou weer aanskakel? In ’n wêreld wat nooit van lyn af is nie en ’n foon wat skaars ophou lui, piep of ping nie, klink ’n blaaskans van skerms na ’n goeie plan.

Skermvrye Sondae en die beweging na digitale minimalisme is een van 2025 se gewildste welwees-tendense. Die idee agter ’n skermvrye Sondag is om jou brein kans te gee om te rus, om weer met jou hande te werk en kreatief te raak of selfs net meer intensioneel met jou verhoudings te wees.

Leer meer oor wat presies ’n “skermvrye Sondag” behels en hoekom dit dalk net die probeerslag werd is. Saamgestel deur Justine Kroes

Voordele van Skermvrye Sondae

1. Verminderde digitale uitbranding

Studies koppel oormatige gebruik van skerms en skermtyd aan angs, konsentrasieprobleme en slegte slaapgewoontes. Digitale uitbranding is ’n realiteit en het ’n direkte impak op ons fisiese en emosionele welstand.

2. Jy is meer teenwoordig

Met aanhoudende aanlynwerk en ’n konstante digitale betrokkenheid smag mense weer na fisiese teenwoordigheid en om meer gegrond te voel in hul eie realiteit.

Bevorder die belangrikheid van analogue wellness

Analogue wellness/ of eerder analogiese welwees is terug. Mense keer terug na fisiese of tasbare aktiwiteite eerder as aanlyn aktiwiteite; dinge soos joernaalskryf, lees uit regte boeke, tuinmaak of enige aktiwiteit wat al jou sintuie betrek.

3. Kwaliteit-tyd met geliefdes:

Daar is ’n sterk beweging na intensionele kwaliteit-tyd met geliefdes sonder skermtyd wat aandag steel. ’n Spasie waar vriende en familie weer kan gesels, speel en werklik teenwoordig wees. Dieper gesprekke met egte konneksie.

4. Bevorder kreatiwiteit:

Beide kinders en volwassenes geniet die kans om iets tasbaars te doen eerder as om passief voor ’n skerm te sit. Om nie passief voor ’n skerm te sit nie, stimuleer kreatiewe idees en gedagtes om besig te bly.

5. Verbeterde slaapkwaliteit:

Verminderde blootstelling aan bloulig en skerms, veral naby aan slaaptyd, het ’n direkte impak op jou melatonienproduksie en verbeter die kwaliteit van jou slaap.

6. Jy beoefen balans:

Jy leer hoe om balans toe te pas met ’n meer intensionele gebruik en bestuur van jou skermtyd. Dit gaan nie daaroor om tegnologie te vermy nie, maar eerder om dit meer bewustelik te gebruik. ’n Vasgestelde “afskakeltyd” gee vir jou en jou gesin die kans om hierdie “balans en bestuur” te oefen.

Hier is 8 riglyne vir jou eie skermvrye Sondag:

1. Besluit saam oor die reëls:

Besluit vooraf saam as gesin watter skerms buite perke is; Selfone, tablette, TV-speletjies en sosiale media.

2. Begin klein:

Begin met ’n paar uur in die oggend of middag, en bou stelselmatig op na ’n volle dag sonder skerms. Wees ook realisties en buigsaam. As ’n volle dag te veel voel, besluit op ’n halwe dag of beperk net sekere tipes skerms.

3. Kies ’n vaste tyd:

Wees konsekwent met die tyd wat gekies is (bv. Sondag 08:00 tot 18:00) waar skerms doelbewus vermy word.

4. Stel duidelike grense:

Laat vriende en familie weet jy gaan vir die dag “van lyn af” wees. Skakel kennisgewings af of gebruik jou foon se “do-not-disturb” DND funksie.

5. Beplan belonende alternatiewe:

Moet nie net fokus op dit wat jy opgee nie, maar kyk eerder wat jy hieruit wen;

Beplan om bordspeletjies te speel, bou legkaarte, doen kuns of handwerk, lees, kook saam, bak ’n koek, stap in die natuur of besoek vriende en familie.

6. Stel ’n goeie voorbeeld:

Kinders leer deur te kyk en ons aksies te volg. As ouers steeds heeltyd op hul fone is, word die doel en spanwerk agter ’n skermyvrye dag misgekyk.

7. Skep ’n digitale bêreplek

Hou toestelle op ’n spesifieke plek (soos ’n “tech” laai) sodat jy  (en jou gesin) nie heeldag in die versoeking gelei word om gedurig na skerms te kyk nie.

8. Reflekteer na jou skermvrye Sondag:

Let op hoe jou gemoed, fokus en kreatiwiteit verander het nadat jy weggestap het van die aanhoudende geraas van ’n skerm. Vra vir jouself wat goed gevoel het, wat moeilik was en wat jy volgende keer anders sou doen. Deur te reflekteer versterk jy die waarde van die gewoonte.

Hou hierdie in gedagte:

Skerms vorm deel van ons lewens en is nie die vyand nie. Dit gaan net oor balans.

Kinders of tieners mag kla, dis normaal.

Aan die begin voel dit dalk vreemd, maar dis juis lekker om weer ander dinge te ontdek wat jy geniet.

“Skermvrye Sondae” gaan nie oor perfek wees nie, dit gaan oor afskakel, om balans uit te oefen, opregte konneksie te herstel en om meer teenwoordig wees.

Lees ook: Stappe om gesonde grense te stel hierdie besige sosiale seisoen

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Introvertgids
Die introvertgids; 10 wenke om die sosiale seisoen te oorleef
error: Content is protected !!