’n Kind wat net sekere goed wil eet – ’n kieskeurige eter – is genoeg om ouers teen die mure uit te dryf. Later gee jy dalk net op, want jy is moeg baklei. Dieetkundige Liezel Engelbrecht meen egter dis dalk makliker as wat jy gedink het om dié probleem te oorkom.
Uittreksel uit Simple Eating: Food and Nutrition for preschoolers and toddlers, saamgestel deur Liezel Engelbrecht, RD(SA)
Inligting vir die artikel verskaf deur Cornelia Owens, RD(SA) van Tiny Tummies
Wat is ’n kieskeurige eter?
Dit kan opgesom word as kinders met ’n gebrek aan verskeidenheid in die dieet. Gewone kenmerke van kieskeurige eters is:
- Jou kind eet slegs ‘n beperkte hoeveelheid kos.
- Hy of sy weier kos tydens etes, en veral vrugte en groente.
- Hy of sy is ongewillig om nuwe kosse te probeer.
- Verkies drankies bo kos.
- Hulle aanvaar slegs ‘n paar soorte kos.
Wat veroorsaak dat ’n kind ’n kieskeurige eter is?
Daar is baie moontlike redes, en kan ‘n kombinasie van ‘n paar wees. Hier is voorbeelde van algemene redes:
- Aandagsoekerigheid, of ander emosionele redes.
- Ouers wat self nie sekere kosse eet nie (dus ’n gebrek aan kosrolmodelle).
- ‘n Sensoriese afkeer aan sekere kosse (ontwikkelingsredes).
- ‘n Voorkeur vir sout- en soetkos, wat verhoog kan word deur herhaalde blootstelling aan dié tipe kosse, bv. as ‘n ouer gereeld lekkers en skyfies aanbied kan dit kan lei tot ‘n afkeer van ander tipes kos.
Is dit ‘n probleem as my kind ‘n kieskeurige eter is?
Dit kan wees. Groei en algemene gesondheid kan daaronder ly as jou kind slegs ‘n baie beperkte hoeveelheid en verskeidenheid kos eet. Dit kan ook hul kosvoorkeure en gesondheid later in hul lewe beïnvloed.
Hou jou kind dop vir tekens soos moegheid, bleekheid of herhaalde infeksies. Raadpleeg ‘n dieetkundige of dokter as jy ‘n tekort vermoed en oorweeg om jou kind se dieet aan te vul. ‘n Dieetkundige sal jou ook kan help met raad en idees oor hoe om nuwe kosse vir jou kind aan te bied.
‘n Dieetkundige kan jou byvoorbeeld vra om notas te begin neem van hoeveel tipes kos jou kind oor ‘n tydperk eet. Nie net by die huis nie, maar ook as hulle by maatjies speel of by die kleuterskool is. Jy kan ook notas neem oor spesifieke gedrag rondom sekere kosse. Dit kan dan dien as ‘n grondslag om verder ondersoek in te stel na ‘n moontlike onderliggende probleem, of om na kreatiewe idees van aanbieding en byvoeging te kyk.
Dikwels is ouers egter net nie lus vir ’n gesukkel of ’n gestry tydens ete nie. Hulle kan dan onbewustelik (of bewustelik) begin om ’n kleiner verskeidenheid kos aan te bied, wat dit dan oor die lang duur moeiliker maak om nuwe kosse in jou kind se dieet in te bring. In besonderse gevalle kan jou kind egter sensories sensitief wees. Lees hier meer oor sensoriese defensiwiteit.
Wat kan jy doen?
- Gee dit tyd: Deur jou kind ’n spesifieke kossoort oor ’n lang tydperk aan te bied, sonder die verwagting dat hulle dit hoef te proe of dit te eet, het dikwels positiewe gevolge.
Nuwe kos word dikwels eers ná 10 keer se blootstelling aanvaar, en dit kan selfs soveel keer as 20 keer wees!
Moet dus nie te gou moed opgee nie. Bied gereeld nuwe kosse tydens verskillende geleenthede aan.
- Dit kan net ’n fase wees: Tussen die ouderdom van 1 en 5 is daar tye waar daar ’n fisiologiese afname in eetlus is. “Food jags” en stadiums van vinnige groei (“growth spurts”) kan ook ’n invloed op eetgewoontes hê.
- Kyk na die groter prentjie: Miskien het jou kind ‘n onderliggende sensoriese sensitiwiteit wat aangespreek moet word (sien onder).
- Moenie te gou klassifiseer nie: Jong kinders is geneig om neofobies te wees (die vrees vir nuwe dinge) en baie ouers beskou dit as kieskeurig.
Studies toon egter dat, ten spyte van kinders se aanvanklike voedselafkere, hulle uiteindelik ’n nuwe kos sal aanvaar as hulle herhaaldelik daaraan blootgestel word.
Wat moet jy vermy?
Dit is ’n slegte idee om jou kind te forseer, te dreig, om te koop of om die bos te lei om haar ’n sekere kos te laat eet. Dit werk dalk op die korte duur, maar kan die grondslag lê vir ’n negatiewe verhouding met kos oor die langer termyn.
Dit gebeur soms uit gewoonte, maar probeer ook om jou kind nie met kos te beloon, te vertroos of te straf nie. Dit verhef die kos waarmee jy hulle beloon of vertroos (gewoonlik iets soos ’n lekker of verwerkte tipe kos) tot iets begeerliks, en assosieer die kos waarmee jy hulle straf (byvoorbeeld “Jy mag nie TV kyk voor jy jou groente geëet het nie”) met iets negatiefs.
Tegnieke wat kan werk:
- Moedig jou kind se eetlus aan: Gee maaltye en versnaperinge op gereelde tye deur die loop van die dag. Onbeplande peuselhappies kan versadiging voor etes veroorsaak. Bied ook melk en ander vloeistowwe eers na die maaltyd of peuselhappie aan, aangesien vloeistof ook jou kind se maag volmaak.
- Vermy afleiding: Tablette, telefone en televisie kan jou kind opgewonde maak terwyl sy eet, en veroorsaak dat sy belangstelling in die kos verloor.

- Eet saam met jou kind as gesin om ’n tafel waar moontlik: Kinders hou daarvan om ingesluit te voel. Dit bevorder ook goeie toekomstige gewoontes en kan jou kind se assosiasie met kos positief beïnvloed.

- Wees oukei met gemors: Laat kinders self eet en mors. Hulle geniet die outonomie.
- Moenie te groot hoeveelhede kos voorsit nie: Klein hoeveelhede is minder skrikwekkend en intimiderend. Jou kind sal meer vra as sy steeds honger voel.
- Moenie haastig wees nie: Bied nuwe kos dae, of weke, uit mekaar aan, en in verskillende vorme, bv. gekook, gebak of opgesny in skyfies, vingers of gerasper.
- Gee opsies: Probeer, indien moontlik, twee nuwe kosse gelyktydig aanbied en laat jou kind kies watter een hy wil probeer, selfs al eet hulle net een hap.
- Stel ‘n voorbeeld: Kinders kom agter wanneer hul ouers nie van ’n sekere kos hou nie en mag dit dan aspris nie eet nie om meer soos die ouer (haar rolmodel!) te probeer wees.
Lees ook: