Die jaar begin vinnig einde se kant toe staan en kort voor lank sal blink versierings weer hul opwagting in winkels begin maak. Vir die meeste van ons is dié laaste paar weke van die jaar ’n dolle gejaag – propvol werkafsprake, skoolfunksies, gesinsverpligtinge en uitgebreide familiebyeenkomste.
Dis ook die tyd van die jaar waar ons grense dikwels getoets word. Jy sê ja om die vrede te bewaar, jy kyk maar ander pad as die soetgoed uitgedeel word, of jy bly sit in ’n gesprek wat jou ongemaklik laat voel. Maar wanneer jy jou grense gesond en respekvol handhaaf, kan dit `n groot jou geskenk aan jouself wees hierdie feestyd.
Deur Nicola Pretorius, Vroue-lewensafrigter van Stellenbosch
Wat is Gesonde Grense?
Gesonde grense dra op die langer termyn by tot beter verhoudings, want dit bring meer openheid en eerlikheid.
In haar boek Set Boundaries, Find Peace beskryf Nedra Glover Tawwab grense as verwagtinge of behoeftes wat jou help om binne `n verhouding veilig te voel.
Stap 1: Identifiseer wat vir jou belangrik is
Grense beskerm dit wat vir jou kosbaar is. Die eerste stap is om bewus te word van wat vir jou belangrik is. Skryf neer wat jy wil prioritiseer en hoe jy wil opdaag hierdie feesseisoen. Hoe meer spesifiek jy kan wees, hoe beter.
Gebruik “ek”-stellings soos:
- Ek wil elke oggend kwaliteittyd saam met my kinders spandeer
- Ek wil nie myself finansieël onder druk sit hierdie feesseisoen nie.
- Ek het elke dag ’n uur nodig wat ek op my eie kan spandeer.
- Ek wil werklik herlaai na die lang jaar.
Stap 2: Kyk sagkens na jou beperkinge
Wees eerlik en kyk sonder oordeel na jou limiete en kapasiteit – dit sluit onder andere jou tyd, energie en kopspasie in. Dit gaan jou help om uitdagende situasies te antisipeer en ook om voor te berei hoe jy wil reageer.
Vra jouself:
- Wanneer voel ek gefrustreerd of oorweldig?
- Watter aktiwiteite of mense laat my leeg of gespanne voel?
Stap 3: Kommunikeer jou grense
Onthou, ander mense kan nie raai wat jou grense is nie. Probleme kom dikwels wanneer daar verwagtinge op iemand anders geplaas word waarvan hulle nie eers bewus is nie. Dit is jóú verantwoordelikheid om jou grense duidelik en met respek te kommunikeer en deur te voer.
Moenie jouself verdedig, verskoning vra of té veel verduidelik nie. ’n Algemene fout is om te verwag dat ander volgens ons wense moet optree. Fokus eerder op jouself en jou behoeftes.
Vra eerder:
- Wat het ek nodig?
- Wat is my wense?
Dinge om te onthou
- Tawwab herinner ons in haar boek dat grense nie mure is nie. Dis nie ’n manier om mense af te sny of te “ghost” nie.
- Vra jouself wat die alternatief is? Wat die koste daarvan is om nié jou grense te kommunikeer nie. Dikwels lei dit tot frustrasies en verwyte of vermyding van die persoon.
- Een van my gunsteling aanhalings oor grense is van Prentis Hemphill:

- Dit verg moed om jou grense te kommunikeer en daarby te hou – en dit is beslis nie altyd maklik nie. Maar die goeie nuus is dat Tawwab ook sê dat gesonde grense nooit ’n gesonde verhouding sal bedreig nie.
Bronne: Greater Good Magazine, Positive Psychology, Set Boundaries, Find Peace





