Ja borskanker is ’n geveg om lewe, maar hierdie 12 inspirerende vroue laat nie toe dat borskanker hulle definieër nie. Hulle deel met ons woorde wat hulle beskryf voor diagnose, gedurende diagnose en nou. Wees gereed om diep geraak te word. Wat ’n voorreg om hierdie vroue se stories van hoop te kan deel. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s Verity Fitzgerald
Produksie: Marli du Toit Klere: Opgedollie, Grimering: René en Amelia van A thing of Beauty en Eileen Hamer van Eclipse Makeup Hare Xanpher George
30/09/2022
Borskanker-inspirasie en kragtige woorde
Elkeen van hierdie 12 pragtige vroue wat borskanker gehad het, of steeds het, is gevra om hulself te beskryf voor hul borskankerdiagnose, tydens die diagnose en hoe hulle nou voel. En dit is kragtig!
Marli du Toit (44, ouderdom van diagnose 42)

“Borskanker neem so baie van jou vroulikheid weg en ek wou met hierdie foto’s elke vrou die geleentheid gee om soos die mees vroulike weergawe van haarself te lyk en te voel.”
Marli du Toit, Reach for Recovery ambassadeur
Leers hier meer oor Marli se borskankerpad: Borskanker diagnose en nuwe perspektief Borskanker-diagnose en meer opinies Borskanker, pienk hare, geen hare, die rooi duiwel en woedegloede
Voor borskanker-diagnose – platgeslaan
Voor my borskanker diagnose was ek platgeslaan weens ander faktore (soos my egskeiding, Covid, aflegging)
Tydens diagnose en kanker – op die vloer
Diep in ’n donker gat
Nou – veerlig
En geïnspireerd en gelukkig. In ’n neutedop het die moelike gebeure my geleer waartoe ek in staat is. Ek het deur die ondraaglikste en moelikste tye gegaan en van te vore sou ek nooit kon dink dat ek so iets sou kon oorleef nie. En nie net oorleef nie, maar ook groei en leer daardeur.
Ankia Coetzer (41, ouderdom van diagnose 39)


Ankia is op 16 Maart 2021 (op haar ma se verjaarsdag) met ductal carcinoma in situ fase 0 gediagnoseer. Aangesien sy later ook positief getoets het vir die BRCA 2 geen het sy ’n dubbelmastektomie gekry en haar fallopiese buise is ook verwyder.
Voor borskanker-diagnose – ambisieus
Ek was ’n regte career girl en het pas terug getrek Kaap toe vanuit Londen en was ongeduldig dat Covid moes verbykom, want ek was bly en opgewonde oor die nuwe werksgeleentheid wat ek gehad het.
Tydens diagnose en kanker – ongeloof
Dit het ’n rukkie geneem voor dit ingesink het. Veral omdat Marli midde-in haar kankerreis was, en nou kom ek in ‘o help, ek het ook bietjie aandag nodig in die kanker-gedeelte’. En toe is my pa kort daarna ook met kanker gediagnoseer.
Nou – frustitude
Dit is ’n woord wat ek en my vriende opgemaak het. Dit is basies ’n kruising tussen frustrasie en dankbaarheid (gratitude). Omdat Marli kanker gekry het, het ek vir ’n mammogram gegaan net om haar stil te maak (sy het aanhou sê ek moes gaan) en dit het my lewe gered. So ek is dankbaar dat daar kennis en tegnologie is. En dan ook frustreerd met mediese fondse wat nie BRCA verstaan nie, of mense wat onsensitief sê: ‘O, gaan jy nou nuwe boobs kry?’
Lené Heck (31, ouderdom van diagnose 29)

Voor – veilig
Ek het gedink die lewe is volmaak en ek het veilig gevoel.
Tydens – kwaad
Ek was bang, maar meestal kwaad. Ek dink ek voel nou nog kwaad, veral omdat ek twee jaar van my klein kindertjies se lewe gemis het, en dit is die tyd waar hulle ’n ma so bitter nodig het. Ek het nou wel ’n uitlaatklep vir hierdie woede en dit is om ander mooi te maak. (Lené het ’n besigheid Opgedollie waar al die mooi rokke op die foto’s te huur is).
Nou – kragtig
Ek voel kragtig en onaantasbaar en die wêreld is weer oop vir alles wat ons nog wil bereik. Waar ons ’n jaar terug gedink het die lewe is verby, begin dit einlik nou eers. Ek is nou klaar met my behandeling, maar ek wag nog om te hoor of my behandeling suksesvol was.
Mersini Iakovidis (37 ouderdom van diagnose 36)

Voor – moeg
Die twee jaar voor my diagnose het ek geweldig moeg gevoel en ek het so baie toetse laat doen, maar ons kon niks fout kry nie. Ek het toe ’n knop in my bors gekry, en na ek my scan laat doen het, was daar op grond van my familiegeskiedenis en ouderdom (36) slegs ’n twee persent kans dat dit wel kanker sou wees. En toe is dit fase 3 drievoudige negatiewe borskanker.
Tydens – verlig
Dit was die allervreeslikste nuus, maar ek het aan die een kant net só verlig gevoel om eindelik te weet dat ek nie mal was nie en dat daar regtig iets verkeerd is.
En ek wil vroue aanmoedig, as jy voel iets is verkeerd, hou aan veg tot jy ’n antwoord kry.
Nou – dankbaar
Borskanker het vir my baie meer gegee as wat dit gevat het. Ek het die mees ongelooflike mense ontmoet wat my werklik gedra het. Dit plaas dinge in perspektief vir jou. You don’t sweat the small stuff anymore. Jou prioriteite verander en jy is ’n heel ander mens. En om goed te doen wat jou gelukkig maak. My scans vir nou lyk goed en ek het pas my derde rekonstruksie gedoen. Vir nou vertrou ek die proses. En ek weet daar is dae wat ek nie oukei voel nie, en dat dit oukei is om nie oukei te voel nie.
Lori-Anne Biebuyck (53 ouderdom van diagnose 49)

Voor – gelukkig, maar doelloos
Ek was gelukkig, maar ek was without purpose.
Tydens – bang
My tipe borskanker het slegs ’n twee persent kans vir remissie. Ek het gedink ek gaan dood. En op die ou einde is ek deel van die twee persent.
Nou – ekstaties
Ek voel of ek ’n doel het. Ek is op ’n lemonade journey. Ek het ’n besigheid (Hatsbylori.co.za) begin, waar ek hoede verkoop aan vroue wat deur chemo gaan. En ek voel of ek help om vir hulle hoop, ’n tikkie geluk en selfvertroue gee.
Jy kan vir Lori ook op Facebook volg Bald and beautiful hats by Lori waar sy haar kankerreis en ervaringe deel.
Remofilwe Ngcobo (29 ouderdom van diagnose 25)

Voor borskanker-diagnose – sorgvry
Ek het geen sorge of bekommernisse gehad nie. Ek het my hele lewe gehad om na uit te sien, wat ek steeds het.
Tydens diagnose – weerloos
Ek moes leer om weerloos met myself en met ander, my vriende en familie ook te wees. Ek is gewoonlik die sterk vriendin, wat altyd daar is vir ander.
Ek moes leer om ander toe te laat om daar te wees vir my, wat nie altyd maklik is as jy die een is wat daarvan hou om vir ander te sorg nie.
Nou – toevertrou
Ek voel deur my storie te vertel kan ek hoop skep en ander bewusmaak van borskanker. Ek het my storie om te deel (wat nie net my storie is nie) sodat ek ’n stem in hierdie ruimte kan wees. Volg gerus vir Remofilwe op Youtube waar sy meer gesels oor kanker, moederskap (sy het ‘n jaar terug ‘n baba gehad!) en gesondheid.
Hildegarde Geldenhuys (41, ouderdom van diagnose 40)

“Ek is oor die typerk van twee en ’n half jaar drie keer gemisdiagnoseer nadat ek dieselfde dokter gaan sien het met ’n knoppie in my bors, wat net groter geword het. En eers toe ek na ’n ander dokter gegaan het, het sy wel die borskanker gediagnoseer. So moenie bang wees om tweede en selfs derde opinies ook te kry nie!”
Voor – hoopvol
Die Sondag voor my diagnose het ons ’n braai gehad en ek en my dogtertjie het op die bed gespring en ek het so uitbundig, hoopvol en gelukkig gevoel.
Tydens – gedisoriënteerd
Toe ek die volgende oggend 8 uur die nuus kry dat dit wel borskanker is, het ek heeltemal gedisoriënteerd gevoel.
Nou – gefokus
Nege maande later voel ek laserskerp, soos ’n pyl wat skerp geslyp is. Ek is gefokus en opgewonde vir wat voorlê.
Liezel Liebenberg (37, ouderdom van diagnose 35)

Liezel is in Maart 2020, net voor inperking, met borskanker gediagnoseer. “Ek het in 2019 ’n knop in my bors gevoel en die dokter het gesê dit is net ’n sist. Agt maande later het ek my ginekoloog gevra om ’n biopsie te doen, want iets het nie reg gevoel nie.
Voor – oorlaai
Ek was baie gespanne, oorwerk en besig.
Tydens – ongeloof
Ek was in totale ongeloof en het gedink hulle moes my diagnose seker omgeruil het met iemand anders s’n. Ek was so fiks en gesond. Ek het baie geoefen en gesond geëet. Ek het ook oorweldig en hartseer gevoel.
Nou – dankbaar
Ek voel dankbaar vir elke klein dingetjie van die lewe. Ek voel vreugdevol en ligter. Al die dinge wat van mens van te vore af getrek het, het ek laat gaan en ek voel ligter. Kanker laat mens besef dat alles binne ’n oogwink kan verander. Ek is dankbaar om te lewe.
Sarah Ord (46, ouderdom van diagnose 43)

“In Augustus 2019 het ek ’n knop gevoel en na ’n mammogram en toetse is ek met borskanker gediagnoseer. Aanvanklik hoef ek net vir ’n lumpektomie en rekonstruksie van een bors te gegaan het. Toe ek egter bykom na my operasie kon ek hoor hoe my ma aan my suster sê ‘she doesn’t know yet’. En toe moes ek hoor dat die kanker ook na my limf versprei het. En toe het dit van tipe 1 na tipe 2 gegaan. En toe begin my reis eers” Daar is tans geen bewyse van siekte by Sarah nie.
Voor borskanker-diagnose – ontwikkelend
Voor diagnose was ’n moeilike tyd. Ek is geskei en ons besigheid (The Stack, Kaapstad) moes toemaak en toe kry ek die diagnose. Ten spyte hiervan was ek seker die gelukkigste wat ek al ooit was, en die fiksste wat ek al ooit was, want ek het ‘bagasie’ laat gaan. Dit was ’n tyd van evolving, want ek het uit hierdie kokon gekom.
Tydens diagnose – ongeloof
“Dit het nie ingesink nie, dit voel soms nou nog steeds of dit nie ingesink het nie. Dit voel of hulle jou van iemand anders vertel.”
Nou – sterk
Ek was verbaas oor my innerlike krag (wat ek nooit geweet het ek het nie), wat my gedra het.
Ek is op ’n manier dankbaar vir kanker, want dit het my die lewe deur nuwe oë laat sien.
Ek het deur hierdie reis die wonderlike mense ontmoet wat self deur borskanker gaan. Die positiewe ondersteuning en aanmoeding onder ons klomp is ongelooflik.
Dominique Swart 42, ouderdom van diagnose 39)

Sy het eers chemoterapie ontvang om die tumor te behandel en te krimp terwyl dit in haar bors was. Teen die tyd wat haar mastektomie gedoen is, het die tumors al aansienlik gekrimp en sy het geen kanker in haar kliere gehad nie. Dominique sê haar prognose lyk goed, al is die drievoudige negatiewe tipe kanker een van die moeilikste tipe kankers om te behandel. Dit is een van die tipe kankers waar, as jy dit nie binne vyf jaar weer kry nie, jou prognose goed is.
Voor borskanker-diagnose – naïef
Ek het die volste vertroue en geloof gehad in almal anders en myself en ek het nie besef wat my sou tref nie.
Tydens diagnose – vreesbevange
Ek het in my lewe nog nooit sulke vrees ervaar nie. Ek was paniekbevange
Nou – meer selfgeloof
Ek het geleer om meer in my outentieke self te glo. Ek sou nie sê kanker het my meer sinies gemaak nie, maar wel meer outentiek en kieskeurig oor met wie ek my tyd en energie spandeer.
Yolo Matshaya (35, ouderdomvan diagnose 31)

Ek is in 2018 met borskanker fase 2-3 gediagnoseer. In my kultuur word kanker ’n geheim gehou en mense praat nie juis daaroor nie. Gelukkig het ek ’n goeie ondersteuningsnetwerk gehad. En ook ’n ma wat ’n verpleegster is en wat my aangemoedig het om daaroor te praat. Ook met ander jong meisies, om hulle op te voed.
Voor borskanker-diagnose – onkundig (oor gesondheid)
Voor my kanker sou ek nooit regtig daaraan gedink het om sommer dokter toe te gaan of om te weet wat in my liggaam aangaan nie. As jy dinge of simptome ignoreer, dink jy dalk dit sal weggaan, maar dan gebeur dit nie.
Tydens diagnose – lewensveranderend
Dit het gevoel of ’n orgaan uit my lyf geskeur word. Dit het my lewe heeltemal omgekeer. Ek het soveel as moontlik probeer uitvind en alles gegoogle. Wat ook toe nie gehelp het nie.
Nou – ingelig
Ek werk nou by ’n dokter se spreekkamer en ek is baie meer ingelig oor gesondheid in die algemeen. Knowledge is power.
Danielle Bitton (38, ouderdom van diagnose 35)

Nadat haar kêrel op toer ’n knop in haar bors gevoel het is sy die volgende dag hospitaal toe in Guangzhou, waar sy later na ’n klomp toetse met fase 2 borskanker gediagnoseer is. “Ek het in Januarie 2020 ’n dubbelmastektomie ondergaan aangesien ek toe ook uitgevind is dat ek BRCA2 positief is.” En toe begin sy met chemoterapie in Maart se ‘Korona-tyd’. “The tripple C, cancer, chemo, corona,” vertel sy. Daar is vir die afgelope twee jaar na geen bewys van siekte by Danielle nie.
Voor borskanker-diagnose – perfeksionis
Ek is steeds dieselfde persoon, maar ek was baie hard op myself, ’n perfeksionis tot my eie nadeel.
Tydens diagnose – veerkragtig
Ek is die poster child vir optimisme. Dit was ’n reis om weer heel te voel. Ek het positief en hoopvol gevoel.
Nou – sterk
Ek voel beter as ooit en baie dankbaar vir hierdie lewe. Ek is ook meer sagmoedig met myself.
Die kankerreis het my gehelp om dinge in perspektief te sien: ons het net een lewe om te leef en ons moet die meeste daarvan maak.
En op die ‘nou’ te fokus, want dit is al wat ons het