pienk hare borskanker
pienk hare borskanker

Borskanker, pienk hare, geen hare, die ‘rooi duiwel’ en woedegloede

Stylvol vriendin Marli du Toit is so ’n jaar en ’n half gelede met fase twee lobulêre borskanker gediagnoseer. Sy gesels oor haar borskankerreis; van haar pienk hare, tot geen hare, chemo en die newe-effekte. Deur Suzanne Kotzé

Meer oor Marli, haar borskanker en haar ‘reis’ tot nou

Lees Marli se vorige stories hier

n Borskanker-diagnose en nuwe perspektief

Borskanker-diagnose en meer opinies

Marli vertel wat die afglope jaar en ’n half in haar lewe gebeur het

Na my laaste video en storie vir Stylvol het ek op hormoonbehandeling gebly. Die tumor in my bors het beduidend gekrimp en tydens ultraklank kon hul geen tumors in my limfnodes sien nie.

Ek sou altyd so ses tot nege maande op die hormoonbehandeling bly. Ons was toe so gelukkig met die vordering dat ons dit rustig gevat het en gewag het vir jaareind 2020 en die tweede vlaag van Covid om verby te gaan voordat ek weer ernstig aan die mastektomie moes begin dink het.

Die dubbel-mastektomie

In die tussentyd is my jonger sussie ook met fase 0 borskanker gediagnoseer. Dit, en vele ander faktore, het daartoe bygedra dat ek besluit het op ’n dubbel-mastektomie met onmiddelike rekonstruksie, en limfnode biopsie, wat toe in Julie 2021 plaasgevind het.

Die operasie het goed afgeloop. Ek is in ’n daghospitaal behandel en dieselfde aand huistoe gestuur. My Ma en sussie het mooi na my gekyk en ’n paar dae later staan ek selfs patrone en verf op my huis se buitemure!

Slegte nuus

’n Paar weke later kom daar toe die slegte nuus dat twee van die drie limfnodes wat verwyder is, wel kankertumors bevat. Die genetika van die tumors wys toe dis ’n meer aggressiewe tipe kanker as in die oorspronklike tumor. Dit beteken hy is meer geneig om terug te kom. Dus vind ek toe vir die eerste keer uit dat ek wel chemoterapie en ook radiasie sou moes kry.

Dit was ’n groot skok vir my toe ek dag ek is nou klaar met kanker en kan voortgaan met my lewe!

My behandeling op die oomblik

Na 15 sessies radiasie begin ons toe met dag een van 16 sessies chemoterapie. Die eerste fase is vier sessies AC elke 3 weke: Die Rooi Duiwel. Hy is die groot bangmaker, die een wat jou hare vat. Ek het probeer om nie te veel te lees of te dink daaroor nie. Ek het maar net met moed en hoop ingestap. Die lieflike suster in die chemosaal het my toe sommer dadelik in trane toe sy sê: “Ag nee Marli, wat doen jy nou hier?”  Vroeër maande het ek net ingewals en uitgewals binne minute vir my Lucrin-inspuiting. Nou moet ek kom sit vir drie ure op ’n slag en die toksiese medisyne in my are laat invoer.

Pienk hare

Foto: Hannes de Wet

’n Maand voordat ek begin het met chemo, het ek begin dink daaraan dat ek my hare gaan verloor. Toe besluit ek, as hierdie hare in elkgeval gaan uitval, hoekom doen ek nie daarmee net wat ek wil nie. Aangesien ek ’n pienk rok wou dra vir my verjaarsdagpartytjie was skelpienk die keuse. Dit was regtig net ’n manier om krag terug te neem vir myself en nie soos ’n ‘victim’ van die situasie te voel nie.

Dit was ’n lawwe, mal besluit om pret te hê met iets wat eintlik aaklig is.

Marli het geleidelik haar hare begin korter knip

Geen hare

Ek het by my vriendinne wat reeds deur chemo is, gehoor dat jou hare so tussen twee tot drie weke na jou eerste “Rooi duiwel”-chemo begin uitval. Dit het toe weliswaar ook hier rondom dag 15 of 16 net in klossies begin uitval. Ek was baie onsteld daardie dag. Ek het toe my hare baie kort geknip, sodat daar min was om uit te val. Dit is net ’n vreemde ding. Ek het nie lekker geweet hoe om dit te hanteer nie. Ek het nie geweet of ek moet haarkapper toe gaan nie, of ek na my kêrel moet gaan dat hy my hare afskeer nie, moet my kinders by wees, moet my vriende by wees nie. Ek het gedink ek het myself voorberei, maar dit slaan jou steeds vir ’n ses.

Hare afskeer

Marli die dag nadat sy haar hare afgeskeer het.

Ek het toe ’n haarskeerder geleen en my sussie en twee van my beste vriende genooi, ons het klein bietjie wyn gedrink en my hare in allerhande snaakse style gesny sommer net vir die snaaks. Ek het toe my hare afgeskeer op ’n nommer een. Ek was heel giddy die aand met die idee en ondersteuning. Ek het gevoel of ek ’n tipe GI Jane styl het.  Maar dan hou daardie haartjies aan met uitval. En dit is seer en krapperig. As jy jou kop neersit op die kussing, dan steek dit jou. Dit lyk net soos ’n kaalkoppie en jou wimpers begin ook uitval en dan lyk jy nou nie so GI Jane-rig nie.

Met geen hare op die oomblik nie.

My nuwe spieëlbeeld

Ek hou nie daarvan om myself in die spieël te sien nie.  Ek voel die meeste van die tyd nie mooi of lekker nie. Dan begin ’n mens maar eksperimenteer met pruike en doeke. Dit is dan weer ’n hele nuwe paadjie wat jy moet begin stap om goed te voel oor jouself.

Die ‘rooi duiwel’

Dit is letterlik ’n pakkie rooi vloeistof wat hulle ophang aan jou IV-unit en in jou indrup. Sover ek verstaan (en ek probeer nie te veel te lees daaroor nie) is die ‘rooi duiwel’ een van die sterkste chemoterapieë wat daar is met die aakligste newe-effekte. Medici is gelukkig al baie beter om die newe-effekte te bestuur. Ek is darem op anti-naar medikasie voordat ek begin en dan bly jy op die medikasie.

Hoe die ‘rooi-duiwel’ en sy newe-effekte voel

Dit is moeilik om te beskryf hoe erg dit is. Jy voel heeltemal verwyder van jouself. Jy gaan vir ’n paar dae in ’n diep donker gat in, waar jy naar en nie lekker voel nie. Jy voel duiselig, aaklig en halfdood. Jy kan nie regtig dink of verander hoe jy voel of wat jy doen nie. Jy is in tipe van ’n beswyming. Ek kon gelukkig baie slaap daardeur.

Jy het nie ’n begrip van tyd nie en wanneer en of jy weer daar gaan uitkom nie. Gelukkig onthou ’n mens ook baie min daarvan.

Hierdie is natuurlik net my ervaring. Daar is mense wat werk dwarsdeur chemo-terapie, ek weet nie hoe hulle dit doen nie. Vir my was dit 2-5 dae van fisiese en emosionele hel na elke rooi duiwel chemo. Hy neem jou beslis hel toe, vandaar seker sy naam.

Woedegloede

Ek is nie iemand wat maklik kwaad word nie, en ek ken nie diep woede nie. Dit was vir my ’n unieke ervaring toe ek na so ’n uur tydens my eerste ‘rooi duiwel’ chemo, sien die ander mense se stoele kan platslaan om te lê. Toe ek besef my stoel kan nie platslaan nie (nadat ek graag wou platlê) is ek oorval deur intense woede. Ek was absoluut ontstoke. Gelukkig kon ek die woede vir myself hou. Ek het toe ’n suster geroep en redelik beheersd gevra hoekom my stoel nie ook kan platslaan nie. Nadat sy my meegedeel dat my stoel inderdaad nie kan platslaan nie, en daar geen anders stoele beskikbaar is nie, het ek weer so woedend gevoel. Gelukkig het sy my gehelp om op ’n bed te gaan lê.  

Dit was my eerste ervaring van ’n gevoel van absolute woede, ’n woede wat buite jouself is.

Die woedegloede is glo normaal

Ek met ander vroue wat ook chemoterapie ondergaan, gesels hieroor, en hulle het dit ook almal ondervind dat hulle lont baie kort is. Hulle is net oor die algemeen meer ongeduldig.

Die afgelope ruk het ek geleer om my woedegloede te hanteer, maar dit is vervang met hartseer. Ek voel of ek treur oor alles wat ek in die proses verloor het.

Die einde is in sig

My behandeling sal hopelik Mei 2022 klaar wees, behalwe vir maandelikse Lucrin-inspuitings en daaglikse Equisin pille.

Dit is ’n vreemde konsep om jouself te ‘vergiftig’ om ’n potensiële vyand te vernietig. Maar ek doen dit vir Marli 2027 wat 50 word. Vir Marli 2031 wanneer my dogter hoërskool klaarmaak. Vir Marli 2035 wanneer my seuntjie hoërskool klaarmaak. Ek doen vit vir Marli wat nog sal teruggaan na Positano. Vir Marli wat Suid-Afrika met ’n kampeerwa wil platreis. Vir Marli wat nog eendag ’n boek wil skryf.

Die siekte is ’n kragtige blik op realiteit, om te weet dat bogenoemde aan geen een van ons beloof word nie.

So wees geduldig in die verkeer. Bly kalm wanneer ons weer sonder elektrisiteit sit. Wanneer die kinders of honde jou mal maak. Lewe, hê lief en soek vreugde in elke gewone en magiese oomblik. Want dit is alles onbeskryflik mooi, hierdie barmhartige, oproerige, morserige, ongelooflike menslike ervaring.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
8 Kalmblywenke vir die jaareind se dol gejaag
error: Content is protected !!