Santa Shoe Box; ’n klein skoenboksie met groot betekenis

Wat as ’n eenvoudige skoenboksie vir ’n kind kan sê: “Iemand dink aan jou”? Dit is presies die idee agter die Santa Shoebox Project, wat vanjaar sy 20ste verjaardag vier. Saamgestel deur Suzanne Kotzé

Die hart van die Santa Shoe Box projek

Vir kinders wat min het, is daar is iets besonders aan ’n geskenk wat spesiaal vir jóú gekies is. Jou naam is daarop. Die klere is jou grootte. Die speelding is geskik vir jou ouderdom. En wanneer jy die boks oopmaak, besef jy: iemand wat my nie eens ken nie, het tyd gemaak om iets net vir my te kies. Veral as jy ’n kind is wat nog nooit iets van sy/haar eie gehad het nie.

Dít is die hart van die Santa Shoebox Project.

Op 1 September het die jaarlikse belofteseisoen amptelik geopen, en vanjaar is ’n spesiale jaar. Die projek vier twee dekades van omgee en het ’n groot doelwit: om meer as 80 000 kinders in nood te bereik. Tans wag 84 663 kinders om gekies te word.

Van 180 bokse tot 1,5 miljoen kinders

Die Santa Shoe Box storie het in 2006 in Kaapstad begin toe Irené Pieters en Dee Boehner die idee gehad het: om kinders tydens die feestyd iets te gee wat hulle s’n is. Hulle het hul eerste 180 skoenbokse in ’n gesinshuis ingesamel.

Niemand kon destyds voorsien hoe groot die projek sou word nie.

Vandag het die Santa Shoebox Project al meer as 1,5 miljoen kinders in Suid-Afrika en Namibië bereik. Met 70 afleweringspunte regoor die land, duisende skenkers en vrywilligers en ’n netwerk van organisasies wat saamwerk, het daardie eerste 180 bokse in ’n mooi storie ontluik, wat vandag miljoene lewens raak.

Meer as net ’n Kersgeskenk

Elke Santa Shoebox bevat agt noodsaaklike items:

  1. tandepasta,
  2. ’n tandeborsel,
  3. seep,
  4. ’n waslap,
  5. ’n nuwe stel klere,
  6. opvoedkundige benodigdhede,
  7. ’n speelding en
  8. lekkers.

Dit klink eenvoudig, maar vir ’n kind wat dalk nie altyd toegang tot basiese toiletware of nuwe klere het nie, kan hierdie items ’n wêreld se verskil maak.

En dan is daar natuurlik die speelding en lekkers, want elke kind verdien ook die pure vreugde van Kersfees.

Die grootste geskenk is egter dalk die gevoel wat die boks skep: ek is belangrik. Iemand het my raakgesien. Iemand het moeite gedoen vir my.

Van ontvanger tot gewer

Yona Gxasheka weet eerstehands hoe kragtig daardie gevoel kan wees.

In 2012, toe sy net 12 jaar oud was en haar ma verloor het, het Yona ’n Santa Shoebox by haar skool ontvang. Sy onthou steeds die opgewondenheid toe die geel vragmotor opdaag en hoe spesiaal dit was om ’n rok, bykomstighede en ’n speelding te kry. Jare later het sy die guns terugbetaal. Sy het self ’n Santa Shoebox vir ’n ander dogtertjie in haar gemeenskap gepak.

En só word ’n enkele daad van goedhartigheid ’n kettingreaksie.

Hoe kan jy deel word?

Dit is makliker as wat jy dink. Kies ’n kind op die Santa Shoebox-webwerf en pak ’n skoenboks met die agt verpligte items. Alles moet nuut en ouderdomsgepas wees.

Maak dit persoonlik. Kies ’n speelding waarvan jy dink die kind sal hou. Pak ’n uitrusting wat mooi pas. As jy kinders het, vra hulle om te help, want dit is goed dat bevoorregte kinders ook besef hoe bevoorreg hulle is. Skryf ’n persoonlike briefie. Draai die boks en deksel apart toe en sit vloeistowwe in ’n ziploc-sakkie vir ingeval dit lek.

Moenie medisyne, vitamiene, bederfbare kos, neute of speelgoed soos speelgoedgewere en -messe insluit nie.

Die bokse word gedurende Oktober en November by afleweringspunte regoor Suid-Afrika ontvang, gesorteer en voorberei vir oorhandiging by skole en versorgingsfasiliteite.

Hier is ’n lys van aflewertingspunte in Suid-Afrika.

As jy nie self ’n fisiese boks kan skenk nie, kan jy ook kies om ’n virtuele boks te skenk hier: https://santashoebox.org.za/virtual-santa-shoebox/

Wie weet? Die kind wat jy vandag kies, kan dalk eendag iemand anders se Kersfees verander.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
goeie gewoontes
Kweek goeie gewoontes só
error: Content is protected !!