Aktrise Crystal-Donna Roberts het self drie jaar gelede borskanker gehad en is deur ’n mastektomie, chemo en bestraling. Sy deel wat sy voel elke vrou met borskanker behoort te weet. Deur Suzanne Kotzé
Crystal-Donna Roberts se raad
1. Bly kalm
Probeer jou bes om so kalm as moontlik te bly.
2. Skep ’n aksieplan vir jou gesondheid
- Eet kos wat goed is vir jou liggaam.
- Kies oefening wat nie net goed is vir jou lyf nie, maar ook jou gemoed. Ek het joga ontdek en dit het my lewe verander!
- Slaap genoeg. Wanneer ek nie genoeg slaap nie, kan ek nie rasioneel dink nie, en dan voel alles oorweldigend en onbeheerbaar.
3. Huil as jy moet
Wanneer jy voel jy moet huil, huil totdat jy uitgehuil is.
4. Terug na jou aksieplan
As jy klaar gehuil het, fokus weer op jou aksieplan.
5. Wees versigtig vir die internet
Dit is goed om navorsing te doen oor borskanker en wat gebeur, maar wees versigtig vir die internet.
6. Wees lief vir jou lyf
Jou lyf huisves nou ’n ongenoooide gas en het ’n sterk imuunsisteem nodig om daardie gas grasieus uit te skop.
7. Kussings vir ’n mastektomie
Belê in goeie kussings; soos ’n swangerskapkussing. Dit sal slaap makliker maak.
8. Leesstof vir chemo
Jou chemosessie kan lank en vervelig word. Neem leesstof, gemmerlekkers (help met naarheid), ’n mussie (en of jou pruik) en komberse (dit is koud in die chemo-kamer) saam.
9. Doen aktiwiteite wat niks met kanker te doen het nie
Probeer om aktiwiteite te doen wat jou herinner aan wie JY is, weg van kanker.
Kanker is nie jou identiteit nie. Onthou altyd wie jy is, waarvoor jy lief is en hoekom jy lief is daarvoor.
Dit is nie net belangrik om aktiwiteite te doen om ons te herinner aan wie ons is nie, maar dit is ook ’n herinnering aan hoekom dit belangrik is om van die siekte te herstel.
10. Aanvaar hulp
Soms mag jy dalk voel asof jy ’n laspos is, maar dit is net die ‘ongenooide gas’ wat praat. Praat met wie ookal jy kan vertrou met jou gevoelens en aanvaar hulp.
11. Vir wie jy wat sê, is jou keuse
Dit is jou reg om inligting bekend te maak, of nie. Soms het jy nodig om om eers self te prosesseer en sin te maak voordat jy dit met ander deel. Neem jou tyd en deel wanneer jy gereed is. Bygesê moet jy ook kan erken as die stilte die punt van vervreemding bereik. Ek verstaan dat elkeen nie noodwendig in ’n posisie is waar hulle ’n nabyverhouding met mense het nie, maar ek voel tog verbale erkenning is die beginpunt van jou helingsproses.
12. Laat jouself toe om te heel
Jy is in ’n helingsproses en die proses het baie fases en lae. Laat jouself toe om te heel. Drink baie water, eet so gesond as wat jy kan terwyl jy steeds die mooi en lekker plesiere van die lewe geniet. Vind ’n balans. Ons liggame is wonderlik en is tot baie meer in staat as wat ons dink. ’n Tumor kan ons dit waartoe ons liggame in staat is, laat betwyfel, maar moenie dit daardie mag gee nie.
13. Klou vas aan jou moed
Daar is tye wanneer jy bang, hartseer en kwaad gaan wees. Dit is nodig en normaal, maar dan gaan jy ook ’n geweldige oplewing van wilskrag en moed kry. Hieraan moet jy vasklou.
Foto’s: Fotograaf en grimering: Anneri van @mooigemaak, bygestaan deur @klaragilbert.mua; hare: @prentjiemooigrimering , klere @lenalisa_designer, foto’s geneem by @hazendal_estate, assistent: @rouvierretolken