Hier is die mooiste somerhaarstyl-inspirasie; wie weet dalk help dit dat ons ligter en meer positief voel oor die jaar wat voorlê. Deur Suzanne Kotzé.
20/01/2023
Haarstyle wat krultange en haarysters benodig om mooi te lyk, is beslis nie nou realisties vir die meeste Suid-Afrikaners nie. Voordat jy op die oomblik enige nuwe haarstyle aandurf, hoor eers by jou haarstilis of dit by jou natuurlike haartekstuur pas, en hoe jy dit sonder hitte kan stileer om mooi te lyk.
Somerhaarstyl-inspirasie
Ons het hierdie mooi haarstyle van Intercoiffure Mondial se Euphoria-versameling raakgesien en laat dit jou nie net lekker voel om hierna te kyk nie? Met die versameling en fotosessie wou hulle juis optimisme en selfvertroue vasvang. En dit is presies wat ons ook nou nodig het!
Haarstyle wat nonchalant, sjiek en vol selfvertroue is, is die toonbeeld van die versameling.
Hierdie lob (lang bob) styl vang twee groot 2023 trends vas; die koperkleur en die shag snit (bekend gemaak deur Jane Fonda in die sewentigs). As jou hare ’n natuurlike golf het, is die styl ideaal vir jou.
Psst: Onthou net as jy die tipe vel het wat na een glas wyn of ligte oefening rooi word, is hierdie dalk nie die kleur vir jou nie, want dit mag dalk jou vel pienker laat lyk.
Lees ook: Amalia Uys se nuwe lob en nog 9 mooi lob-haarstyle
Platinumblond of ysblonde skakerings bly sekerlik van die gewildste (en duurste) kleure wat daar is. Saam met die klassieke eenlengte bob, is dit ’n wenkombinasie. Maak net seker jy het die tyd en geld om die haarkleur in stand te hou.
Lees ook: Moets en moenies vir gebleikte blonder hare
Die natuurlike tekstuur en effense koper spatsels kleur skep ’n styl vol selfvertroue.
’n Styl wat selfs sal mooi lyk as die Kaapse Suid-Ooster waai! ’n Subtiele, effens donkerder kleur op die wortels help dat uitgroei nie so vinnig sigbaar is nie, en lyk meer natuurlik.
Die wynrooi strepies (meer sigbaar in die gestileerde foto’s onder) skep beweging en tekstuur.
Lees ook: Die koelste inspirasie vir pixie-haarstyle wat jy nou moet probeer
Hierdie donkerbruin styl lyk glansend gesond en ryk. Die lengte is ook pragtig. As jy lang hare het en wil ‘korter’ gaan, is hierdie ’n goeie begin.
Die meer gestileerde weergawe
So lyk die haarsnitte se meer gestileerde weergawes. Dit is ons dalk nie tans beskore nie (behalwe as jy jou beurtkrag skedule goed vang). Dit is dalk makliker om hierdie foto’s vir jou haarstilis te wys,aangesien die kleure en snitte beter sigbaar is.
Lees ook: Haarkleur-inspirasie vir jou volgende salonbesoek
Foto’s: Rob Peetoom, Haarstiliste: Intercoiffure Mondial Artist Team (Markus Hermann, Duitsland, Linda Schuster (Swede), Bobby Thompson (VSA en Glenn Engels (België)