Droë voete? 6 slim wenke vir sagte, somergereed voete!

Mooi, sagte somersvoete begin nie by ‘n laaste minuut pedikuur voor jou volgende somervakansie nie. Dit begin by klein, konsekwente gewoontes.

Sandale, plakkies en kaalvoet op die strand loop is almal se somerdroom, maar jou hakke stem dalk nie saam nie. Droë voete en gebarste hakke is ‘n algemene probleem wanneer temperature begin styg. Gelukkig kan ‘n paar eenvoudige gewoontes ‘n groot verskil maak.

Vermy en behandel so droë voete en gebarste hakke, hier is 6 slim wenke. Deur Justine Kroes

Droë voete & gebarste hakke? Hier’s hoekom:

Ons het by podiater Nelfrie Kemp aangeklop vir raad oor hoe om gebarste hakke te voorkom en wat om te doen wanneer jou voete reeds ‘n bietjie somer droogheid begin wys.

“Gebarste hakke ontstaan wanneer die vel rondom die hak droog en dik word. Die vel verloor sy soepelheid en kan onder druk begin skeur, verduidelik Nelfrie.

“Droë of gebarste hakke word dikwels vererger deur kaalvoet te loop, oop skoene te dra asook skoene te kies wat nie genoeg ondersteuning bied nie”.

6 Wenke vir sagter somervoete: koebaai droë voete gebarste hakke!

1. Jou skoenkeuse kan die probleem vererger

Ons verstaan, dit is somer en niemand wil heeldag toe skoene dra nie. Maar jou gunsteling plakkies is dalk nie die beste keuse vir jou gebarste hakke nie.

Volgens Nelfrie kan oop skoene, plat skoene en kaalvoet loop bydra tot die opbou van harde vel rondom die hakke. Skoene met ‘n oop agterkant bied min ondersteuning, wat veroorsaak dat die sagte vetkussing onder jou hak onder druk sywaarts uitsit. Die vel kan gevolglik verdik en begin kraak.

Selfs die gewilde inglip-sandale met ‘n hakgedeelte wat knus rondom jou hak sit, kan wrywing tussen die skoen en jou vel veroorsaak, wat natuurlik die onstaan van harde vel veroorsaak.

Nelfrie se raad: Probeer om waar moontlik toe skoene met sokkies te dra. Wanneer jy sandale kies, gaan eerder vir ‘n paar met goeie ondersteuning en ‘n effense hakhoogte. Dit kan help om die druk op jou hakke te verminder.

2. Bevogtiging is nie onderhandelbaar nie

As daar een ding is wat jy uit hierdie artikel moet onthou, is dit die volgende: bevogtig jou voete elke dag!

Nelfrie beveel aan dat jy voetroom deel van jou daaglikse roetine maak. Wend dit soggens ná jou stort aan en trek ‘n paar sokkies aan terwyl jy aantrek, die kinders aflaai of werk toe ry. Ná ongeveer 30 minute behoort die room geabsorbeer te wees sodat jy jou sandale kan aantrek.

Nog ‘n slim wenk? Wend voetroom aan voordat jy jou oefenskoene aantrek. Selfs al gaan jy net vir ‘n halfuur gim toe of Pilates doen, dan kry jou voete darem daardie ekstra hidrasie.

Wend ná jou stort ‘n dik laag room aan en trek vir ‘n uur of twee katoensokkies oor jou voete aan. As dit te warm is om met sokkies te slaap, kan jy dit eenvoudig uittrek voordat jy gaan slaap.

3. Kies die regte voetroom

Nie alle voetrome is dieselfde nie. Wanneer jou hakke baie droog, grof of gebars is, is ‘n gewone lyfroom dalk nie genoeg nie.

Soek ‘n spesifieke voetroom of hakbalsem wat bestanddele soos ureum (urea) bevat, is Nelfrie se raad. Dit help nie net om jou voete te bevogtig nie, maar kan ook help om verdikte, dooie velselle sagter te maak.

Vir erge droë hakke kan ‘n room met ongeveer 10 tot 25% ureum ‘n goeie opsie wees. Begin met ‘n geskikte konsentrasie en vra jou apteker of podiater vir raad indien jy onseker is.

4. Moenie die voetvyl oordoen nie

‘n Voetvyl kan help om die opbou van harde vel te beheer, maar meer is beslis nie altyd beter nie.

Gebruik ‘n voetvyl of puimsteen liggies om los, dooie velle te verwyder. Jy kan jou voete vooraf vir tien minute in lou water week om die harde vel sagter te maak.

Vermy ‘n aggressiewe skrop aksie, veral wanneer daar reeds krakies is. Moet ook nooit probeer om harde vel met ‘n skêr, skeermes of ander skerp voorwerp af te sny nie. Jy kan maklik die gesonde vel beskadig en infeksie veroorsaak.

5. Gee jou voete ‘n blaaskans van sandale

Ons gaan jou nie vra om jou somersandale heeltemal weg te pak nie, maar probeer om jou oop somerskoene af te wissel.

Op dae wanneer jy toe skoene kan dra, kies gemaklike tekkies met sokkies. Dit help om jou hakke te beskerm teen wrywing en teen verdere uitdroging.

Vermy skoene wat te los sit, teen jou hakke skuur of nie genoeg ondersteuning bied nie. Dit is ook die moeite werd om na sagte binnesole of hakstutte te kyk indien jou skoene ekstra ondersteuning benodig.

6. Wat as my hakke reeds gekraak of gebars is?

As jou hakke reeds dik lae harde vel of diep krake het, is dit nie noodwendig iets wat jy met nog ‘n voetvyl en room gaan regmaak nie.

Nelfrie beveel aan dat jy aan die begin van die somerseisoen ‘n podiater besoek indien jy reeds ‘n aansienlike opbou van harde vel of gebarste hakke het. ‘n Professionele persoon kan die verdikte vel veilig verminder en jou help om die onderliggende oorsaak aan te spreek.

Moenie wag totdat die krake seer raak, begin bloei of loop vir jou ongemaklik voel nie. Dieper krake kan boonop ‘n infeksie veroorsaak.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
grys hare
Wys jou grys hare (met trots)
error: Content is protected !!