Ons is moeg van rooi vlaggies (en ‘triggers’ en negatiwiteit) en fokus ons energie eerder op groen vriendskapvlaggies om vriende en vriendskappe wat ons laat goed voel te vier. Rolanda Marais gesels oor haar Mimosa-girls se vriendskap (en dit is nooit te laat om jou eie ‘tribe’ te ontmoet nie). Deur Suzanne Kotzé
Rooi, beige en groen vlaggies
Hierdie konsep van rooi vlaggies en groen vlaggies is veral bekend gemaak deur sielkundinge dr. Ali Fenwick in sy boek “Red Flags, Green Flags: Modern psychology for everyday drama”
Soos ’n rooi verkeerslig dui rooi vlaggies (negatiewe/toksiese karakter-eienskappe) daarop dat dit tyd is om jou verhouding of vriendskap te beëindig terwyl groen vlaggies (positiewe eienskappe) daarop dui dat dit die moeite werd is om aan te gaan.
Verhoudings is natuurlik nie so eenvoudig soos groen en rooi nie, en eienskappe sonder konteks of omstandighede werk ook nie regtig nie.
Beige vlaggies
Daar is deesdae selfs beige vlaggies ook. En as jy nie weet waarna dit verwys nie, dit is bekend gemaak deur TikTokker Lois Choi (@lois_choi) wat verduidelik dat ’n beige vlag nie goed of sleg is nie, maar jou wel vir ’n oomblik laat nadink as jy dit sien en dan weer aangaan. Iets vreemds.” Die woorde skadeloos, ‘quirky’ of ‘quirks’ word ook dikwels hiermee saam gebruik en dit word gewoonlik in die konteks van ‘dating’ gebruik.
Groen vriendskapvlaggies
Een van ons gunsteling motiveringsprekers, Mel Robbins, het onlangs ’n oulike Instagram post gedoen oor groen vriendskapvlaggies en dit het ons laat nadink oor wat ons groen vriendskapvlaggies is.
Rolanda Marais oor haar groen-vlaggie-vriendinne, die Mimosa girls
Aktrise Rolanda Marais vertel ons oor haar Mimosa girls:
“Ek het in 2017 terug Kaap toe getrek nadat ek vir 10 jaar in Johannesburg was. Toe ons terug getrek het, het ek nie nie meer regtig vriende gehad nie, want ek was die enigste een met ’n baba. Ek het nogal depressief gevoel, want ek het nie meer ’n tribe gehad nie.
So vyf jaar gelede het ’n kennis gesê ek moet kom koffie drink saam met haar vriendinne. En daar ontmoet ek die groep fabulous vroue. Ons was almal min of meer in dieselfde bootjie met kinders.
Dit is die eerste keer in my lewe dat ek my tribe gevind het, en dit in my veertigs!
Nadat ek my lewe lank eintlik maar ’n loner was, wat gesukkel het om in groepe te kuier. En dit is die lekkerste vriendskap. Dit vul my met soveel hoop dat ’n mens op hierdie ouderdom regtig jou goue vriende kan ontmoet.
Dis nooit te laat om daardie spesiale vriende te ontmoet nie. En ek weet hulle gaan lewenslank my vriendinne wees.
Die groen vlaggies van die Mimosa-vriendskap
1. Daar is geen verwagtinge nie
Almal check in met mekaar, maar daar is byvoorbeeld geen verwagtinge dat ons almal die heeltyd bymekaar moet kom nie, want dit is net onmoontlik met almal se besige skedules. Ons het nie tyd nie en ons almal verstaan. Dit is ’n rare okkasie as ons mekaar sien, maar ons laat dit tel. Ons probeer so twee keer per jaar saam weggaan, sonder kinders en mans.
2. Ons herlaai mekaar se batterye
As ek wegloop van ons kuiertjies voel ek ‘revived’, ek voel my batterye is herlaai. Dis net so ’n lekker kombinasie van geselsers; die een is baie snaaks, en almal is doodeerlik sonder om te oordeel.
3. Ons vriendskap is terapeuties
Ons saam te wees, voel dikwels soos ’n terapiesessie. Ons lê soms soos ons lag, en soms huil ons. En ons deel soms goed wat ons nie eens met ons lewensmaats deel nie, want soms is dit oor hulle of soms is dit goed wat net ’n ma regtig verstaan. Dit is so lekker om ’n groep vriendinne te hê wat presies weet en verstaan. Ons loop ook nie ligtelik om mekaar nie, en is eerlik met mekaar.
4. Ons sien en hoor mekaar
Iets wat my regtig opval met hierdie groep vriendinne is dat “I feel seen and heard” En dit is iets wat ons almal nodig het.
5. Laat my goed voel oor myself
My vriendinne is almal so ongelooflik talentvol, en die feit dat hulle my as vriendin ag, laat my sommer voel of ek ook die moeite werd is.
6. Ons vier mekaar
Ons maak byvoorbeeld ’n punt daarvan om op verjaarsdae die ‘Mimosa’ wat verjaar se lof te besing. En soms is ons lekker laf saam.
Nog groen vriendskapvlaggies om te vier
Is altyd daar vir jou
In goeie en slegte tye. Hetsy dit ’n bos blomme is as jy af voel, of ’n glas sjampanje om iets goed (en nie net die groot goed nie) te vier. Of selfs net ’n ondersteunende WhatsApp.
Luister intensioneel
Die belangrikheid van waarlik luister, sonder om te dink wat jy wil terugsê of vertel, het ons by sielkundige Gerda Kriel geleer. Om intensioneel te luister en dan te herhaal wat die persoon gesê het in jou eie woorde, wys jy het geluister en so maak jy ook seker dat jy reg verstaan het.
Lees ook: 8 Wenke om dieper vriendskappe te kweek
Aanvaar jou soos jy is
Hierdie kom dikwels met lang vriendskappe wat al oor jare strek. Nuwe vriendskappe is dikwels met mense wat of in dieselfde lewensfase as jy is, of soos jy dink of voel. Met jarelange vriendskappe het mens dikwels verskillende waardes of belange, maar aanvaar en respekteer mekaar soos julle is. Dit beteken nie dat julle mekaar nie uitdaag nie.
Om saam tyd deur te bring laat jou gelukkig en goed voel
Alles is natuurlik nie altyd maanskyn en rose nie, en dit is belangrik dat ons met vriende kan praat oor moelike goed ook. Maar om weg te stap van tyd saam met ’n vriendin of vriendinne/vriende en goed te voel, oor jouself of die lewe of julle vriendskap is so belangrik. Wie wil nie weer glimlag (of so op jou eie uitbars van die lag) as jy aan ’n snaakse oomblik dink wat julle gedeel het nie!
Respekteer jou spasie
Soms is die lewe besig, of jy voel af en het eers jou spasie nodig om die gebeure en jou gevoelens te verwerk en groenvlaggie vriende gun dit vir jou (tot op ’n punt). Tot wanneer jy weer reg is. Sonder oordeel.
Doen moeite
Vriende wat uitreik, die kuier reël, die boodskap stuur, die geld vir die aflewering van blomme insamel.
Vier gerus jou vriende en vriendinne, en onthou soos Rolanda sê dit is nooit te laat om jou ‘tribe’ te ontdek nie.
Sukkel jy om nuwe vriende te maak nadat julle verhuis het? Lees gerus hier: Nuwe vriendskappe, ver van huis, nêrens tuis