vriendskap
vriendskap

8 wenke om dieper vriendskappe te kweek

Vriende, vriendinne, jou ‘tribe’, jou hartsmense, jou vriendskappe. Woorde wat die geliefdes wat jy in jou lewe self kies, beskryf. Hulle kleur die lewe in, sit die vonkel in jou oog, en is ’n geduldige oor wanneer die lewe druk. Vriendskappe is egter nie verhoudings wat moeiteloos blom nie, en, net soos delikate plantjies, groei hulle optimaal onder die regte omstandighede. As jy voel asof jou vriendskappe ’n bietjie ekstra aandag nodig het, volg hierdie wenke. Deur Gerda Kriel

Wenke vir dieper vriendskappe

1. Wees intensioneel:

In ’n tyd waarin sosiale media ons maatstaf vir die lewe word, is dit maklik om te voel of jy tientalle (of honderdtalle) vriendskappe moet hê om werklik gelukkig te wees. Die teendeel is egter waar: dit is beter om een of twee werklike diep vriendskappe te hê en koester, as talle oppervlakkige konneksies. Die meeste mense kan hoogstens agt hegte vriendskappe onderhou, en slegs een of twee werklike intieme vriendskappe.

Kies die vriendskappe waaraan jy tyd wil bestee, en maak moeite!

2. Stel (en respekteer) gesonde grense:

Dis belangrik om te weet waar jou eie grense is, sodat jy dit aan jou vriende kan kommunikeer, deur nee te sê vir dinge waarvoor jy nie kans sien nie.

Dit kan so eenvoudig wees soos om nee te sê vir die vriendin wat altyd vir gunste vra, en aan haar te verduidelik dat dit jou wrokkig maak teenoor haar.

Gesonde grense maak jou veilig vir mense rondom jou: hulle weet wat om te verwag, en jy word nie uitgebrand terwyl jy alles vir almal probeer wees nie. Grense stel jou ook in staat om te weet wat jou vriende se voor-en afkeure is. So kan die vriendskap veilig wees vir beide partye, en weet almal wat om te verwag. Sê dus gerus vir jou vriendinne wat jy geniet en wat jy verkies om nie te doen nie, eerder as dat jy toelaat dat wrokkigheid inkruip in jou verhouding!

3. Daag op:

Dit klink vanselfsprekend, maar jou fisieke teenwoordigheid is ’n hoeksteen vir vriendskappe om te groei! So daag op vir partytjies, vir ooievaarstees, vir ‘girl’s nights’ en vir sommer-net oomblikke. Daag op met kos as iemand siek is, met blomme as iemand hartseer is, of met leë hande as iemand net ’n oor nodig het.

4. Vier mekaar:

Of dit nou verjaarsdae, nuwe babas, nuwe haarstyle of ’n nuwe geliefde is: vier mekaar se vreugdes. Navorsing dui daarop dat positiewe ervarings die hormoon serotonien in ons breine afskei, en dat wanneer mense saam goeie dinge ervaar, die herinnering versterk word omdat die brein boonop oksitosien ook vrystel. Oksitosien is die hormoon wat verantwoordelik is vir ons ervaring van intimiteit en nabyheid!

Om sulke kosbare herinneringe te deel, bou ’n fondasie vir vriendskappe en skep ’n skatkis waaraan julle saam kan terugdink in later jare.

5. Luister:

Om werklik aktief na iemand te luister, sonder vooropgestelde idees oor wat jou antwoord moet wees, skep vertroue en nabyheid in vriendskappe.

Aktiewe luister behels om te luister, sonder om ’n antwoord in jou gedagtes te formuleer terwyl die persoon praat. Daarna reflekteer jy dit wat jy gehoor het terug aan die persoon voordat jy ’n antwoord gee.

Om te reflekteer beteken om in jou eie woorde te herhaal wat die persoon vir jou gesê het.

Deur dit te doen gee jy ook vir hulle die kans om te kommunikeer of jy hulle wel reg gehoor het, en of jy dalk iets van die nuanse misverstaan het. Op hierdie manier word misverstande vinnig hokgeslaan. Aktiewe luister is een van die grootste geskenke wat jy jou vriende kan gee.

6. Wees soms verspot saam:

Lag saam. Gun mekaar die vrydheid om opregte vreugde saam te beleef, en om saam te lag en saam net pret te hê.

Bordspeletjie-aande, kampvure, pretritte en sommer net speel, bou vriendskapsbande op langdurende wyses. Dis maklik om te ernstig te wees in volwasse vriendskappe, maar daar lê wysheid daarin om regtig net saam te speel ook!

7. Verloor jou kritiese stem:

Dis so maklik om kritiek te lewer op jou vriendin se keuses, besluite of leefstyl. Maar elke stukkie kritiek breek die vriendskapsmure af. Ons breine kies gewoonlik om eerder krities te wees as opbouend, maar as jy oor en oor die keuse maak om nie krities te wees nie, sal dit mettertyd natuurliker kom, soos wat jou brein meer geoefen raak.

8. Moet nooit oor jou vriendin skinder nie:

Jip, ons almal was al hieraan skuldig, waar jy jou in iemand se geselskap bevind, en jou vriendin word die punt van bespreking. As jy intensioneel wil fokus op julle vriendskap, moet jy weet dat skinder vertroue tussen vriende erodeer, en dat dit uiteindelik net skade aan julle vriendskap kan aanbring.

Om af te sluit, wil ek jou herinner hoekom dit die moeite werd is om vriendskappe te koester. Vriendskap is konneksie, die lewenslyn wat ons aan mekaar bind. Brené Brown skryf daaroor in haar boek, Daring Greatly:

Connection is the energy that is created between people when they feel seen, heard and valued, when they can give and receive without judgment.”

Brené Brown

Vriendskap is ’n geskenk wat ons alte graag wil ontvang. Maar ook juis moeite moet maak om weg te gee, omdat dit veelvoudig terugkom in die vorm van konneksie.

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Oorkom jou skermverslawing
Oorkom jou skermverslawing so
error: Content is protected !!