12 Begrotingsvriendelike dekortruuks en wenke

Dekorveranderinge behoort nie altyd jou bankbalans negatief te beïnvloed nie, met ’n klein bietjie kreatiwiteit en ’n paar slim truuks kan jy ’n hele nuwe voorkoms aan jou spasie gee, sonder dat jy duisende rande spandeer. Hier is 12 begrotingsvriendelike dekortruuks wat blitsvinnig jou spasie sal verfris. Deur Justine Kroes

12 Eenvoudige begrotingsvriendelike dekortruuks;

1. ’n Vars lagie verf

Verf is ’n meer begrotingsvriendelike manier om ’n kamer te transformeer, hetsy jy ’n helder aksentmuur verf of ’n kraakvars wit vertrek.

’n Lagie verf laat ’n spasie soos nuut voel en het die krag om die atmosfeer en gevoel van ’n spasie te verander.

2. Gebruik spieëls om ruimte te skep

’n Spieël wat op die regte plek geplaas word, selfs in die kleinste kamer, kan die kamer groter en meer oop laat voel.

Die truuk is om jou spieël so naby aan moontlik aan ’n vester te plaas sodat dit natuurlike lig van buite af in die spasie reflekteer om die spasie selfs nog groter en meer lig en ruim te laat voel.

3. Bring die natuur binne

Groen plante en blomme bring die gevoel van lewe na ’n spasie. Daar is min dinge wat ’n spasie so lewendig laat voel soos ’n pragtige groen plant. Jy kan boonop plante op soveel verskillende maniere in jou spasie ’n dekorfokuspunt maak. Laat rank gerus plante teen spieëls op, of van jou rakke af.

Selfs net ’n interessante plant met unieke blare in ’n mooi keramiekpot trek dadelik aandag. Dink gerus ook aan ’n mooi groot plant in die hoek van ’n vertrek, dit kan ’n spasie omtower en super stylvol laat lyk.

As plante vir jou te veel werk is, probeer gedroogde plante of blomme wat minder sorg en aandag benodig maar steeds ’n warmer en intensionele dekorgevoel skep.

4. Herrangskik jou meubels

Partykeer is die heel beste verandering aan jou spasie een wat jou geen geld uit die sak jaag nie. Skuif eenvoudig jou meubels rond en eksperimenteer met ’n paar meubels op verskillende plekke, jou rusbank in ’n ander rigting, of jou etenstafel na ’n nuwe posisie in jou huis.

Jy sal verbaas wees hoe verskillend die rondskuif van ‘n paar meubels die vloei van jou huis verander.

5. Eksperimenteer met verskillende lae

Ruil jou bank se kussingoortreksels met iets helders of ’n sloop met tekstuur. Selfs die komberse wat jy oor jou bank of bed laat rus kan die gevoel van ’n spasie dadelik opkikker en warmer laat voel.

’n Mat tel ook as een van die “lae” in jou spasie. Deur ’n mat neer te lê waar daar voorheen nooit een was nie, sal die voorkoms (en gevoel) van jou spasie dadelik verander.

Om met verskillende tekstiele, materiale en skakerings te eksperimenteer, kan ’n groot impak hê sonder om duisende rande te spandeer op ’n nuwe bank byvoorbeeld.

6. Doen dit self muurkuns

Jy het nie duur muurkuns nodig om ’n stelling in jou spasie te maak nie. Eksperimenteer met verskillende tipes muurkuns, en skep ’n galerymuur met van jou gunsteling fotos, kuns of kunsafdrukke wat jy oor die jare versamel het. Jy kan selfs vir ’n tikkie kleur rame verf of helder stukke materiaal raam.

En indien jy kans sien, kan jy jou eie abstrakte kunswerke verf en raam.

Lees hier hoe om ’n doen-dit-self galerymuur aan te pak:

7. Koop in jou eie huis

Voordat jy uitgaan en iets nuut gaan koop, kyk eers ’n bietjie rond in jou eie huis om te sien wat jy reeds het. Daardie mooi blompot wat heel agter in jou kas weggepak is, of daardie ou lamp wat in die gastekamer staan.

Hierdie items is dalk net die perfekte dekoritem wat jy nodig het om ’n spasie op te kikker.

8. Ruil jou handvatsels of deurknoppe

Hierdie een werk, ons het onlangs ons kasdeure se handvatsels geruil en kon nie die verskil glo wat dit maak nie. En sommer ’n sakpas verandering daarby met nuwe handvatsels wat ons maar R26 per handvatsel gekos het.

Jy kan hierdie in jou kombuis ook probeer, jy sal verbaas wees hoe jy die hele voorkoms van ’n kas kan verander en meer modern laat lyk deur net die knoppe en handvatsels te vervang.

Die opsies is eindeloos, van kunstig en handgeverfde knoppe, tot meer moderne goud en swart mat handvatsels.

9. Beligting maak ’n reuseverskil

Die krag van beligting is ’n uiterse belangrike ontwerpelement, en kan die gevoel van ’n spasie dadelik verander. Deur selfs net jou koeler/ wit lig gloeiampies met warmer skakerings te vervang sal reeds ’n groot verskil maak. Die koeler lig voel koud en klinies en ’n warmer tipe gloeilampie voel verwelkomend en koesterend.

Jy kan natuurlik ook rondspeel met verskillende tipes beligtingidees, soos byvoorbeeld staanlampe in die hoek van ’n spasie vir diepte en dimensie. Of eksperimenteer met strook beligting onder jou trappe.

Lees gerus hier vir ’n paar idees met maklike asook begrotingsvriendelike beligting idees:

10. Herrangskik jou koffietafel, rakke en boekrakke

’n Sakpas manier om die gevoel van jou spasie te verander is om jou rakke, toonbakke of selfs koffietafels te herrangskik.

’n Koffietafel of ’n boekrak is dikwels die fokuspunt van ’n leefarea, en die manier waarop dit gestileer word, kan ’n groot impak hê op die algehele voorkoms van die vertrek

Jy sal verbaas wees hoe ’n intensionele regpak, wegpak en herrangskik sessie jou spasie kan verander.

Stileer jou rakke en boekrakke soos ‘n kenner, hier’s hoe.

En hier is ook raad oor om jou koffietafel te stileer:

Koffietafel stilering, moets en moenies

11. Stylvolle stoorplek

Stoorplek hoef nie noodwendig vervelig te wees nie, maak gebruik van slim truuks en planne vir jou stoorplek. Dink aan geweefde mandjies wat tekstuur en warmte aan ’n spasie bied en die perfekte stoorplek is vir kinders se speelgoed of opgerolde kombersies.

12. Roteer jou dekor met die verandering van seisoen

Hou dit interessant en ruil elke seisoen jou dekoritems uit, byvoorbeeld sagter, warmer kombersies op banke en beddens in die winter en weer ligter, helderder kombersies tydens somermaande. Dieselfde truuk met strooikussings werk net so goed.

Jy het nie noodwendig nodig om altyd nuwes te koop nie, skuif intensioneel dekoritems in jou huis rond en gebruik wat jy het.

Groot impak veranderinge beteken nie noodwending groot geld spandeer nie. Met ’n klein tikkie kreatiwiteit en ’n paar slim uitruil-veranderinge kan jy weer van voor af verlief raak op die dekor in jou huis sonder om jou beursie om te keer.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
plante vir jou slaapkamer
Plante in jou slaapkamer; hier is raad
error: Content is protected !!