Dit is so lekker wanneer jy jou buite area kan geniet tydens die somer, of dit nou vir ’n oggend koffie is of ’n glas wyn na ’n lang dag se werk.
Jou buite area en sitplek situasie hoef nie ingewikkeld of duur te wees om ’n groot impak te maak nie. Of jy nou van ’n ontspanne tuinkuier area hou, of ’n kleurvolle patio of selfs net ’n knus balkon hou, fokus op gemaklike sitplek, praktiese materiale en ’n paar persoonlike dekorelemente.
Ons deel ses wenke om jou te help ’n buitekuier oase te skep waar jy kan terugsit, ontspan en die somer ten volle geniet. Deur Justine Kroes
Ses eenvoudige idees en wenke vir jou buitekuier oase
1. Skep ’n buite “leefkamer”
Bring daardie selfde gemak wat jy tans in jou binne leefarea geniet na buite.
Met ’n gemaklike rusbank, stoele en ’n koffietafel. Selfs die regte mat kan die spasie bymekaar trek en meer intensioneel laat voel.

Skuif die meubels, stoele en banke sodat die spasie soos ‘n knus leefarea voel.
Wenk: kies meubels, kussings en matte in weerbestande materiale wat nie vinnig sal beskadig in die harde Suide-Afrikaanse son en reënweer nie.
Kyk uit vir die volgende tipes buitemeubels:
Aluminium
Aliminium is sterk, duursaam en verg min tot geen onderhoud. Die meubels is ook lekker lig en kan maklik rondgeskuif word indien nodig.
Bedekte staal
Staal is nog ’n opsie indien aliminium nie jou begroting pas nie.
Stofferingsmateriaal
Enige kussings wat geskik is vir buitegebruik moet ’n hoë UV-bestande telling hê, dit moet kleurvas wees, ’n hoë “rub count” hê, en mufbestand wees. Selfs die binneste deel (inner) van die kussings sal van ’n spesiale spons gemaak moet word wat vogweerstandig is.
2. Hou dit natuurlik
Geweefde meubels, of meubels in hout en natuurlike teksture skep ’n gemaklike en tydlose voorkoms. Hou die skakerings natuurlik en lig vir ’n neutrale maar steeeds stylvolle spasie.

Maak gebruik van teksture in kussings en dekor elemente soos steen of klip om die spasie af te rond en karakter te gee.

Kussings in geweefde en natuurlike skakerings en potplante in die spasie rond die area mooi af.
Indien jy natuurlike, hout en geweefde tipe meubels verkies, hou hierdie in gedagte:
Tou
UV bestande poliëstertou word ook gebruik om interessante en unieke ontwerpe en meubelstukke te skep. Die tou is weerstandig teen alle weerkondisies. Dit skep ook ’n meer gemaklike sitplek op bankies
All weather wicker / resin wicker
Indien jy op die “riet” oftewel wicker afwerking besluit, kyk uit vir woorde soos “High Density Polyethylene (HDPE) wicker” en nie ’n goedkoop plastiek of PVC Wicker nie
Hout
Hout is ’n hoë onderhoud materiaal vir buitemeubels en sal gereeld afgeskuur en vernis moet word. Iroko – African Teak, is ’n goeie keuse en dit sal die beste hou in die meeste weerkondisies.
3. ’n Tikkie kleur vir ’n goedvoel spasie
Somer is die perfekte tyd om ’n ekstra bietjie kleur in ’n spasie in te bring.


Dink aan helder strooikussings, gestreepte lap of kleurvolle stoele en meubels. Hierdie kleurinspuiting het die dekorkrag om blitsvinnig jou buite area op te kikker.

Op die oomblik hou ons van geel of groen dekorelemente maar rooi en helder reënboog kleure laat ons net so opgewonde voel.

Indien jy huiwerig voel oor al die kleur, hou jou meubels neutraal en laat jou dekorelemente en bykomstighede die praatwerk doen!
4. Maak die meeste van ’n klein spasie
Jy het nie ’n reuse tuin nodig om ’n pragtige buiteleef area te skep nie.

’n Klein bistrotafeltjie en twee stoele kan blitsvinnig ’n balkon of binnehof transformeer.

Dink aan slim planne met die spasie wat jy het. ’n Ingeboude bankie en kussings met ’n plantboks in die rugleuning dien nie net as ’n gemaklike sitplek nie maar is ook funksioneel met ’n klein tuintjie ingesluit.

5. Moet nie van skaduwee vergeet nie
’n Gemaklike sitplek is net een helfte van die probleem opgelos as daar geen skadukolletjie is nie.
’n Groot sambreel of skadunet kan jou buite area soveel meer bruikbaar maak op warm somersdae.
Onthou die ekstra skaduwee van die son sal boonop jou meubels en dekorelemente soos kussings beskerm.
6. Skep ’n knus atmosfeer
Dit is die klein elemente wat ’n buite area spesiaal en uniek anders laat voel. Dink aan elemente soos beligting, liggies en lanterns wat ’n gesellige atmosfeer skep.

’n Paar opgerolde kombersies vir aande wanneer die koeler raak.

Kanttafeltjies vir ’n gemaklike neersitplek vir drankies of versnaperinge.

’n Voetstoeltjie vir meer gemaklik agteroor sit.





