Kyk jy ook altyd na ander se pragtige galerymure – maar weet net nie hoe of waar om met jou eie te begin nie? Ons het vir kenner Katy Ward, eienaar van Jasper & Jute haar top galerymuurwenke gevra. Katy deel stap vir stap hoe om jou eie galerymuur aan te pak plus galerymuurfoute om te vermy. Saamgestel deur Justine Kroes
25/10/20
5 Galerymuur wenke
1. Besluit op ’n tema en gevoel wat jy wil skep
Katy Ward van Jasper & Jute se eerste wenk: besluit op ’n tema, ’n rigting of ’n gevoel wat jy wil hê vir jou galerymuur. Is jou kunskeuses eklekties, ’n dinamiese kombinasie wat die ontwerp van jou kamer komplementeer of selfs die spasie jukstaponeer. Of eerder ’n gevoel van soortgelyke ontwerpe wat die spasie rondom die galerymuur goed pas.

2. Meng en pas kunswerke
Hier is dit belangrik om met ’n klompie verskillende kunswerke en afdrukke (prints) te eksperimenteer. Meng en pas elke kunswerk of afdruk om ‘n goeie afgeronde versameling te kies wat goed saamwerk. Meng en pas totdat dit vir jou reg voel vir die spasie wat jy wil vul, is Katy se raad.
Klik hier vir kunswerke en prints van Jasper & Jute

3. Eksperimenteer met rame
Die volgende stap in Katy se proses is om met verskillende tipes rame te eksperimenteer. Katy sê “besluit of jy van een kleur of afwerking hou vir al die rame of eerder verskillende skakerings en afwerkings saam vir jou galery muur. Katy se topwenk “Sluit ’n “window mount” (wit spasie rondom ’n kunswerk) in by van die kunswerke en weer by ander nie.

4. Balanseer die visuele gewig
Versprei die visuele gewig so eweredig as moontlik oor die muur. Katy se wenk; “skep hierdie tipe balans deur portretstyl en landskapstyl kunswerke en afdrukke te kombineer op jou galerymuur.

5. Hang dit reg
Hierdie is belangrik verduidelik Katy; Die galerymuur hoort die middelpunt van jou muurspasie te wees. Die kunswerk wat in die middel sit behoort op ’n gemiddelde ooghoogte te hang.
Hier’s hoe verduidelik Katy: “Begin in die middelpunt van die muur (neem hoogte en wydte in ag) en plaas jou kunswerk wat jy graag in die middel van die galeryversameling wil hê hier. Werk dan vanaf hierdie middelpunt na buite met die ander kunswerke.
’n Handige reël om te onthou is om 80 na 100 mm spasie tussen die kunswerke te behou.
Toets jou uitleg, is Katy se volgende wenk. Maak jou eie “oefenuitleg” en knip dieselfde vorm en groottes van jou rame uit koerantpapier uit. Speel rond en plak hierdie “oefenuitleg” teen die muur vas totdat die uitleg en spasie tussen die kunswerke vir jou reg lyk.

Vermy hierdie galerymuur foute:
1. Als moet eksie perfeksie bymekaar pas
Wees avontuurlustig in jou keuse van kuns – vertrou jou kreatiewe/intuitiewe oog as jou gids. Probeer om balans te vind in jou kleurkeuses. Behou die tema met ’n dun goue draad wat al die kunswerke soos dieselfde gesin laat voel, maar net genoeg sodat elke kunswerk steeds uniek en op sy eie kan uitstaan. In eenvoudige terme verduidelik Katy “maak dit interessant, maar nie te “matchy matchy” nie, net uniek met ’n samehangende gevoel.
Katy sê; moet nie die gemaklike fout maak om kunswerke uit dieselfde kleurpalet, genre of styl te kies nie. Raak kreatief en kom uit daardie gemaksone – dit maak gewoonlik vir die heel beste galerymure.

2. Jou galerymuur is te klein
Moet ook nie te klein gaan nie, maak seker jou uitleg pas ten minste 2/3des van die wydte asook die lengte/hoogte van die muur.
3. Dis nie persoonlik nie
Maak gebruik van kunswerke wat persoonlike betekenis vir jou inhou, indien nie, iets waarby jy persoonlik aanklank vind. Hierdie keuses sal verseker dat die proses werklik ’n persoonlike een is en dat jy kunswerke kies wat vir ewig lank op jou mure kan bly woon.

Laastens sê Katy; moet nie huiwer nie, vertrou jou keuses en gaan met dit wat jy gekies het en van hou. Hierdie tipe keuses lees altyd die beste teen ’n muur in jou persoonlike spasie.
Indien jy steeds onseker is bied Jasper & Jute konsultasies om vir jou spasie die perfekte galerymuur saam te stel. Klik hier vir meer.