In die dekorwêreld bly die krag van beligting ’n uiters belangrike ontwerpelement, daarby ook gewoonlik ’n baie persoonlike een. Jou keuse van helder tot sagter lig sal verskil van spasie tot spasie. Hier volg beligting-idees, wenke, plus die allermooiste dakligte, lampies, en slim planne vir ligte op trappe en in jou kombuis. Skep so ’n warmer atmosfeer met jou beligting. Deur Justine Kroes
30/05/2025
Beplan en gebruik beligting in lae (layering)
Slim gebruk van die regte ligte in ’n spasie kan ’n reuse impak hê op die voorkoms en gevoel wat die spasie skep. In plaas van helder en koue ligte oral, probeer eerder verspreide “poele” van warm lig wat jou deur die spasie trek. Skep hierdie effek deur gebruik te maak van allerhande verskillende tipes beligting soos lampe, muurlampe (wat herinner aan outydse blakers) en hangende (pendant) beligting of kandelaarligte te kombineer in jou spasie. Hier is ‘n paar idees:
Onthou lig stuur spesifieke seine na ons brein – dink aan kantoorspasies – die helder (gewoonlik koue) ligte word hier geplaas om ons wakker en aan die gang te hou. By die huis gebruik ons saans minder helder ligte soos lampies om blootstelling aan helder lig te verminder voor slaaptyd (vir verbeterde melanienvrystelling).
Dan is daar natuurlik ook die estetiese ruimte van jou spasie om in gedagte te hou. Jou beligting het werklik die krag om die atmosfeer en die gevoel van jou hele spasie te verander.
7 Beligting-idees vir ’n warmer atmosfeer
1. Hangende beligting

Hangende of kandelaar- oftewel groter ligontwerpe wat uit die dalk hang en gewoonlik ’n stelling maak behoort gebruik te word in spesifieke areas sodat dit die meeste impak sal hê.

Byvoorbeeld bokant trappe in jou ingangsportaal of bo ’n etenstafel as ‘n indrukwekkende maar ook praktiese dekorelement.
Hier is ’n paar idees:



2. Muurligte/lampe
Die gebruik van ligte teen die muur, ook bekend as wall sconces is nou al hoe meer gewild. Gebruik die beligting bokant ’n spieël of bo of onder ’n portret om die area te verhelder. Hierdie tipe beligting skep boonop driedimensionele diepte en interessantheid waar daar voorheen dalk net ’n dooie muur was.



3. Slim strookbeligting:
Jou beligting hoef nie noodwendig net uit die dak of teen die mure te wees nie. Vandag word daar anders gedink oor beligting. Dink aan strookbeligting wat weggesteek word onder jou trappe of selfs onder jou trapreling.
Hierdie tipe beligting is veral handig wanneer jy graag groot hoofligte wil afskakel maar steeds wil kan sien waar jy loop. Hierdie werk ook wonderlik in gange.


Strookbeligting werk net so goed in jou kombuis. En kan weggesteek word onder kombuiskaste of rakke.
4. Lampe

Lampe is een van die maklikste maniere om lig en atmosfeer aan ’n spasie te gee – en boonop maklik om rond te skuif en verander. Jy kan natuurlik tafellampe kies of vloerlampe om ’n donker hoek te belig – die opsies is eindeloos.

Afhangend van jou lamp se hoogte en die kleur van jou lampskerm se materiaal kan jy gestruktureerde poele van allerhande kleure lig skep om verder diepte aan jou spasie te gee.

Jou lamp kan ook dien as ’n ontwerpelement afhangend van die ontwerp, staal/hout of materiaalafwerking wat verder jou spasie kan komplementeer en jou dekor-identiteit afdruk.
5. Geen muurproppe? Geen problem!
Daar is vandag allerhande oulike herlaaibare ligte beskikbaar – wat net so goed werk soos die regte ding. Veral ’n handige opsie indien daar nie krag en ligbedrading op die spesifieke area is waar jy jou ligte wil plaas nie.
Loer hier:


6. Kleur van jou gloeilampe is belangrik
Loer na die ligte in jou spasie en let op na die kleur van jou gloeilampe (bulbs). Vervang al jou koeler/ wit lig lampies met warmer skakerings. Die koeler lig voel koud en klinies en hoort nie noodwendig in jou huis nie. Kies eerder ’n warmer tipe gloeilampie – loer op die boksie indien jy onseker is en kies eerder “warm” bo “cool”.
’n Klein verandering wat ’n reuse verskil aan die atmosfeer van jou spasie sal maak.
7. Moenie van kerslig vergeet nie:
Kerslig is een van die heel maklikste maniere om ’n spasie warm en verwelkomend te laat voel, van badkamers tot slaapkamers, knus op jou koffietafel of kandelabra-styl op jou eetkamertafel.













