Oud en nuut is gemeng met skoon lyne, tekstuur en ’n mimalistiese kleurpalet om die gestroopte buitekuier-Kerstafel te skep. Dis ewe mooi vir ’n Kersontbyt of ’n sielvolle middagete. Deur Suzanne Kotzè. Stilering en produksie Kalinka Lombard en Heloise Louw van The Home Collective. Blomme Frans van Wyk van Franseman. Foto’s Diaan de Beer.
09/12/2022
Skep só ’n gestroopte buitekuier-Kerstafelvoorkoms
1. Moenie bang wees om oud en nuut te meng nie.


Die mooi appels en pere het Kalinka by haar Ma gekry en is eintlik dekoritems. Enige mooigoed in jou huis kan as versiering op die tafel gebruik word. Die silwer en ivoorstel messegoed was haar Ouma se trougeskenk en voel spesiaal om te gebruik.
2. Kies ’n minimalistiese kleurpalet.

Sagte grys, pienk en skakerings van room is gebruik. En kies dan ’n token (soos blospienk) kleur.
3. Verf jou eie Kersballe

Dit is nie altyd maklik om Kersballe te kry wat by jou kleurskema pas nie. Heloise het sommer haar ou balle nuut geverf deur kunsvlyt- (craft) verf te gebruik om haar ou balle by die neutrale kleurpalet in te pas. “Vir ekstra tekstuur het ek die verf met ’n bietjie koeksoda gemeng.”
4. Kies eenvoudige lyne
Kyk net hoe skoon is die lyne van die blompotte met ’n enkele takkie daarin. Die borde (van Pep Home) en sjampanjeglase het ook mooi skoon lyne.

5. Hou jou blomme ook eenvoudig
Frans het bessietakkies liggies met verf gespuit om by die kleurskema aan te pas. Laventel is in klein potjies gedruk en gee ’n tikkie kleur en ruik ook heerlik.


6. Tekstuur en nog tekstuur
’n Linnetafeldoek (sommer ’n mooi stuk wat in die sale bin, in die materiaalwinkel was. As jy net ’n klein stukkie kry, gebruik dit as ’n loper) en servette gee ekstra tekstuur en voel eenvoudig luuks. Die tekstuur van die gespuite kersballe en pere pas hierby.
7. Vermy blink
Die afwerking van die meeste elemente op die tafel is mat. Selfs die messegoed lyk effens mat, aangesien dit oud is. Blink en gladde afwerkings pas nie by die gevoel van die tafel nie.
8. ’n Minimalistiese knoop vir jou servette


Twee hoeke van die servette is losweg na binne saamgeknoop om die servette so mooi te laat lyk. Dit laat ons amper dink aan die Japannese manier van goed toedraai, Furoshiki
9. Hang balle aan takke
Kersballe aan die boomtakke gehang skep ’n feestelike en verwelkomende atmosfeer.


10. Geniet jouself
Maar alles begin natuurlik by goeie geselskap en ons het onsself vreeslik baie geniet!


Borde: Pep Home
Kandelare en blompotte H&M
Servette H&M
Sjampanjeglase Poetry
Lees ook: