Stileer jou rakke soos ’n kenner, hier is 5 maklike formules:

Indien jy, nes ons, dit geniet om jou rakkies en boekrakke te stileer (en weer her-stileer), ken jy dalk die frustrasie om alles prakties in te pas en boonop mooi te laat lyk! Die truuk? Balans, variëteit en intensie. Hier is 5 rak-stileer formules wat beproef en getoets is vir moeitelose rakke wat netjies en stylvol lyk. Deur Justine Kroes

1. Die reël van drie’s; dekor in onewe getalle

Hoekom werk dit? Onewe getalle skep visuele belangstelling en ’n gevoel van beweging. Hierdie truuk werk veral met dekoritems soos blompotte, kerse en bakkies wat saam gegroepeer word.

Stileer dit so:

Kies drie dekoritems van verskillende hoogtes, tekstuur en vorm.

Rangskik van langste tot kortste in ’n driehoek formasie.

Hou ten minste een item “stil” ’n plein keramiek byvoorbeeld, om visuele oorlading te vermy.

Stapel ’n paar boeke om verskillende hoogtes te skep vir jou dekoritems.

2. Boeke + Dekor item + Plant = gebalanseerde trio

Waarom die truuk werk: ’n Klassieke trio van elemente wat harmonie skep. Jou dekor-item gee ’n tikkie persoonlikheid, boeke grond die voorkoms en ’n plant bring ’n gevoel van lewe na die spasie.

Stilleer dit so:

Plaas 2 tot 5 boeke gestapel, horisontaal of vertikaal, nes jy verkies.

Sit nou jou dekor-item by; byvoorbeeld ’n kers, of klein beeldjie.

Eindig met ’n groen plant, blomme of takkies in ’n potjie – groen bring lewe!

Speel rond en roteer jou boeke sodat die gekleurde agterkante wys, of draai dit om dat die blaaie gedeelte wys vir ’n meer neutrale voorkoms.

3. Anker lae en hoogte

Hieride truuk werk want dit bied diepte en dimensie tot jou rak – veral belangrik op diep en hoë rakke.

Stileer dit so:

Begin met ’n groter ankerstuk. Byvoorbeeld ’n geraamde prent, of ’n spieël.

Pak kleiner items in lae (layers) voor jou ankerstuk; ’n klein blompotjie, kers of boksie, om ’n paar te noem.  

Gebruik nou langer items, soos blomme met langer stele of ’n plant met hoër blare wat opwaarts groei. Hierdie tipe items trek oë opwaarts.

Wenk: Laat items effens voor en oor mekaar staan vir ’n gemaklike, “ingeleefde” voorkoms. Presiese spasies tussen elke item sal ’n rigiede, amper stywe gevoel afgee.

4. Die S (of Z) kurwe vloei

Hierdie formule werk omdat dit visuele ritme oor ’n hele rak of ’n paar rakke (boekrak) skep, deur jou oë in ’n subtiele “S” vloei te laat beweeg.

Stileer dit so:

Wissel korter en langer dekoritems se plasing oor die verskeie rakke af.

Voeg hierna “visuele russones” met negatiewe spasie by – intensionele leë spasies.

5. Kombineer teksture

Meng verskillende teksture saam, hard, sag, blink of mat. Waarom hierdie truuk werk: Deur verskillende materiale en afwerkings op jou rak te kombineer, skep ’n curated gevoel, een met diepte, dimensie en die gevoel dat daar gedagte en aandag aan die spasie gegee is. Dink aan die gebruik van hout, keramiek, geweefde elemente en metale as teksture.

Stileer dit so:

Kies twee tot drie verskillende teksture per rakkie wat jy stileer.

Byvoorbeeld: ’n mat-afwerking keramiek blompot, ’n blink koperbakkie en ’n organiese geweefde skinkbord.

Herhaal nou die verskillende teksture op die verskillende rakke om konsekwent te bly met die stilering

Wenk: Die gebruik van glasitems kan swaarder groepe van dekor elemente “ligter” laat lyk, veral handig in donkerder kamers omdat dit deursigtig is en goed lig deurlaat.

Moets en moenies:

Moets:

Gebruik verskillende hoogtes, teksture en vorms

Laat ’n klein bietjie negatiewe spasie – dit gee die oë spasie om te rus.

Voeg persoonlike items op jou rakke by soos foto’s, reisvondste of jou ouma se erfstukkie!

Moenie:

Elke rakkie propvol stileer nie – wees selektief en intensioneel met dit wat op jou rakkie is.

Moenie net een tipe materiaal op jou rakkie gebruik nie, dit laat jou rakke lewensloos en plat lyk.

Moenie bang wees om te eksperimenteer en speel nie, as iets nie vir jou reg lyk nie, ruil dit uit en skuif dinge rond.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
plante vir jou slaapkamer
Plante in jou slaapkamer; hier is raad
error: Content is protected !!