Veral aan die begin van Januarie het jy waarskynlik (weer) die woord ‘manifesteer’ op sosiale media raakgesien. Maar wat presies beteken dit en hoe ‘manifesteer’ jy? Deur Suzanne Kotzé.
27/01/2022
Hoekom geniet ‘manifesteer’ soveel aandag?
Die woord manifesteer is beslis nie nuut nie. Die sogenaamde New Age woord is in 1906 in ’n boek Thought Vibration or the Law of Attraction in the Thought World gebruik. ‘Manifesteer het opnuut groot aandag geniet in 2006 nadat Rhonda Byrne daaroor geskryf het in haar bekende boek The Secret, (wat al meer as 30 miljoen kopieë verkoop het).
Verskeie TedTalks en jare later, het Google soektogte gedurende 2020 (volgens ’n artikel in The Guardian) met 600% toegeneem. Soos die geskiedenis bewys probeer mense na kollektiewe trauma sin maak van die wêreld en dit wat gebeur het, en vandaar die groter belangstelling in spritualiteit.
In 2022 het self-ontwikkelings afrigter en ‘manifesting queen’ (soos deur Forbes beskryf) Roxie Nafousi haar topverkoper boek Manifest: 7 Steps to Living Your Best Life bekendgestel.
Vandag is daar reeds meer as 15 miljoen keer na #manifest en #manifestation op Instagram verwys en meer as 9 miljard keer op TikTok.
In een van ons onlangse artikels oor Integrale afrigter en aktrise Odette Swanepoel se kalmbly-wenke verwys Odette ook juis na manifesteer. Sy het voorgestel dat, in plaas van nuwejaarsvoornemens te stel, jy eerder moet begin droom van die identiteit wat jy oor die volgende twee tot vyf jaar wil manifesteer.
Maar wat presies beteken dit om te manifesteer?
Volgens Rhonda Byrne is manifesteer (manifesting) “die kragtigste mag in die die wêreld; die wet van aantrekking.” Eenvoudig gestel beteken dit dat jy dit wat jy wil hê kan aantrek en laat gebeur.
“Om te manifesteer: ‘om iets te laat gebeur. Manifestasie gaan oor die mag om jou eie lewe soos wat jy dit wil hê te skep. Die mag om dit was jy begeer aan te trek en om die skrywer van jou eie storie te wees.”
Roxie Nafousi
Nafousi gebruik kwantum-fisika se energie-velde en vibrasies om aantrekkingskragte te verduidelik.
(Om eerlik te wees is kwantum-fisika ’n bietjie van ’n grys gebied vir my, ek verkies wetenskaplike bewyse).
Wat wel geweldig met ons resoneer is dat wanneer ons ons denkwyse verander, ons ook verander hoe ons voel en so ook die emosies wat ons ondervind.
Hoe manifesteer jy?
In ’n artikel oor Nafousi se boek in die Britse Vogue was die titel: Is this book the answer to the Millenials’ The Secret? So kom ons kyk na hoe ons kan manifesteer soos in The Secret en ook soos in Manifest: 7 Steps to Living Your Best Life
Onthou, om te manifesteer is nie net om te droom en te dink oor dinge nie, jy moet dit ook laat gebeur. Dit verg werk en vertroue.
Manifesteer soos The Secret
1. Vra
Maak ’n besluit oor dit wat jy wil hê. Doen dit sonder enige selftwyfeling
2. Glo
Vir jou doelwitte om waar te word, moet jy waarlik glo dat dit moontlik is vir jou om dit te ontvang. As jy hiermee sukkel probeer om positiewe bevestigings te gebruik. Lees hier: Rolene Strauss gee raad: gebruik positiewe bevestigings so
Nog ’n tegniek wat sy voorstel om selftwyfel hok te slaan is visualisering. Hiervolgens moet jy jouself verbeel wat jy saam met jou hartsbegeerte is, sodat jou onderbewuste dit ook glo.
3. Ontvang
Die laaste stap is om goed te voel sodat jy kan ontvang. As jy goed voel is jy ’n magneet vir dit wat jy wil hê. As jy sukkel om goed/gelukkig te voel, word dankbaarheidstegnieke aanbeveel. Maak lysies oor waarvoor jy dankbaar is en hoekom.
Die sewe stappe van Manifest: 7 Steps to Living Your Best Life
Stylvol vriendin Vicki Sleet beskryf die boek as haar beste kopie van die jaar. Sy sê outeur Roxy Nafousi het self al ’n pad gestap en is nie bang om haar geskiedenis van terugslae en uitdagings te deel nie. Dit is ook juis hierdie wat maak dat jy haar wil aanmoedig wanneer sy dit waaroor sy weerloos voel op sosiale media ook deel. En dit is wat jou ook sal aanmoedig en inspireer om jou eie reis te begin.
Die boek stel duidelike riglyne om jou lewe op ’n betekenisvolle wys te verryk, en om jou realiteit uit te kerf in ’n realiteit wat volhoubaar, mooi en lonend is.
Aangesien ons glad nie die boek in harde kopie kon kry nie, moes ons maar tevrede wees met die Kindle weergawe en het vir Vicki gevra om die mooi boek vir ons af te neem. Hier is ’n baie kort opsomming van die sewe stappe.
1. Wees duidelik oor jou visie
Begin jou manifesteringsreis deur te weet waarheen jy op pad is. Jy kan nêrens kom as jy nie weet waarheen jy op pad is nie. Gebruik visualisering om hiermee te help. En wees spesifiek as jy visualiseer. Dit is ook nie genoeg om dit net in jou geestesoog te sien nie, jy moet jouself indompel en voel of jy werklik daar is. Navousi verduidelik dat sy meditasie gebruik om rustig te word voordat sy visualisering (twee tot drie keer per week vir 10-15 minute) doen. Jy kan ook ’n visualiseringsbord maak om hiermee te help.
Lees ook: ’n Visualiseringsbord; so maak jy dit
2. Raak ontslae van vrese en selftwyfel
Dit wat jy glo jy werd is om te ontvang, kan jy manifesteer. Ons onderbewussyn kan ons na ons drome dryf, maar dit kan ons ook weerhou daarvan om dit te bereik. Vrees en selftwyfel blok manifestering. Dink aan die dinge wat jy dalk nie op jou visualiseringsbord gesit het nie, omdat jy terughou. Om ontslae te raak van selftwyfel en innerlike vrese verg aanhoudende werk en introspeksie.
3. Stel jou gedrag reg
Hoe jy optree is ’n direkte weerspieëling van jou selfwaarde. Dit waaraan jy die meeste dink, trek jy aan. Maar om te manifesteer beteken nie jy kan passief wees nie. Jy kan nie net ’n visie hê en wag vir dit om te gebeur nie. Dit is belangrik om op te tree soos die mees bemagtigde weergawe van jouself, ’n weergawe wat nie deur vrees en selftwyfel beperk is nie. Doen goed al voel jy bang. ’n Beter weergawe van Fake it until you make it, is Fake it until you become it. Raak gemaklik met ongemak, want soos jy jou gedrag in lyn met jou manifestering stel, sal dit nie altyd maklik of gemaklik wees nie.
4. Oorkom toetse van die heelal
Hierdie toetse kom in die vorms van hindernisse, mense en uitdagings. Moenie met minder as dit wat jou toekom tevrede wees nie. Kyk na die verskillende areas in jou lewe en of jy dalk in sommiges areas met te min tevrede is. Dalk is dit toksiese verhoudings of vriendskappe wat jou vertroue beïnvloed. Jou tyd en energie is jou kosbaarste bates. Dit is ook belangrik om ’n denkwyse van oorvloed (dat daar oorgenoeg geleenthede is) te hê.
As dinge nie gebeur soos wat jy beplan het nie, word jy ’n geleentheid gegun om daar te wees vir jouself terwyl jy bou aan innerlike krag, veerkrag en moed.
5. Omhels dankbaarheid
Jy trek aan wat jy voel. Gebruik veral dankbaarheid om jou te help op dae wanneer jy pap, laag, kwaad, jaloers of gegrief voel. Gebruik die drie kategorieë van dankbaarheid: Dankbaarheid vir 1. Jouself 2. jou lewe en 3. die wêreld. Dink aan iets waarvoor jy dankbaar is, visualiseer dit en voel hoe die gevoel van dankbaarheid deur jou lyf vloei. Jy voel hoe jou spiere ontspan, jy dalk onbewustelik glimlag of kalmer voel.
6. Verander jaloesie in inspirasie
Jaloesie word as ’n lae vibrasie gevoel beskryf wat gebeur as jy ’n ‘tekort denkwyse’ het.
As jy iets sien en jaloers voel sê jy vir die heelal: “As ek iemand anders sien met iets wat ek wil hê, voel ek gegrief omdat ek nie glo dat ek dit ook vir my kan hê nie.”
Inspirasie word egter as ’n hoë vibrasie gevoel beskryf wat voortspruit vanuit ’n ‘oorvloed denkwyse’. As jy iemand anders sien met iets wat jy ook wil hê, en jy voel geïnspireerd daardeur sê jy vir die heelal: “Ek glo daar is genoeg vir almal en dat ek dit ook kan hê.”
Monitor en bestuur ook jou sosiale media gebruik, aangesien dit (wat selde ‘werklik’ is) tot jaloesie kan aanleiding gee. Volg mense wat jou inspireer en laat goed voel en ‘mute’ of ‘unfollow’ mense wat dit nie doen nie. Vermy dit wat jou laat jaloers voel en soek inspirasie.
7. Vertrou die heelal
As jy al hierdie stappe gedoen het, moet jy die heelal vertrou dat jy alles sal ontvang wat jy nodig het. Die vertroue word beskryf as daardie ‘ek weet dit net’ gevoel. (knowing feeling)