5 Aanvullingsvrae beantwoord deur ’n vroulike endokrinoloog in haar 40’s

Die meeste van ons sukkel om kop te hou met al die baie aanvullings wat ons veronderstel is om te neem. Endokrinoloog Dr Jocelyn Heilig beantwoord ons aanvullingsvrae. Ons gaan nie jok nie, maar haar antwoorde het ons effens geskok. Saamgestel deur Suzanne Kotzé

1. As ’n endokrinoloog en vrou in jou veertigs watter aanvullings gebruik jy?

Endokrinoloog Dr Jocelyn Heilig

Zero. Daar is absoluut geen indikasie dat vroue (of mans) aanvullings moet neem tensy hulle ’n bewese tekort het, ’n oordrewe beperkte dieet of ’n malabsorptiewe siekte soos vorige gastroïntestinale chirurgie (soos bariatriese chirurgie) nie.

2. Vroue in hul 40’s word gebombardeer met bewerings oor aanvullings vir hormone, energie, metabolisme, veroudering en menopouse. Watter aanvullings glo jy is eintlik die moeite werd om te oorweeg, en watter is meestal hype?

NUL. Tensy jy ’n bewese tekort het wat op bloedwerk gedemonstreer word (soos vitamien D of vitamien B12), jy ’n oordrewe beperkende dieet het of vorige chirurgie aan jou ingewande gehad het, het jy geen soort “roetine”-aanvulling nodig nie.

Die woord roetine is ’n algehele verkeerde benaming. Die meeste van ons kry voldoende inname uit ’n matige dieet. Daar is absoluut geen aanvulling wat ’n  impak op jou hormone, metabolisme of veroudering kan hê nie, en baie min bewyse vir die gebruik van aanvullings om met menopousale simptome te help.

Die welstandsbedryf, wat die verskaffers van aanvullings is, is groter as die farmaseutiese bedryf, maar die meeste aanvullings op die mark word nie bestudeer nie, so ons ken nie hul veiligheids- of doeltreffendheidsprofiel nie. Aanvullings soos vitamiene is nie inerte stowwe nie en kan potensieel skadelik wees.

3. Moet vroue aanvullings neem op grond van hul ouderdom en lewensfase, of moet hulle eers bloedtoetse ondergaan om vas te stel wat hulle werklik nodig het?

Vitamiene en mikronutriënte moet slegs aangevul word in die teenwoordigheid van ’n bewese tekort op bloedwerk of in die teenwoordigheid van beduidende dieetbeperkings. Byvoorbeeld, as jy laktose-onverdraagsaam is, kry jy dalk nie genoeg dieetkalsium met suiwelprodukte in nie, en die neem van ’n  kalsiumaanvulling is dus nie ’n  slegte idee nie. Ouderdom en lewensfase op sigself behoort nie te bepaal of jy aanvullings benodig of nie.

4. Wat is die grootste foute wat vroue maak as dit by aanvullings kom?

Vroue val makliker vir bemarking van die welwees-industrie en sosiale media ‘influencers’ wat leë beloftes verkoop.

Vroue neem ook heeltemal te veel aanvullings wat hulle nie nodig het nie. Behalwe dat dit geld mors is, kan van die aanvullings skadelik wees. Onthou ook, natuurlik is nie gelykstaande aan veilig nie.

5. As jy vir ’n vrou in haar veertigs drie reëls kan gee as dit by die gebruik van aanvullings kom, wat sal dit wees?

1. Fokus eerder op die ‘vervelige goed’; ’n gebalanseerde dieet wat genoeg vrugte, groente, maer proteïen en volgraan karbohidrate bevat. Oefen gereeld, moenie rook nie en gebruik alkohol matig.

2. Jy kan nie ’n slegte leefstyl uitvee met aanvullings nie. Spaar eerder jou geld vir iets anders

3. As jy vermoed jy ’n spesifieke tekort het, vra jou dokter om ’n toets te doen sodat jy weet of jy aanvullings nodig het of nie.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
binnekring
Vyf tipe vriendinne wat in jou binnekring hoort
error: Content is protected !!