Maak vandag nog ’n visualiseringsbord, want om jou drome en doelwitte te sien en gereeld daarna te kyk, kan help dat dit waar word. Dit is selfs ’n lekker aktiwiteit om met jou kinders aan te pak gedurende die vakansie. Deur Suzanne Kotzé
Ahoewel sommige mense dink dat dit genoeg is om net te glo aan dit wat jy op jou visualiseringsbord sit, glo ons dat ’n visualiseringsbord jou help om jou gedagtes en doelwitte te organiseer en uiteen te sit en jou so te motiveer om (dalk nie bewustelik nie) aksie te neem. Deur gereeld daarna te kyk, herinner dit jou aan wat jy wil hê en moedig jou aan om aksie te neem.
Wat is ’n visualiseringsbord?
Prentjies, foto’s, aanhalings en enigiets wat jou inspireer om jou drome en doelwitte te bereik, word saam geplak. Jou visualiseringsbord kan fisies of elektronies wees.
Maak jou visualiseringsbord so
1. Reflekteer en word stil
Kry ’n stil spasie waar jy vir ’n rukkie nie onderbreek sal word nie. Word stil (jy kan dalk bid of mediteer om rustig te word). Dink na oor dit wat jy wil hê. Gee jouself genoeg tyd om nie net aan doelwitte (enige iets van verhoudingsdoelwitte, tot werksdoelwitte en drome, selfontwikkelingsdoelwitte of gesondheidsdoelwitte en drome) te dink nie, maar ook te dagdroom oor hoe jy sou wou hê jou lewe moet lyk.

By Leandie du Randt het ons ook geleer jy moet met dankbaarheid dink aan dit wat jy reeds het. Skryf jou gedagtes neer.
2. Maak bymekaar
Maak prentjies, foto’s en aanhalings bymekaar wat simboliseer wat jy graag wil hê en wat jou sal aanmoedig om daarvoor te werk.

3. Sit dit bymekaar
Kry ’n soliede bord, soos harde karton, kurk (ons is gaande oor GetCork se kurk-aansteekborde) of hout waarop jy jou prentjies en aanhalings kan rangskik en vasplak. Jy kan dit selfs ook net teen jou muur plak of die binnekant van jou kasdeur, of op jou spieël. Spesiale gom produkte soos ‘picture hanging strips’ is beskikbaar, wat nie die verf van jou more af sal trek nie. Moenie gewone kleeflint gebruik nie (dit trek verf van die more af). Probeer dit wat tot jy in jou huis het te gebruik, want van uitstel (todat jy die regte benodighede het), kom afstel.


4. Hang jou visualiseringsbord op
Hang of plak jou visualiseringsbord waar jy dit elke dag kan sien. In jou tuis-kantoor, die binnekant van jou kas (as jy dit meer privaat wil hou), by jou spieëltafel, agter jou badkamerdeur; enige plek waar jy elke dag daarna moet kyk. Jy kan ook jou bord rondskuif en op verskillende plekke hang. Jy kan dit selfs afneem en as jou ‘screensaver’ gebruik. Dit is nog ’n wenk wat ons by Leandie du Randt geleer het.

Hoe om die regte foto’s en aanhalings te kies
Kies foto’s, prentjies en aanhalings wat jou einddroom of doelwit is, maar jy kan ook foto’s insluit van stappe waarop jy beplan om by die doelwit uit te kom. Jy plak dalk ’n foto van ’n rok waarin jy weer wil pas, maar saam daarmee plak jy ook foto’s van gesonde kos of iemand wat draf wat jou sal inspireer en help om jou droom of doelwit te berreik.
Jy kan enkele woorde gebruik, soos liefde, geluk, sukses, integriteit, self-vertroue of aanhalings wat jou inspireer. Kies egter aanhalings wat nie te lank is nie.
Klik hier vir ons Pinterest bord met prentjies, foto’s en aanhalings wat jy kan gebruik.

Wat het jy nodig om ’n visualiseringsbord te maak?
Fisiese visualiseringsbord

- Karton, of kurk, of enige aansteekbord. Jy kan selfs net ’n groot vel papier gebruik, solank jy dit kan vasplak teen ’n muur
- Gom, kleeflint, aansteekpennetjies, enigiets wat jy wil gebruik.
- Mooimaakgoed soos plakkers, of washi tape. Hierdie is opsioneel en net as jy van ‘craft’ hou. Jy verkies dalk ’n simplistiese visualiseringsbord sonder fieterjasies.
- Tydskrifte of ou boeke waaruit jy prentjies kan skeur.
- Toegang tot Pinterest of Google vir as jy nog prentjies nodig het.
- Kleurdrukker as jy van plan is om jou prentjies van die Internet te kry.
- Enigiets wat jou inspireer. Aanhalings, foto’s, herinneringe.
Elektroniese visualiseringsbord
Daar is ’n magdom apps beskikbaar om jou visualiseringsbord op jou foon of rekenaar te maak. Ons hou veral van Canva op die rekenaar en die Hayhouse app vir ons fone, gratis beskikbaar op die App stores of Google Play. Daar is verskeie ‘vision boards app’ beskikbaar vir fone.