Die meeste van ons dink nie veel verder aan ons voete as ‘oe, ek moet onthou om voetroom aan te smeer en vir ’n pedi te gaan nie.’ Totdat ons voete begin seer word. Podiater Nelfrie Kemp vertel waarom voetsorg al hoe meer belangrik word soos ons aanstap in jare. Saamgestel deur Suzanne Kotzé
Voete en veroudering
Veranderinge in ons voete begin reeds ons vroeë dertigs!
Minder kollageen en stadiger herstel van bindweefsel
Ons liggame maak minder kolageen (verantwoordelik vir krag, struktuur en elastisiteit) en ons bindweefsel (die ondersteunende raamwerk van ons voete) begin stadiger herstel
Vetkussingkies word dunner
Die vetkussings wat skok demp en absorbeer, kan ook dunner word en die die struktuur van ons voete kan ook verander.
Algemene voetprobleme by vroue van 40 plus

Algemene probleme by vroue ouer as 40 sluit in
- plantar fasciitis en hakpyn
- pyn in die bal van die voet
- pynlike groottoongewrigte
- bunions en
- hamertone.
Een ding is seker, voetpyn is nie net nog ’n normale deel van ouer word nie. Dit is belangrik om uit te vind hoekom jou voete seer is.
Of dit nou skoene, aktiwiteitsvlakke, die meganika van jou voete is, jou gewig of ’n onderliggende mediese toestand is. Moenie op ChatGPT of Google staatmaak vir ’n diagnose nie, dit is belangrik om eerder ’n voetheelkundige te sien.
Jou voete beïnvloed jou hele lyf
Ons voete is die grondslag van beweging. Hulle is ons eerste kontakpunt met die grond en kan tussen twee en vyf keer ons liggaamsgewig absorbeer wanneer ons staan, loop of hardloop.
Knieë, heupe en rug kan dit voel
Onthou jou liggaam is ’n ingewikkelde stelsel en alles is met mekaar verbind.
Die posisie en beweging van ons voete beïnvloed hoe die res van ons kinetiese ketting (die spiere en gewrigte wat saamwerk om beweging te skep) funksioneer. Swak voetmeganika kan bydra tot probleme verder op in die kinetiese ketting, wat moontlik jou knieë, heupe, rug en postuur kan beïnvloed.
Sterk voete; balans en beweegbaarheid
Soos ons ouer word, wil mens selfversekerd en gebalanseerd voel op jou voete. Sterk voete speel ’n belangrike rol hierin.
Dit is egter nie net ons voete wat versterking nodig het nie, maar ons hele kinetiese ketting. Daar is ’n nou band tussen mobiliteit en verdoudering. Juis hierom is dit so belangrik om krag- en kondisionerings-oefeninge vir ons hele liggaam te doen
Veral as dit by gesonde veroudering en langlewendheid kom.
Voorvoet-oefening
Nelfrie beveel hierdie voorvoet oefening aan om jou voetbrug gesond en sterk te hou.
Dra toonverspreiders (beskikbaar op Takealot) vir minstens ‘n uur per dag en doen dan die volgende oefening vir 20 minute.

Onthou jou voete moet jou lewenslank dra, so begin nou om hulle te versterk.
Nelfrie Kemp
Moenie jou skoene onderskat nie.
“Dra die regte skoene is seker my belangrikse boodskap.” Nelfrie Kemp
Ons voete is nie gemaak om heeldag en aldag op harde oppervlaktes soos beton, teëls en sintetiese vloere deur te bring nie. Juis daarom kan ondersteunende, skokabsorberende skoene ’n groot verskil maak.
Jy behoort nie skoene met jou tone hoef vas te gryp nie (plakkies is hier sondebokke!). Plat of te sagte skoene is ook nie goed nie.
Dit is belangrike om jou skoene te kies volgens jou spesifieke aktwiteit; hardloopskoene vir hardloop, tennisskoene vir tennis, en gepaste skoene vir gimnasiumoefeninge, stap, gholf of padel.
Jou gewig speel ook ’n rol
Die lading op jou voete is twee tot vyf keer jou liggaamsgewig wanneer jy staan, stap of hardloop. Ekstra gewig laai jou hele kinetiese ketting en gewrigte. Nelfrie sê sy sien baie pasiënte waarvan die hoofoorsaak van hul voetpyn, ’n toename in gewig is.
“Hoe meer gewig jy dra, hoe meer ondersteunend moet jou skoene wees.”
Vier eenvoudige gewoontes vir gesonde voete
1. Belê in die regte skoene
Bou ’n skoenversameling op wat die aktiwiteite wat jy doen ondersteun en kies skoene vir die hoeveelheid tyd wat jy op jou voete sal spandeer.
2. Versterk jou voete en lyf
Stap, hardloop en kardio is wonderlik, maar dit is belangrik om krag-en kondisioneringsoefeninge ook te doen. En spesifieke voet en enkeloefeninge ook. Om toonverspreiders te dra en dan jou voete te oefen, is van die beste maniere om jou intrinsieke spiere te versterk.
3. Smeer daagliks voetroom aan.
Gebruik ’n goeie bevogtiger van jou enkels af. Dit help ook om sokkies vir ’n halfuur daarna te dra, sodat die room kan absorbeer voordat jy sandale aantrek.
4. Sorg vir jou toonnaels
Hou hulle kortgeknip, veral as jy sport doen of baie toe skoene dra. Dit verminder die riskiko van ingroeitoonnaels.
Voet voorsorg is beter as nasorg
Moenie wag totdat jou voete ’n probleem word nie. ’n Jaarlikse professionele voetondersoek word aanbeveel, selfs al het jy geen ooglopende simptome nie. As voetongemak begin inmeng met daaglikse beweging; of jou twee keer laat dink oor loop of staan, is dit tyd om professionele advies te kry.
Die beste tyd om na jou voete te begin omsien, is voordat hulle seer word.





