Die voordele van tuinmaak vir jou geestesgesondheid
Die voordele van tuinmaak vir jou geestesgesondheid
Foto met vergunning van Babylonstoren

Tuinmaak-terapie: 10 voordele van tuinmaak

Hier is ’n hele rits grondige voordele van tuinmaak vir jou geestesgesondheid. So sit neer jou foon (nadat jy hier klaar gelees het) en tel op jou tuingraaf ,want tuinmaak kweek jou karakter. Deur Suzanne Kotzé

Kliniese sielkundige Gerda Kriel sê een van van die hoofvoordele van tuinmaak vir ons geestesgesondheid is eenvoudig.

“Wanneer ons tuinmaak kan ons niks anders doen as om ons volle aandag te gee aan dit waarmee ons besig is nie. Ons fokus dus ons volle aandag aan die taak op hande.” 

10 voordele van tuinmaak vir jou geestesgesondheid

Gerda Kriel leer ons van die volgende voordele van tuinmaak

1. Dit leer ons bewustelikheid (mindfulness)

Die voordele van tuinmaak en bewustelikheid word wyd besing. Dit word keer op keer bewys as ’n kragtige manier om jou geestesgesondheid te bevorder. 

Wanneer ons met verskeie take op een slag besig is (soos kosmaak, gesels asook ons fone hanteer), is ons die heeltyd besig om ons bewustheid te onderbreek. Wanneer jy onderbreek word, word kortisol vrygestel wat veroorsaak dat ons meer gespanne word. As ons egter fokus op een ding, soos tuinmaak, dan skakel ons ons breine se ‘stressentrum’ so te sê af. So kry ons die geleentheid om diep te ontspan. 

2. Dit help jou om deur verlies of rou te werk

Tuinmaak is ook ’n bewese manier om mense wat deur verlies en rou moet werk, te help. Dis ’n terapeutiese aksie waaraan jy jou aandag móét gee, en wat jou kan ondersteun deur jou pyn op ’n sigbare wyse te verwerk.

Foto met vergunning van Babylonstoren

Soos wat jy beplan aan die tuinuitleg, en met jou hande en sintuie in die tuin werk en aan die plante raak, gebruik jy al jou sintuie om die pyn te verwerk. En dan is daar natuurlik die ervaring van in jou voltooide tuin stil te raak. 

3. Dit bring emosionele heling

Die Japanese praat van Shinrin Yoku (letterlik vertaal om ‘in groen te bad’) as ’n manier om emosionele herstel en genesing te bewerkstellig. In Suid-Afrika is ons geseënd met pragtige groen spasies en dikwels ons eie tuine, waar ons hierdie praktyk op eenvoudige maniere kan beoefen. 

Herstel so emosioneel in jou tuin

  • NEEM AFLEIDINGS WEG. Dit sluit in: jou foon, jou doen-lysie en selfs jou man en kinders! (As jy kan!)
  •  LAAT JOU VRESE, BEPEISINGE EN GEDAGTES EENKANT. Dit sluit al jou bekommernisse en gedagtes oor die toekoms of jou gedagtes oor jou verlede in. Klim binne in die teenwoordige tyd in. 
  • ANKER JOUSELF: SKOENE UIT. Staan kaalvoet op die grond of groen gras. Fokus op die gevoel van die swaartekrag wat jou na die aarde trek, die sensasie van Moeder Natuur onder jou voete. 
  • LUISTER NA MINSTENS DRIE GELUIDE VAN DIE NATUUR OM JOU.  Die  voëls wat sing, die gesuis van die wind, sonbesies wat om jou ruis. Selfs stilte het sy eie geluid. Fokus daarop!
  • SIEN RAAK. Merk minstens twee visuele elemente op waaraan jy jou kan anker. Die kleur van blomme of iets wat uitstaan. Selfs die verskillende kleure groen rondom jou. Niks is onbelangrik nie.
  • VOEL. Fokus op een fisieke sensasie; die son op jou vel, die wind in jou hare of enigiets wat jou tassintuig prikkel.
  • HAAL DIEP ASEM. Fokus op die oomblik en teug die groen rondom jou in. 

4. Tuinmaak bring genesing

Nie net in ons gedagtes nie, maar dit koppel ons ook aan die lewegewende energie van die aarde

Deur jou hande te gebruik, en in die tuin te werskaf, bind jy jou weer aan die natuur se naelstring. 

Dan kan jy mos nie anders as om gelukkiger en meer gefokus te voel nie.

Een van die mooiste tuine in Suid-Afrika en die wêreld; Babylonstoren;  se hooftuinier Liesl van der Walt en Didi Brink, Babylonstoren se tuin-produksiekoördineerder, deel die volgende: 

5. Jou tuin se natuurlike ritmes help jou om rigting en fokus te behou

Die seisoenale take van jou tuin staan nie stil nie en dit help ons om rigting en fokus te behou, ongeag die onsekerheid of bekommernis oor wêreldgebeure.

Die tuin se natuurlike ritmes gaan voort en dwing ons om teenwoordig te wees, te plant, te snoei, te versorg en te oes. 

6. Om aan plante te vat en daarmeee te werk hou sensoriese en terapeutiese voordele in

Dit gee ’n mens hoop vir die toekoms. Jy pluk letterlik die vrugte van harde werk as jy sien hoe jy ’n plant versorg, ’n boom wat jy plant begin groei en daardie varing begin rank of ’n eerste blommetjie bot. Om na mooi blomme of plante te kyk of om daarmee te werk ontlok emosies wat positief is.

7. Dis ’n goeie geleentheid om verhoudings te verdiep 

Foto met vergunning van Babylonstoren

Tuinmaak bied jou die geleentheid om verhoudings te bou met ander wat ’n liefde vir die tuin deel.  Dit is ook ’n prettige aktiwiteit wat jy en jou gesin saam kan aanpak.

Jou tuin is die ideale plek om herinneringe te bou.

Kinders is gek daaroor om in die grond te baljaar. Tuinversorging kan kinders ook meer leer oor verantwoordelikheid. 

8. Tuinmaak is ook ’n goeie alleen-aktiwiteit om in voeling met jouself te kom 

Foto met vergunning van Babylonstoren.

Dit is perfek vir mindfulness. Alle take wat verband hou met tuinmaak, soos om te grawe, te saai of te snoei, dwing ons om te fokus op die taak waarmee ons besig is

Dit gee ons die geleentheid om asem te skep van ‘n wêreld wat toenemend gejaag is en deur tegnologie oorheers word.

9. Dit hou ons fiks en endorfiene word afgeskei

Tuinwerk vereis fisiese werk wat ons aktief hou. Dink maar daaraan om te saai, te oes, te grawe of  ’n kruiwa rond te stoot. Jy kan sterkte en soepelheid opbou terwyl jy kilojoules verbrand.  Wanneer ons fisies aktief is, skei ons endorfiene af, wat ons laat goed voel

10. Dis ‘n kreatiewe uitlaatklep. 

Dit gee jou nie net die geleentheid om jou stukkie grond om te tower nie, maar jy kan ook kreatief raak met dit wat jy uit die tuin oes. Die moontlikhede is eindeloos, van die geleentheid om met blomkuns te versier of die lekkerte daarvan om ’n heerlike gereg met jou oes op te tower tot om te eksperimenteer met die geure uit jou tuin.

Lees ook: Kan essensiële olies help vir angs en slaaploosheid

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
ystertekort
Ystertekort? Eet só vir meer yster
error: Content is protected !!