verslaaf aan jou skerm
verslaaf aan jou skerm

Is jy verslaaf aan jou skerm?

Is jy verslaaf aan jou skerm? Hier is sewe tekens. Eek! Is ons besig om skermzombies te word? Ouers, kinders – selfs kleuters!- sukkel met dié groeiende probleem. Deur Suzanne Kotzé.

Ek gaan net gou kyk wat die weervoorspelling is. O, wag wat gaan op Instagram aan? Laat ek vinnig na Facebook ook kyk. En so gaan nog ’n halfuur om. Mamma, nog net een episode, asb! Of ek wil net die vlak van my speletjie klaarmaak.  En so gaan nog ’n paar episodes verby, terwyl jy ’n bietje stilte geniet, voordat jy die groot baklei aandurf om jou kinders weer voor die skerms weg te kry. 

Voel dit bekend?

Wêreldwyd word al hoe meer behandelingsentrums vir skermverslawing geopen. Selfs vir gaming-verslaafdes. In Londen is daar ’n sentrum, National Centre for Gaming Disorders, geopen vir 13-25 jariges wat sukkel met verslawing aan speletjies soos Candy Crush en Fortnite.

“Wat sielkundiges bekommerd maak oor skermverslawing, is dat die ouderdom van verslaafdes aan tegnologie al jonger word, selfs sommige kleuters openbaar tekens van skermverslawing.”

sielkundige Gerda Kriel. 

Hoekom is jy verslaaf aan jou skerm?

Gerda Kriel, kliniese sielkundige van Somerset-Wes, vertel.

Die dopamien hit

Skerms veroorsaak ’n direkte vrystelling van die neuro-oordragstof Dopamien – wat ons laat goed voel en ons brein se plesiersentrum aktiveer. Dwelmmiddels aktiveer ook hierdie einste sentrums!

Die neuro-chemiese reaksie wat plaasvind is hoogs verslawend en met skermtyd is daar boonop geen eksterne middels (soos bv oefening of menslike interaksie) nodig om goed te voel nie. 

Skermtyd is nou sosiaal aanvaarbaar

Fone aan tafel is nou deel van die geselskap

Dit help ook nie juis dat tegnologie so sosiaal aanvaarbaar is vandag nie. Dink maar aan ’n paar jaar gelede toe jy nie sou durf kyk na jou foon terwyl jy in ’n gesprek is nie. Vandag kyk ons konstant, boonop is etenstafel- en kuiergesprekke dikwels deurspek met: ‘het jy al die meme gesien, of kyk gou weer dié een op Facebook.’

Het jy geestesgesondheidsprobleme is jy boonop meer vatbaar vir skermverslawing.

Al hoe meer mense sukkel met geestesgesondheidsprobleme. Mense met geestesgesondheidsprobleme of ander verslawings is tot 70%  meer geneig as ander mense om ‘n skermverslawing te ontwikkel.  

7 tekens dat jy verslaaf is aan jou skerm

tekens van skerm-verslawing

Gerda Kriel verduidelik.

Die volgende tekens kan moontlik daarop dui dat jy aan ‘skermverslawing’ ly:

1. Jou gedagtes is gedurig by jou slimfoon, E-pos of sosiale media terwyl jy eintlik met iets anders besig behoort te wees;

2. Jy raak rusteloos en buierig wanneer jy vir lang tydperke sonder tegnologie moet klaarkom;

3. Wanneer jy tegnologie gebruik, bly jy langer daarmee besig as wat jy aanvanklik beplan het;

4. Jy vind dat jy meer en meer tegnologie moet gebruik om jou rusteloosheid te bevredig.

5. Jy voel ‘n dringendheid om gedurig na jou foon te kyk, selfs wanneer daar geen rede is nie.

6. Jy ervaar angstigheid wanneer jy vir ‘n tyd nie jou toestel of rekenaar gebruik het nie.

7. Tegnologie word vir jou ‘n ontvlugting weg van die realiteit. 

Lees ook

Oorkom jou skermverslawing so

Tuinmaak-terapie: 10 voordele van tuinmaak

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Wat is jou kind se liefdestaal?
error: Content is protected !!