Soms voel ’n ‘date-night’ na so baie werk, en dalk ook duur. Ons deel hier vyf maniere waarop jy weer hout op jou liefdesvuurtjie kan gooi, veral in die tye wanneer jou eie energie laag voel. Deur sielkundige Gerda Kriel
Die belangrikheid van hout op jou liefdesvuurtjie gooi
In die Wintermaande stook ons graag ’n kaggel in ons huis. Die warmte vul die ruimte, die effense soet houtreuk trek in alles in, en ons vind onsself dikwels nostalgies uitgestrek op die mat voor die vuurtjie, asof daar nie duisende eise en verwagtinge is wat vir ons buite die leefkamer wag nie.
Net soos ’n kaggel die koue kan verdryf, kan ’n sterk verhouding jou en jou maat se welstand verbeter. Tog noem paartjies toenemend dat hulle minder tyd met hulle maats deurbring, meer geïsoleerd voel, en dikwels te moeg is om energie aan hulle verhouding te spandeer. Die oplossing is dalk makliker as wat jy dink. In stede van duur afsprake, naweke in eksotiese plekke en moeite wat jou laat voel dat dit makliker is om in jou eie kokon te bly en jou maat in syne, wil ons die bou van jou verhouding weer vereenvoudig. Ons deel hier vyf maniere waarop jy weer hout op jou liefdesvuurtjie kan gooi, veral in die tye wanneer jou eie energie laag voel.
Vyf afspraak-idees vir moeë paartjies
1. Koffie by die huis.

Maar maak dit ’n ritueel. Navorsing dui aan dat die stappe wat in’n ritueel gevolg word, ons sentrale senuweestelsel help kalmeer en reguleer. As dit boonop daagliks deel van julle ritme word, dan is julle daaglikse koffie nie net ’n noodwerker om julle wakker te kry nie, maar dit raak saam ’n aksie wat julle verhouding kan voed.
Kies byvoorbeeld bone wat julle nog nie probeer het nie, maal dit self, en kies ’n manier van koffiemaak wat moeite verg. (Ons gunsteling tans is ’n mokkapot op die stoof – die geur is ongelooflik!) Drink dit dan saam en gesels oor die dag voordat die dag begin. Hierdie klein ritueel kan aan die begin – of einde – van die dag gedoen word, en die doel is eenvoudig: raak saam stil, fokus op mekaar, en sit alle afleidings eenkant. (Totsiens foon!)
2. Was mekaar se rug.

Wanneer laas het jy en jou maat saam’n bad getap of saam die stort betree? Deesdae is die meeste mense se was-roetine meganies en gejaag, maar ek wil jou uitnooi om jou maat die badkamer binne te nooi. Steek ’n kers aan, gesels oor die dag, skink selfs ’n glasie wyn of koppie kruie-tee. En was mekaar se rug. Letterlik. Die fisieke aanraking skei oksitosien af, ’n neuro-oordragstof wat die gevoel van binding en konneksie versterk. Boonop kry julle kans om gemaklik met mekaar se liggame te wees, en dis ’n soort weerloosheid wat konneksie kan versterk.
3. Lees saam.
Kies saam ’n boek, fiksie of nie-fiksie, waarin beide belangstel. Saans, as julle bed toe gaan, maak julle beurte om vir mekaar ’n paar bladsye te lees. Dit gee julle iets om oor te gesels, en versterl gevoelens van nabyheid. Daar is ’n rede waarom kinders so lekker slaap as ons vir hulle slaaptydstories lees. Maak net seker alle fone is af en weg. Die gebruik van fone in die kamer blok intimiteit en konneksie, en plaas elkeen in hulle eie wêreld, presies die teenoorgestelde van wat ons probeer bereik!
4. Hou jou kaarte naby jou.
Dis nou jou fisiese kaarte, né. Bring weer kaartspeletjies, bordspeletjies en prettigheid terug na julle verhouding.
Kies dalk een eenvoudige spel wat julle saans kan speel as die take vir die dag voltooi is en die kroos in die kooi is. Om saam te speel is ’n wonderlike manier om nuwe energie weer terug te bring in julle verhouding. En bonus: jy kan dit tuis in jou pantoffels doen.
5. Die na-ete stappie.

Benewens die navorsing wat daarop dui dat dit jou gesondheid en veral bloedsuikervlakke positief beïnvloed. Om na ete te stap, selfs 10 minute se stap buite, kan jou gemoed positief beïnvloed. Dit verbeter op sy beurt jou energie, en as jy dit saam met jou maat doen, het jy ’n gewoonte wat jou gesondheid én jou verhouding verbeter. Dis ’n wonderlike manier om oor die dag te gesels, probleme deur te praat en sommer net die buurt te verken.
Sterk verhoudings word nie gebou op die rug van duur afsprake, eksotiese vakansie en uitgebrande lewensmaats nie. Verhoudings waaraan daagliks volhoubare moeite spandeer word, staan dikwels sterker as verhoudings wat uit groot gebare bestaan. Maak vandag nog plan om hout op jou liefdesvuurtjie te sit, sodat die vlammetjie nog lank kan brand.





