Op Sondag, 17 Oktober vier ons Tuindag. Ons het ’n heerlike tuinpiekniek gehou en ons verwonder aan al die mooi blomme, plante en insekte terwyl ons luilekker gekuier en gesels het. So het ons ons ‘tent’ gemaak en versier. Deur Suzanne Kotzé. Foto’s Jerri Nagel
Grimering deur Cheryl Parker. Sonbrille van Ozbob. Blommekranse van Foxglove Studio, Canal Walk, Kaapstad. Suzanne se rok van Me and B. Justine se rok, haar eie. Dekor- bykomstighede Mr Price Home. Bygestaan deur Conlia Taljaard van The Aleit Academy.
Wat is Tuindag?
Gedurende grendeltyd het baie van ons, ons groen vingers ontdek (of probeer ontdek) en dis geen wonder dat tuinmaak as die tweede gewildste grendeltyd-stokperdjie – ʼn kortkop agter kosmaak – bevind is deur Global Data nie.
Tuindag word al ses jaar lank gevier. Die skeppers van Tuindag (’n gemeenskap van tuin en plant entoesiaste genoem Candide Gardening) wil ons aanmoedig om vir een dag ons tuingereedskap te bêre en net ons tuine te geniet. Of jy wil mediteer op jou eie, koek en tee drink of rosé drink en piekniek hou. Ons het natuurlik op die laaste een besluit en ook onderneem om glad nie oor werk te praat nie, en om net die dag te geniet!
Wys ons gerus hoe jy Tuindag vier op sosiale media! Tag ons (Facebook @Stylvol en Instagram @stylvol.co.za) en @gardendaysa en gebruik die hutsmerk #GardenDaySA.
Ons skadu-tent



Ons het die raam van ’n gewone kamp ‘canopy’ gebruik en dit met tafeldoeke, ou gordyne en lakens gedrapeer. Dit gee nie net skaduwee nie, maar skep ook ’n heerlike gevoel en dis lekker om na die wapperende materiaal te kyk as jy dalk skuinslê ná jou piekniek.
Dit lyk ewe mooi saam met gekleurde lappe en jy kan enige materiaal wat jy het gebruik. Dit hoef nie netjies te lyk nie, en ons het sommer net die materiaal vasgeknoop aan die raamwerk en wasgoedpennetjies en haakspelde gebruik om die lappe aanmekaar vas te maak.
Ons het vars blomme vanaf die raamwerk gehang en ons self ook met bosse blomme omring.
Dekor
Ons het natuurlike skakerings en teksture gebruik om ’n boheemse gevoel te skep.



Gevriesde blomme wynhouer

Hierdie is so maklik om te maak en lyk dit lyk so mooi. Maak net seker jy sit dit op ’n diep bord op die skinkbord neer, veral op ’n warm dag, want die houer smelt natuurlik.
Wenk: hoe groter jou groot houer en kleiner jou ‘kleiner’ houer is, hoe dikker sal jou bak wees en hoe langer sal dit hou.
Dit het jy nodig

Twee houers van verskillende groottes, vars blomme, water en ’n klip of gewigte.
Maak dit so
- Gooi water op die bodem van jou groot houer en vries dit vir so twee ure of tot dit hard is.
- Plaas die kleiner houer in die groot houer.
- Druk blomme rondom die kant in.
- Sit jou klip of gewigte in die klein houer.
- Gooi water op die blomme om die kant.
- Vries oornag
- Om dit uit te haal, gooi kookwater op die rande en binne in die kleiner houer.
Blomme ysies


Hierdie is ’n heerlike koel lafenis op ’n warm dag. Eetbare blomme (Edible Flowers, Woolworths ), aanmaakkoeldrank en water (ons het Woolworths se Strawberry & Mint Flavoured Syrup gebruik) en roomyshouertjies is al wat jy nodig het.
Blomme botter

Mooi en maklik! Meng botter en grasuie (na smaak) en ’n paar eetbare blommeblare in ’n voedselverwerker. Smeer dit plat op ’n bord uit en druk ’n paar eetbare blomme en blare bo-op! Dit is heerlik!
Kyk hoe lekker het ons gekuier
Lees ook: