Hoe gaan dit met jou geestesgesondheid? Buite bloei die bome. Die son bak warmer en skyn langer, die gras groei geiler en die aarde ontwaak uit ’n oerslaap wat die einde van die winter aankondig. Maar die winter in jou hart wil net nie wyk nie. Jy was seker dat die soel lentebries die spinnerakke in jou hart sou wegwaai, maar dis asof hulle selfs duideliker afgeëts is teen die helder blommekleure. Deur kliniese sielkundige, Gerda Kriel
Hoe nou gemaak? Wag jy geduldig vir beter dae, of moet jy dalk iemand gaan spreek om jou geestesgesondheid te ondersoek?
Ses tekens om jou geestesgesondheid aan te meet.
Wanneer jy reeds vir langer as twee weke meer dae het wat moeilik is as goed is, moet jy begin uitkyk na die volgende ses tekens om jou geestesgesondheid aan te meet.
1. Jy is gedurig prikkelbaar en geïrriteerd.
So dikwels maak ons prikkelbaarheid af as normaal of dalk hormonaal, maar die realiteit is dat dit kan dui op verskeie geestesgesondheidsprobleme, onder andere angs, depressie, post-traumatiese stresversteuring en selfs bipolêre gemoedsteuring. As jy ondervind dat jy die meeste van die tyd, vir meer as ’n week, uiters prikkelbaar is, is dit ’n goeie idee om iemand te besoek wat jou kan help om die wortel daarvan te vind.
2. Jy onttrek jouself sosiaal.
En jy vind talle ‘verskonings’ om dit te regverdig! Maar die waarheid is, jy voel nie lus om mense te sien nie, nie eens jou familie of naaste vriende nie.
As jy agterkom dat jy mense vermy, en selfs nie op boodskappe reageer nie, kan dit moontlik dui op ’n depressiewe gemoed. Let op wat jou interaksiepatrone is oor die tydverloop van ’n paar dae, en reik uit waar jy kans sien!
3. Jou slaappatroon verander.
Meteens slaap jy ure aaneen, dag of nag, en jy sal selfs bedags middagslapies probeer inglip waar jy kan! Of andersyds sukkel jy saans om te slaap en word gedurig wakker. Of jy raak maklik aan die slaap, net om in die vroegste oggendure wakker te skrik en nie weer tot ruste te kom nie.
Enige verandering in jou natuurlike slaappatroon kan tekens van geestessiekte aandui.
Dis byvoorbeeld belangrik om te let daarop dat as jy glad nie slaap nie, maar eerder verhoogde energie het saans, en voel jy het nie slaap nodig nie, dit ’n teken van ’n maniese episode kan wees. Bespreek enige verandering in jou slaappatroon so gou moontlik met jou dokter.
4. Roomys proe nie meer soos roomys nie.
Seks is meer plig as plesier. Oefening word ’n las, kos proe soos karton en die lewe voel vaal. Anhedonie, of die verlies aan plesier, is ’n ernstige teken wat maklik misgekyk word. Ons is bedoel om die goeie in die lewe te geniet, en as ons die vermoë verloor om vreugde te vind in dinge waarin ons altyd vreugde gevind het, moet ons daarop let!
5. Die stem in jou hart sê gedurig vir jou jy is nie goed genoeg nie.
Jy is nie ’n goed genoeg vrou nie. Jy is nie ’n goed-genoeg ma nie. Jy stel almal teleur. Die wêreld sal ’n beter plek wees sonder jou. Wag so ’n bietjie, glo jy dit? Hierdie tipe negativistiese selfspraak is dikwels jou grootste geheim, iets wat niemand anders ‘sien’ nie, tog het dit ’n groot impak op jou selfbeeld, en jou selfvertroue.
Liefste vriendin, vele vroue het al met hulle lewens betaal omdat hulle hierdie stem geglo het.
As jy begin glo dat hierdie stem waar is, gaan spreek asseblief ’n berader of sielkundige met wie jy kan oopmaak. Hierdie stem moet nooit geglo word nie, maar dit moet altyd ernstig opgeneem word.
6. Die dood voel na uitkoms.
Dalk hunker jy na rus. Dalk fantaseer jy oor doodgaan, of dalk het jy al begin dink daaraan om jou eie lewe te neem. Stop. Wanneer jy reeds by hierdie punt is, is dit nodig vir jou om eerder gouer as later hulp te kry. Selfdoodgedagtes of fantasieë oor die dood is dikwels ’n teken dat iemand alle hoop verloor het, en dit is noodsaaklik dat jy so gou moontlik iemand spreek.
Dit is so dat sommige se wintermaande langer hou as ander. En dan ook, dat sommige mense meer geneig is tot sinisme en erns. Wat belangrik is, is dat jy jouself ken, en weet wanneer om vir jouself hulp te vra. As jy bekommerd is oor jou geestesgesondheid, maak ’n afspraak met jou naaste huisdokter, sielkundige, psigiater of berader en wees met hulle eerlik. Jy is dit werd. Ongeag wat die stem in jou hart jou probeer wysmaak.
(As jy jy ná die lees van hierdie artikel bekommerd is oor jou geestesgesondheid of dié van ’n geliefde, besoek gerus www.sadag.org.za vir meer hulpbronne en ondersteuning).
Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com