Om beter werk-lewe balans te hê was al meermale op my lysie van my nuwejaarsvoornemens. Dit is ook iets wat gereeld in gesprekke in my sessies met kliënte opduik. Daardie behoefte om jou werk goed te doen en te floreer, maar om ook na jou persoonlike welstand om te sien. En om eerlik te wees: ek het nog nooit gevoel dis iets wat ek al onder die knie kon kry nie. Daar was tye in my lewe wat ek heeltemal te veel op werk gefokus het — partykeer ten koste van my gesondheid en my gesin. En ander kere was ek weer so gefokus op my kinders, dat ek te min vir myself oor gehad het.
Hoe ouer ek raak, hoe meer wonder ek of dit regtig iets is wat ons kan bereik, waarby ons kan arriveer … of is dit maar ’n teiken wat aanhou beweeg? Deur Nicola Pretorius.
Die term werk-lewe balans is amper vir my te simplisties. Dit skep die idee dat werk en lewe apart is — dat die baie fasette van ons lewens in twee netjiese boksies geplaas kan word, wat presies moet balanseer. Maar ons weet mos: die lewe is onvoorspelbaar, stel baie uitdagings en is baie meer kompleks. En werk is mos tog deel van ons lewens; dit is nie die teenoorgestelde van lewe nie. Kenners reken ook boonop dat om aanhoudend balans te probeer handhaaf, kan op sigself spanning veroorsaak en jou laat voel asof jy aanhoudend faal.
So, as werk-lewe balans ’n mite is, wat is dit dan waarna ons strewe?
’n Paar jaar gelede het ek op die term werk-lewe harmonie afgekom, en dit klink vir my meer realisties vir ons intergekonnekteerde lewens. Die idee van balans is dat alles dieselfde aandag geniet, waar harmonie weer voorsiening maar vir die die ebb en vloei van die lewe. Somtyds verg werk meer van jou, en ander kere weer jou persoonlike lewe. En net soos die dirigent van `n orkes moet jy die die verskillende aspekte van jou lewe goed laat saamwerk op `n manier wat dit mekaar komplementeer en in harmonie kan wees.
Afrigter en skrywer Brian Bartes reken ook die konsep van werk-lewe harmonie is meer realisties en kan jou dus meer bemagtig laat voel.
8 Praktiese wenke vir beter werk-lewe harmonie
1. Weet wat belangrik is

Gaan dink oor wat jou waardes is (wat vir jou belangrik is), identifideer jou prioriteite vir die seisoen van jou lewe en wat jy graag wil bereik. Wanneer dinge besig raak en jou in verskillende rigtings trek, vra: “Reflekteer dit waarmee ek besig is wat nou vir my belangrik is? “
As jy weet wat jou prioriteite, waardes en doelwitte is, gee dit jou baie duidelikheid. Dit raak jou interne kompas en maatstaf vir wat werklik saak maak. Jy vorm dus jou eie definisie van wat genoeg is, of wat sukses vir jou beteken.
2. Maak ’n kopskuif

Aanvaar dat perfekte werk-lewe balans basies onmoontlik is. Om jouself los te maak van daardie strewe is ongelooflik bevrydend. Kyk daarna nie as iets om te bereik nie, maar iets om te bestuur.
Moenie te hard op jouself wees nie. Daar gaan tye wees wat die spreekwoordelike pap op die grond gaan val. Raak dan bewus, en vra jouself: “hoe gaan ek nou reageer, hoe moet ek nou aanpassings maak?.”
3. Grense

Gesonde grense beskerm jou tyd, energie, aandag en emosionele welstand. In die digitale era is dit maklik vir werk om oor te vloei in jou persoonlike tyd en vice versa. Grense help jou om te gaan van reaktief (ek “moet” nou reageer) na ’n meer doelbewuste (ek het `n keuse) ingesteldheid.
4. Maak vaste afsprake

Raak betrokke by iets wat vir jou betekenisvol is of jou batterye laai buite jou werk, soos ’n nuwe stokperdjie, oefensessie, koffie-afsprake. As jy vaste afsprake het, gee dit jou ’n geldige verskoning om klaar te maak met werk, en neem jy ook so beheer van jou vrye tyd. Boonop maak dit ook die stel van grense makliker.
5. Doen meer van wat jou energie gee

Om werk-lewe harmonie te skep, gaan nie net oor tydbestuur nie. Dit het ook baie te make met hoe jy voel. Dink oor wat jou energie gee, en wat dit tap.
Maak seker daar is meer dinge wat jou batterye laai as wat jou battery leeg tap in jou week. Weef genoeg aktiwiteite wat jou energie gee deur jou dag.
6. Hersien jou gewoontes

Jou gewoontes of rituele gee jou dag struktuur. Kyk deur jou dag en doen ’n “gewoonte-oudit”. Gee jou gewoontes ’n plus, minus of neutraal. Vra: “Watter van hierdie gewoontes bring my nader aan harmonie en watter moet ek aanpas?”
Skryf die nuwe gewoontes wat jy wil vorm neer, en wees baie spesifiek. Sluit byvoorbeeld in wanneer en waar jy hierdie nuwe gewoonte gaan uitvoer. Lees meer hier oor hoe om goeie gewoontes te kweek.
7. Neem beheer van tegnologie

Tegnologie maak dinge baie makliker, maar dit bring werk maklik saam huis toe. En daardie doom scrolling kan baie tyd steel van ander dinge wat jy eerder wou doen.
Maak dus seker jy beheer jou tegnologie; nie andersom nie. Lees meer oor die skermvrye Sondae tendens hier.
8. Wees intensioneel

Micheal Hyatt het gesê: “The busier you are, the more intentional you must be.”

Om intensioneel te wees is die kuns om bewus te raak, duidelikheid te hê en te weet waar en hoe om jou tyd te spandeer. Dit beteken om jou energie en aandag aan die dinge wat regtig vir jou saak maak en belangrik is te bestee.
Nicola Pretorius is `n lewensafrigter vir vroue van Stellenbosch. Besoek gerus haar webwerf hier.





