goeie gewoontes
goeie gewoontes

Kweek goeie gewoontes só

Jy kan nie vir ‘n ou hond nuwe toertjies aanleer nie. Of kan jy? Vir jare het mense geglo dat wanneer jy volwassenheid bereik het, jou persoonlikheid en gewoontes gevestig is, en jy daaraan baie min kan verander. Maar die teendeel is nou bewys. Deur sielkundige Gerda Kriel

10/02/2023

Opwindende navorsing oor die afgelope paar jaar het egter aan die lig gekom, en wys vir ons dat jy enige tyd van jou lewe, ja, selfs tot diep in jou bejaardheid, steeds nuwe neurale bane in die brein kan vorm, en sodoende nuwe gewoontes en gedagtepatrone kan aanleer. Met die die nuwe jaar wat nog in sy babaskoene staan, is dit die perfekte tyd om nuwe gewoontes aan te kweek deur hierdie vyf wenke toe te pas.

Kweek só goeie gewoontes

1. Wees realisties in die doelwitte en gewoontes wat jy wil aankweek

Dikwels probeer ons radikale veranderinge aanbring, en dan misluk ons klaaglik. As jy byvoorbeeld jou eetgewoontes wil verander, is dit sinvol om op kleiner gewoontes te fokus wat jy kan inbring, soos om elke dag een glas meer water te drink as gewoonlik.

Dis makliker om een glas ekstra water te drink, as om meteens twee liter te drink as jy nie daaraan gewoond is nie.

Skryf jou doelwitte neer, en werk dan uit watter gewoontes jy moet aankweek om daardie doelwitte te bereik. As jy byvooorbeeld die Comrades wil hardloop, moet jy eers in die gewoonte van daaglikse oefening kom.

2. Fokus op “klein” gewoontes.

Die skrywer, B.J. Fogg skryf in sy boek, Tiny Habits, dat daar drie maniere is waarop jy langdurige verandering kan teweegbring:

  • om ’n ontwaking te beleef,
  • om jou omgewing te verander,
  •  of om jou gewoontes op klein maniere te verander.

Die klein maniere is om jou fokus te verskuif van groot doelwitte, en eerder te fokus op kleiner aksies wat daagliks gedoen word om by groot doelwitte uit te kom oor ’n realistiese tydperk.

So lees ek onlangs van ‘n persoon wat gesonder wou word, en daagliks wou oefen. Vinnig het sy besef dat om elke dag ’n uur opsy te sit vir oefen, onrealisties en nie haalbaar binne haar konteks is nie. Sy het dus besluit om elke dag iets te doen, eerder as om iets groots te doen, en het sommige dae vir slegs twee minute geoefen. Op dae wat sy meer tyd gehad het, het sy langer geoefen. Die kumulatiewe effek van die gewoonte van oefen het eindelik tot geweldige gesondheidsvoordele gelei, en sy het oor ’n tydperk die vrugte van haar arbeid gesmaak.

3. Wees intensioneel.

Niks gaan verander as jy nie ’n plan het nie. Jy moet jou nuwe gewoontes in jou dag skeduleer, tyd maak daarvoor, jou planne met familie en vriende bespreek en jouself daarvoor toerekeningsvatbaar hou.

Besef dat die veranderinge wat jy wil aanbring in jou eie hande is, en dat jy self beheer daaroor moet neem. As jy lank reeds in die gewoonte is om lui te wees, en min dinge gedoen te kry, gaan jou brein daardie roete die maklikste volg, maar as jy met intensionaliteit, doelbewus jou nuwe gewoonte kies, versterk jy die nuwe neurale bane in jou brein, wat dit al makliker sal maak om die nuwe gewoonte bo die ou gewoonte te kies.

4. Skakel jou nuwe gewoonte aan ‘n ou gewoonte.

Deur die gewoonte wat jy wil aanleer te skakel aan ’n gewoonte wat jy reeds beoefen, maak jy dit vir jou brein makliker om assosiasies te vorm, en kan jy vinniger die nuwe gewoonte aanleer.

As jy byvoorbeeld vir jouself besluit dat jy elke keer wanneer jy by die winkel kom, vêr sal parkeer, sal jy kort voor lank jou gewoonte om meer te stap kan beoefen. Of as jy elke keer nadat jy tande geborsel het, ’n glas water drink, sal jy vinnig by jou waterdoelwitte uitkom. B.J. Fogg beskryf hierdie manier van gewoontes aanleer ook in sy boek, en dis werklik een van die mees effektiewe maniere om nuwe gewoontes te kweek.

5. Besef dat jou emosies jou gewoontes bepaal.

As jy goed VOEL oor ‘n nuwe aksie wat jy in ‘n gewoonte wil omskep, sal jy meer gemotiveerd wees om dit oor ’n langer tydperk te doen. As jy hierdie konsep verstaan, sal jy verstaan hoe belangrik dit is om beloning in jou strategie te bewerkstellig, en sal jy ook verstaan dat jy soms deur ’n negatiewe emosie moet beweeg, en steeds die aksie van die gewoonte moet uitvoer.

Wanneer jy dus regtig nie lus is vir oefening nie, maar dit steeds doen, sal die emosie van sukses jou die volgende keer meer gemotiveerd laat voel, terwyl die emosie van mislukking jou sal oorreed om eerder op te gee.

Om nuwe gewoontes aan te kweek, is om nie vasgevang te raak in die eindstreep en doelwitte nie. As jy eerder fokus op die daaglikse handelinge en aksies wat jy volhoubaar implementeer, sal jy groot veranderinge sien.

Leesstof

As jy meer wil lees oor die aankweek van gewoontes wat jou kan verander, beveel ek die volgende twee boeke aan: B.J. Fogg – Tiny Habits en James Clear- Atomic Habits. Mag jy besef dat die geleentheid om jou lewe se rigting te verander in jou hande is, en dat jy dit kan doen, een nuwe gewoonte op ’n slag.


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ses dinge wat Vanes-Mari du Toit se hoogswemrekord haar oor uithouvermoë geleer het
error: Content is protected !!