Dit is die tyd van die jaar waneer baie van ons weer probeer fiks word, maar dit is soms makliker gesê as gedaan. ’n Fiksheidsafrigter deel watter foute jou dalk kan keer om jou doelwitte te bereik. Saamgestel deur Suzanne Kotzé.
Watter foute keer ons om fiks te word?
Dit is die vraag wat ons vir Kaapse fiksheidsafrigter Jason Barnard van Inside Out Fitness gevra het. Jason deel: “Hoe om fiks en gesond te word en fiks en gesond te bly, is ’n vraag wat gereeld gevra word. As ons fiksker word, is ons lewenskwaliteit dikwels ook beter. Maar hoe kry ons dit reg?
Hier is foute wat ek mense dikwels sien maak het oor die afgelope 18 jaar wat ek al fiksheidsafrigting doen.
Jason Barnard
1. Jy kies ’n tipe oefening wat jy nie geniet nie.
Vind iets wat jy waarlik dink jy sal geniet. As jy hardloop haat, moenie by ’n hardloopklub aansluit nie.
Dit is vir baie mense moeilik om te oefen. Daarom is dit belangrik dat jy, veral aan die begin van jou fiksheidsreis, die tipe oefening te kies waarmee jy sal volhou.
As jy dalk vir ’n lang ruk geen oefening gedoen het nie, gaan dit dalk ’n rukkie langer neem om die regte oefening te kry waarvan jy hou. Dit is ’n proses van aanhou probeer tot jy die regte een kry.
2. Jy druk jouself té vinnig té hard
Een van die grootste foute wat ek mense sien maak wanneer hulle met fiksheidsklasse begin, is dat hulle hulself te hard druk. Dit is belangrik om eers jou eie beperkinge en vermoëns te verstaan.
Neem dit aanvaklik stadig en werk geleidelik harder.
As jy dit dadelik oordoen, gaan jy dalk vir dae lank na jou oefening nog styf en seer wees en dalk nie lus wees om terug te kom nie. En dit is nie ideaal nie, want gereelde oefening is belangrik is.
3. Jy probeer jou fiksheidsreis alleen aanpak

Ek het al soveel keer die verskil gesien wat dit maak as jy alleen probeer fiks word/oefen versus mense wat saam met vriende of in ’n groep oefen. Dit is natuurlik nie altyd die geval nie, maar om in ’n groep of saam met vriend te oefen maak dit vir baie mense makliker om vol te hou en gemotiveerd te bly.
4. Die verkeerde skoene
Nog ’n fout wat ek dikwels sien, is die verkeerde oefenskoene. Dit kan onnodige pyn (veral knie en voetpyn) en selfs beserings veroorsaak. En dit kan jou fiksheidreis belemmer of selfs beëindig. As jy nie seker is watter soort skoene jy moet dra nie, gaan na ’n betroubare fiksheidsskoenwinkel, waar jy ’n kundige vir raad kan vra. (En moenie net een skoen aantrek en besluit jy koop dit nie. Trek altwee skoene aan, en hardloop en spring rond om seker te maak dit pas behoorlik.)
5. Jy kommunikeer nie met jou afrigter nie
’n Algemene fout, veral in groepsklasse, is dat jy nie kommunikeer met jou afrigter as jy sukkel, pyn ervaar of bloot verkeerd verstaan het nie. Dit is die afrigter se werk om jou met jou fiksheidsreis te help, so moenie bang wees om hulp te vra nie. Dit is so belangrik om probeme onder jou afrigter se aandag te bring. Jou afrigter wil jou graag help, maar kan dit nie doen as hy/sy nie weet dat daar ’n probleem is nie.
6. Ongereelde oefening
Daar is drie komponente vir oefening; kragoefening, soepelheid en kardiovaskulêre fiksheid en daar is geen kitsoplossing hiervoor nie. Werklike voordele vind net plaas wanneer jy konsekwent is.
Jy moet jou tot minimum drie tot vier keer per week verbind. Dit beteken dat jy teen jou eie pas moet werk en jouself nie moet oorlaai nie.
Na twee tot drie maande van gereelde oefening sal jy werklike veranderinge en gesondheidsvoordele begin sien en voel.

“Om fiks te word is uitdagend. Dit is nodig om jou self te verbind en om tyd vooraf opsy te sit hiervoor. Die voordele is egter enorm en kan lewensveranderend wees. Stel realistiese kort- en langtermyn doelwitte, sodat jy gemotiveerd kan bly. Onthou, jou liggaam is jou grootste belegging! Belangriker nog, wees sagmoedig (kind) met jouself. As tye moeilik raak en jy kom nie by oefening uit nie, staan op en probeer weer.” Jason Barnard van Inside Out Fitness.
.