6 redes waarom jy dadelik moet ophou met bedwerk

Hierdie tyd van die jaar is bedwerk (en ‘bedkyk’) maar te aanloklik. Lekker snoesig onder jou duvet, terwyl ander mense in die kantoor sit. As jy ook ’n bedwerker (of kyker) is, lees tog hier. Deur Suzanne Kotzé

Quanita Adams oor bedwerk en haar rugoperasie.

’n Hele rukkie gelede plaas aktrise Quanita Adams die volgende foto van haarself op Instagram.

“This is Spinal Fusion. Turns out I have been broke back busy for about 30 years. Who knew?! Had surgery to fix my broken back. It was a success. Now the slow and steady journey to recovery. I’m good. I’m up and walking. It’s a long story, I’ll tell you again. For now I’m taking things slowly. Also, if you’re reading this, and you, like me, work on your laptop in bed ..? Ja…. Stoppit. Just don’t do it.”

Haar rug- en bedwerk-geskiedenis

Quanita vertel dat sy haar hele lewe lank aan en af met rugpyn sukkel. “Dit was veral erg gedurende swangerskap, toe die pyn selfs na my been ook versprei het. Ek en die fisio het gedink dit is maar net as gevolg van my swangerskap. En na my swangerskap was alles weer reg.”

Bedwerk

“Vanaf so Desember 2022 tot vroeg in 2023 het ek ’n draaiboek vir ’n fliek geskryf, en dit het ek meestal in die bed gedoen. My man het aanhou sê dat ek eerder by die tafel moet skryf, en dan het ek net ‘nee, ek sal kussing agter my rug indruk,’ gesê.

En toe begin die rugpyn weer. Teen middel 2023 was die pyn so erg dat ek nie uit die bed kon opstaan nie. Ek het dadelik gedink ek het seker ’n ‘slipped disc’, want dit is wat jy gewoonlik hoor mense het as hulle rug erg seer is. Nadat ek egter by ’n dokter en later ’n spesialis (ortopediese chirurg dr. Ramanare Magampa) was, het ons ’n X-straal en MRI laat doen.”

Dr. Magampa het haar meegedeel dat sy ‘gelukkig’ nie ’n slipped diskus het nie, maar ongelukkig nie, want sy het nie ’n diskus om mee te begin nie. “Hy het basies gesê dat ek al vir plus minus dertig jaar met ’n gebreekte rug rondloop, sonder dat daar enige sigbare trauma of herinnering is aan wanneer ek my rug kon gebreek het.”  Dr. Magampa het gesê dat sy ’n hiperverlengde stertbeen (‘so my boude staan uit’ grap Quanita) het. En dat die been op been met die jare die diskus heeltemal weggeskuur het. Siste het begin vorm, wat op haar senuwees begin druk het en die pyn veroorsaak het.

“Ek is so dankbaar dat ek so ’n uitstekende dokter gehad het. En hy is nie pro-opereer nie, maar hy het die besluit aan my oorgelaat nadat hy ook die gevare van so ’n operasie (‘fusion therapy surgery’) aan my verduidelik het.

Ek het tot die slotsom gekom dat ek vir so lank nie my dogter kon optel nie, of saam met haar spring of swaai nie, omdat ek altyd die ma was wat moes ‘sit’ omdat ek rugpyn het. Elke keer as my dogter na my toe aangehardloop gekom het, moes ek eers ’n sommetjie in my kop maak, van wat ek nou gaan doen. Totdat my dogter later net outomaties begin verskoon het: “it’s fine mom, you sit.”

Ek het einde Oktober die operasie ondergaan en dr. Magamba en sy span het ’n hele netwerk been verwyder en vervang met titanium pype wat amper soos ’n skok-absorbeerder werk. Ek is basies ‘Wolverine’, en nee ek ‘beep’ nie as ek deur die lughawe se sekuriteit loop nie.

Ek doen steeds pynbestuur na my operasie en moet vir hope fisioterapie gaan. As ek nie in my bed gewerk het nie, sou ek seker nie die intense pyn ervaar het wat die werklike probleem onder my aandag gebring het nie.

Werk ek nou uit die bed uit? NEE!”

Redes hoekom bedwerk sleg is vir jou

1. Dit is sleg vir jou rug

“As ek nou hoor van mense wat met hulle skootrekenaars in die bed werk, wil ek net vir hulle sê: Moet dit nie doen nie. Selfs as jy nie rugprobleme het nie, dit is so sleg vir jou rug. En jou ruggraat is jou ruggraat, dit is baie moeilik om daarsonder te wees. Alledaagse goed soos om te draai, of om toilet toe te gaan was so kompleks.”

Kaapse fisioterapeut Marthé van der Merwe stem saam. As jy in jou bed werk, buig jou blaaie/torakale area. Al die diskusse druk dan aan die voorkant saam vir ’n volgehoue tyd. As jy sit en werk in jou bed kry jou lumbale area (lae rug en stertbeen)  ook te veel fleksie en drukking op jou L4/5/S1 diskus met jou knieë  wat in lyn is met jou heupe en nie teen ’n 90º hoek, soos jy optimaal moet sit en werk nie.

Quanita sê juis sy het ook die belangrikheid geleer van ’n goeie, ondersteunende stoel en dat jou knieë teen ’n 90º hoek moet wees. “Selfs al moet jy jou voete op ’n boks of baksteen sit, maak seker jou boude is nie laer as jou knieë nie.”

2. Jou nek buig te veel na vore

Fisioterapeut Marthé deel die volgende: “Die slegste van alle posisies is om in die bed te lê en en werk/reekse kyk of lees. Die eerste wat swaarkry is jou nek. Anatomies het jou nek eintlik ’n kurwe agtertoe. As jy in die bed lê en werk, buig jou nek te veel vorentoe (oor-fleksie).”

3. Dit beïnvloed slaapkwaliteit

“Moenie in jou bed werk of reekse kyk as jy sukkel om te slaap nie. Jou brein moet die assosiasie maak met bed = slaap,” is Kaapse psigiater dr. Laura Comrie se raad. Om saans in die bed te werk of te kyk, kan verder ook veroorsaak dat jou liggaam minder melatonien afskei, wat sal veroorsaak dat jy sukkel om aan die slaap te raak of slegter slaap.

Lees meer hier: 15 Wenke vir beter slaap

4. Jy is waarskynlik minder produktief

Jou brein assosieer jou bed met slaap of ontspan (dit is die ideaal vir goeie slaap) en deur in die bed werk, kan jy sukkel om goed te konsentreer. En soos bo genoem, assosieer jy dan weer jou bed met werk, en sukkel om goed te slaap, wat weer kan maak dat jy moeg en onproduktief is.

5. Dit kan intimiteit of verhoudings beïnvloed

Baie paartjies is gedurende die dag so besig, dat daar dikwels saans in die bed vir die eerste keer gepraat word, of natuurlik intiem verkeer word. As een persoon of beide in die bed werk, gaan geseltyd en intimiteit maklik daaronder ly.

Lees hier: Jou huwelik: Steek die vlam weer aan

6. Dit is onhigiënies

Volgens die American Chemical Society skud ons nagenoeg 500 miljoen dooie velselle daagliks af, en baie hiervan gebeur veral saans in die bed. En hoe meer tyd jy in die bed deurbring, hoe meer dooie velselle skud jy in jou bed af. Huistofmyt en ander goggas leef juis om hierdie dooi velselle te eet. En dan praat ons nie eers van hare (jou eie en jou troeteldiere sin) nie. Gril! Onthou om jou lakens gereeld te was en jou matras skoon te maak.

Wenke om bedwerk te verminder

  1. Hou elektronika (en veral skootrekenaars) uit jou slaapkamer
  2. Skep ’n werkspasie (met ’n goeie ondersteunende stoel) wat net vir werk is.
  3. Moenie jou werksdag in slaapklere begin nie, trek dadelik dagklere aan.
  4. Hou by ’n roetine, en
  5. Hou by werksure. (Dit is maar te maklik om nooit op te hou werk as jy van die huis af werk, of vir jouself werk nie).

Lees ook: Werkspasie wenslysie: lessenaar, stoele en funksionele dekor

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Tekens dat jy besluitnemingsmoegheid het
error: Content is protected !!