Jou huwelik: Steek die vlam weer aan

Steek die vlam weer aan in jou huwelik. Wanneer die opsitkers brand, loop die passie en opwinding van ’n nuwe verhouding hoog. Soos wat die opsitkers sy vlam verloor, en die alledaagse winde van verandering, roetine en platoniek waai, kan daardie kersie maklik sy vlam verloor. Deur sielkundige Gerda Kriel

07/04/2023

Laat groei jou huwelik deel 3: Steek die vlam weer aan

Om gelukkig getroud te wees is die oogmerk waarmee die meeste paartjies die knoop deurhak. Dikwels hoop ons vir ’n maklike pad saam, en beplan ons om vir jare saam te wees – tot die dood ons skei. Tog, as jy kyk na die egskeidingsyfer, dan is dit duidelik dat huwelike nie altyd ’n sprokiesverhaal is nie. As sielkundige wat ook met paartjies ’n pad stap, het ek oor die jare gesien dat die gelukkigste huwelike die huwelike is waaraan daar dikwels met sorg gewerk word. Soos enigiets, sal jou huwelik verweer as jy nie tyd, moeite en liefde daaraan skenk nie. Konflikhantering in die huwelik is die tweede van drie artikels waar ons fokus daarop om vir jou praktiese wenke te gee oor hoe jy jou huwelik kan laat groei.

Lees Laat groei jou huwelik deel 1: Vyf wenke om kommunikasie in jou huwelik te verbeter hier

Laat groei jou huwelik deel 2: Konflikhantering in jou huwelik

‘Elegie vir my toekomstige vrou’

Ek wil my dank rig aan Koos Kombuis, wat hierdie kosbare gedig geskryf het, wat ek al soveel kere nader gesleep het in huweliksterapie om vir egpare te illustreer dat die ontnugtering van die huwelik normaal is, maar ook, dat wanneer ons terugkeer en dinge doen wat ons aan die begin van ons verhouding gedoen het, daar ‘n vars bries van hoop kan deurwaai, wat ‘n vlammetjie lewe sal gee, en nie sal blus nie.

Andrè Letoit (Koos Kombuis) dig oor hierdie ontugtering in sy gedig, ‘elegie vir my toekomstige vrou :

‘daarna het ons, soos altyd, saam

geleef (leef?) soos al die ander

mense (mense?) en

nie meer toptwintig

geluister nie

ek het altyd gedog

ek was verlief op jou (hahaha!)

maar toe eers, toe vang ek die hele triek:

alles gaan om skreeuende bybies

en kombuiskaste wat piep

en die huwelik is ’n duur prys om te betaal

vir ‘’n lewe vol platoniese dogmatiek”

Steek die vlam weer aan met hierdie vier wenke

Beteken dit dat ’n verhouding verby is as die opsitkers sy vlam verloor het? Glad nie! Hier is ’n paar wenke vir hoe jy die vlam weer kan aansteek en die intimiteit in jou verhouding kan herstel.

1. Doen weer dinge saam

‘ek het jou uitgeneem op my motorfiets (boksburgmeer

of milky lane in hillbrow of

daai hippiekolonie in berea’

Doen weer dinge saam! Iets buite die gewone, soos motorfietsry, berglim, trampolienpark besoek of selfs net by  ’n nuwe vreemde restaurant eet.

Navorsing bewys dat egpare wat gereeld nuwe dinge saam doen, en gereeld ‘speel’ meer intimiteit en vreugde in hulle huwelik beleef. Dit is baie maklik om in roetine te verval, maar as jy jou huwelikskersie wil laat opvlam, moet jy moeite maak daarmee om nuwe dinge te doen, amper soos toe julle net begin ‘date’ het.

Enigiets wat die ritme van die alledaagse ontwrig, en wat julle saam kan doen is  ’n goeie idee.

Soms beteken dit dalk dat jy uit jou gemaksone klim en saam met jou maat sy stokperdjie beoefen. Paartjies wat gedurig aparte belangstellings beoefen, en nooit tyd maak om saam iets te doen nie, groei later in verskillende rigtings, wat tot vervreming kan lei. Onthou, niemand het gesê dis maklik om jou huwelik weer vlam te gee nie – maar dit bly die moeite werd!

2, Gebruik jou woorde

‘en jy het verlief geraak op my

toe jy my profiel in die

-nee wag- toe ek

in jou oor fluister

“ek smaak jou”

Gebruik jou woorde om jou maat weer te bekoor. Na ‘n tyd raak alle kommunikasie in  ’n verhouding funksioneel: rekeninge wat betaal moet word, afsprake wat gehou moet word, kinders wat groot moet word… Dit is dan maklik om te vergeet hoe kragtig troetelwoorde en liefdesnaampies kan wees om  ’n verhouding weer op te kikker.

Gebruik ook geskrewe woorde, briefies of SMS’s om deur die dag aan jou maat te kommunikeer hoe jy oor hom voel. Stof sommer weer julle destydse troetelname af. En vertel op kreatiewe manier vir mekaar hoe julle mekaar liefhet. Koop jou maat se gunsteling lekkertjie, of gaan soek weer ‘’n  ete op wat vir julle albei betekenisvol was! Vind jou maat se liefdestaal (Lees gerus meer hieroor in Gary Chapman se boek “die Vyf liefdestale”) en gebruik dit om jou te help om in SY/HAAR taal met hom jou liefde te kommunikeer.

3. Doen weer moeite met jou voorkoms

(jou hare het effens na kougom geruik – oh baby)

Reuk is een van die kragtigste manière om weer emosie te herleef! Oor die jare verander ons reukvoorkeure, ons trek anders aan en soms, hou ons heeltemal op met moeite doen met onsself.

Iets wat vir my dikwels opvallend in huweliksterapie is, is hoe die mans dikwels netjies aangetrek is, kort geskeer en goed lyk, terwyl dames ophou om hulself te versorg. Ek het absoluut begrip daarvoor: die tol wat swangerskappe en huistakies neem kan jou laat voel soos  ’n vloerlap en dan begin jy self so aantrek!

Geliefde vriendin, dit hoef nie so te wees nie! Jy is dit werd om weer na “kougom te ruik” – met ander woorde, om jouself weer te versorg soos  ’n jong meisie wat wil indruk maak! Maak moeite met jou klere, maak moeite met jou voorkoms, en trek weer die reukwater nader wat jy as jongeling in julle verhouding gedra het. Die reuk daarvan kan weer die vlamme van verlange en passie aanwakker en opwek!

4. Herbesoek julle huweliksdag en beloftes

“maar uiteindelik

het ons tog getrou; jy was so bly…”

Dikwels vergeet ons ons oorspronklike huweliksbeloftes en -vreugdes.

Herbesoek julle huweliksdag. Stof die foto-album af, vertel weer die storie van julle! Wys vir julle kinders, nooi vriende uit vir  ’n huweliksherdenking-viering en maak weer moeite om die oorspronklike gevoel van verliefdheid en romanse op te wek.

Egpare wat gereeld hulle storie oorvertel, en wat moeite doen om te onthou dat die huwelik oorspronklik met hulle twee begin het, het  ’n  groter sin van ‘behoort’ in die lewe en by mekaar. Een van die kragtigste woorde wat ek ooit gelees het oor  ’n vrou se huwelikstevredenheid was dat haar verbeelding haar  kragtigste bron van geluk kan wees.

Waarop jy fokus in jou huwelik, word jou realiteit!

As jy altyd net fokus op alles wat sedert julle troudag skeefgeloop het, is dit al wat jy sal sien! As jy egter jou verbeelding inspan, en alles wat goed en reg en wonderlik is raaksien, sal jou emosies volg en sal jy besef hoe waardevol dit is, om jou huwelik te vie ren jou gedagtes teen verval te beskerm!


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Wonderlus: 9 maande wêreldreis op ’n passasierskip
error: Content is protected !!