Hierdie is alles tekens van kommunikasie in jou huwelik wat nie meer effektief is nie: Misverstande, veranderende planne, enkelwoordsinne en die volgehoue (of eerder uiteindelike) skouers optrek van radeloosheid. In die meeste gevalle, wanneer paartjies aanklop vir terapie, is verbeterde kommunikasie een van die grootste doelstellings. En tog voel dit vir so baie paartjies onbereikbaar. As jy voel dat jy en jou maat gedurig oor dieselfde dinge koppe stamp, of dat jou maat jou bloot nie hoor nie, weet gerus jy is nie alleen nie! Dit is egter makliker om kommunikasie te herstel en verbeter as wat jy dink, en hierdie vyf wenke om kommunikasie te verbeter mag jou en jou huweliksmaat dalk net in ’n nuwe rigting lei. Deur sielkundige Gerda Kriel
24/03/2023
Laat groei jou huwelik deel 1: Vyf wenke om kommunikasie in jou huwelik te verbeter
Om gelukkig getroud te wees is die oogmerk waarmee meeste paartjies die knoop deurhak. Dikwels hoop ons vir ’n maklike pad saam, en beplan ons om vir jare saam te wees – tot die dood ons skei. Tog, as jy kyk na die egskeidingsyfer, dan is dit duidelik dat huwelike nie altyd ’n sprokiesverhaal is nie. As sielkundige wat ook met paartjies ’n pad stap, het ek oor die jare gesien dat die gelukkigste huwelike die huwelike is waaraan daar dikwels met sorg gewerk word. Soos enigiets, sal jou huwelik verweer as jy nie tyd, moeite en liefde daaraan skenk nie. Kommunikasie en jou huwelik is die eerste van drie artikels waar ons fokus daarop om vir jou praktiese wenke te gee oor hoe jy jou huwelik kan laat groei.
Lees ook:
Laat groei jou huwelik deel 2: Konflikhantering in jou huwelik
Laat groei jou huwelik deel 3: Steek die vlam weer aan
1. Besef wat die doel van kommunikasie is
En meer spesifiek, wat is die doel van die betrokke kommunikasie wat jy en jou maat op daardie oomblik het: Is dit om inligting oor te dra, ’n probleem op te los, of iets uit te vind. So dikwels hanteer ons alle kommunikasie op dieselfde manier, terwyl verskillende redes vir kommunikasie daartoe lei dat jy verskillende maniere van kommunikeer moet toepas.
As jy byvoorbeeld alle inligting met dieselfde energie aan jou maat oordra, gaan hulle nie weet of jy praat van Susan by die werk se nuwe skoene of julle seun se skoolverslag nie. Help jou maat om jou te hoor deur duidelik aan die begin van die gesprek jou verwagtinge te kommunikeer. Dit stel jou maat in staat om sy/haar luister so in te stel. Sodat dat jou maat weet of hy/sy net moet hoor en of jy ‘n oplossing van jou maat verlang.
Wenk:
Dit help as julle aan die begin van gesprekke kan duidelik stel waaroor julle nou moet praat. Amper soos ’n agenda, veral vir dinge wat belangrik is. Kommunikeer ook aan jou maat wanneer iets vir jou belangrik is, sodat hy weet om regtig te fokus.
2. Identifiseer jou maat (en jou) se kommunikasiestyle
Let bietjie op hoe jy en jou maat natuurlik kommunikeer. Is een gedurig aan die klets terwyl die ander net nou en dan iets vertel. Deel julle gedagtes of intieme idees met mekaar, of is die kommunikasie meer oppervlakkig. Dit help om te weet wie van julle geneig is om op watter manier te kommunikeer, sodat julle kan inskakel op mekaar. Terselfdertyd is dit belangrik vir jou om te weet of jy dalk van strategie moet verander.
As jy byvoorbeeld gedurig en aaneen praat, sal jou maat moontlik jou stem begin uitskakel. Maak seker jou maat kry ook tyd om sy praat te praat.
Wenk:
Loer in by jou maat en vra hom of daar enige manier is waarop jy kommunikeer wat dit vir hom moeilik maak om jou te hoor. So dikwels gaan soek ons die fout by ons maats, maar onsself is traag om aanpassings te maak.
3. Luister om te hoor, nie om te antwoord nie.
Hierdie raad is so deurleef en word soveel keer herhaal, maar dit is ongelooflik belangrik: jy kan nie hoor as jy in jou gedagtes besig is om ’nantwoord te formuleer nie.
Terwyl jou maat praat, maak seker jy luister geduldig en aandagtig.
Dit kommunikeer ook aanvaarding en is ’n kragtige manier om die band tussen jou en jou maat te versterk, wanneer jy net luister.
Wenk:
Let op wanneer jou maat oor iets praat wat vir hom belangrik is. Sit jou foon neer, skakel die TV af – verminder enige vorm van afleiding. Maak oogkontak, en let op sy lyftaal. Reageer eers wanneer hy heeltemal klaar gepraat is, en moet hom nie onderbreek nie.
4. Liggaamstaal – die taal van jou lyf
90% van alle kommunikasie is nie-verbaal en vind plaas deur die gebruik van liggaamstaal. En hoewel ’n tydskrifartikel nie genoeg spasie bevat om van jou ’n ekspert op jou maat se liggaamstaal te maak nie, kan ons jou tog help om jou eie liggaamstaal te verander sodat jou maat makliker met jou kan kommunikeer en gesels. Onthou: so dikwels wil ons ons maats verander, terwyl ons eintlik self werk moet maak daarvan om te verander.
Wenk:
Let op daarna om ’n gemaklike, oop postuur te behou wanneer jou maat met jou praat. Leun effens vorentoe, maak oogkontak.
5. As jy nie verstaan nie – vra.
Dit gebeur so dikwels dat ons onseker is nadat ons maat iets genoem het, maar vir die meeste van ons laat toe dat ons eie gedagtes en idees die prentjie inkleur, en dan kry ons dikwels, die kat aan die stert beet. Dalk is dit trots, of die vrees om verkeerd te wees, maar wat dit ookal is, dit dien nie jou huwelik nie!
Wenk:
Wanneer jy onseker is, vra jou maat of jy reg verstaan of gehoor het, deur dit wat jy dink jy gehoor het, terug te herhaal en te vra of jy hulle reg verstaan. So skep jy die geleentheid vir hulle om jou reg te help, en misverstande vinnig uit te klaar.
Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com